Ouers kan volgens kenners hul kinders tydens ’n li
Ouers kan volgens kenners hul kinders tydens ’n liefdestelleurstelling ondersteun sonder om onvanpas in te gryp en in te meng. Respek is die wagwoord. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jou kind se hart is in stukke – en dit voel vir jou of joune óók vir haar kan breek. En dit omdat sy in die liefde verlaat is...
Sy voel terneergedruk oor die einde van haar jong verhouding, en dit maak nie saak wát jy sê of doen nie, sy bly dink sy het die liefde van haar lewe verloor.

Jy’s skoon vies vir die outjie wat haar versaak het – en as jy kon, sou jy hom sommer ’n paar kwaai woorde toesnou...
Hoe gemaak as jou kind die eerste keer ’n seer liefdesteleeurstelling moet verwerk – wat doen jy, en wat moet jy liefs nie doen nie?

Notas wat deur ’n gegriefde ma by ’n laerskool in
Notas wat deur ’n gegriefde ma by ’n laerskool in Potchefstroom deur die draad gegooi is om die nuwe liefde van haar 13-jarige dogter se eks sleg te sê. Foto: Verskaf

Huisgenoot het onlangs berig oor die ma van ’n 13-jarige leerder van ’n laerskool in Potchefstroom wat probeer ingryp het nadat haar dogter se kêrel met haar uitgemaak en ’n nuwe verhouding met ’n ander laerskoolmeisie aangeknoop het.  

'n Pakkie wat glo by 'n skool in Potchefstroom afg
'n Pakkie wat glo by 'n skool in Potchefstroom afgelewer is. Foto: Verskaf

Die meisie se ma kon dit nie meer verduur om haar kind te sien swaarkry nie, toe “knak” sy een oggend in Junie en laai briewe by die skool af waarop sy haar dogter se eks se nuwe meisie lelike dinge toesnou.

Tog moet die boodskap duidelik wees: Die lewe kan weer pret en “normaal” wees sonder om gekys te wees.

Oor dié onbesonne daad is sy nou glo bitter spyt – sy het op die harde manier geleer daar is grense wat ouers eerder nie moet oorsteek nie, al kry hulle hóé seer vir hul kind se onthalwe.

Een van die notas wat deur ’n gegriefde ma by ’n l
Een van die notas wat deur ’n gegriefde ma by ’n laerskool in Potchefstroom deur die draad gegooi is om die nuwe liefde van haar 13- jarige dogter se eks sleg te sê. Foto: Verskaf

Maar wat staan ouers eerder te doen as hul spruit se hart gebreek word?

“Ek dink ouers moet op hul eie emosionele reaksie let wanneer so iets met hul kind gebeur,” sê dr. Elize Morkel, ’n sielkundige van Somerset-Wes.

Hulle moet besef dat al is jy enkellopend, beteken dit nie jy is alleen nie

“Doen selfondersoek sodat jy jou eie teleurstelling, woede, vernedering en hartseer erken. Dit is ook belangrik om jouself daaraan te herinner dat jou kind leer en groei deur teleurstellings, want die lewe is vol teleurstellings.”

’n Ouer se rol is om steun en gesonde perspektief te bied, sê Gielie Hoffman, ’n leierskapskonsultant by skole en universiteite. Jy kan nie altyd die regmaker wees wat alles oplos en uitsorteer nie, al wil jy hóé graag. . .

Huisgenoot het by kenners gaan aanklop vir raad hoe jy jou kind kan ondersteun wanneer hulle ’n groot liefdesteleurstelling moet verwerk.

RESPEKTEER EMOSIES EN BIED STEUN

Gee erkenning aan die pyn en hartseer wat jou kind ervaar, is Elize se raad. Sê iets soos: “Ai, ek kan sien jou hart is baie seer.”

Maar vermy trooswoorde soos: “Daar’s baie visse in die see,” of: “Dit was net kalwerliefde; dit sal oorwaai.”

Sulke opmerkings maak jou kind se pyn en verlies as minder af. Dit is disrespekvol en sal ’n afstand tussen julle skep op ’n tyd dat jou kind juis jou liefde en begrip nodig het, verduidelik Elize.

As ouers gereeld met hul kinders oor verhoudings gesels, skep dit ’n gemaklike ruimte waarin kinders veilig sal voel wanneer hulle wel die dag hulp nodig het.


Jy kan wel oor teleurstellings gesels en sê dit maak nie saak hoe goed jy iets beplan nie, daar is altyd ’n kans dat dinge anders sal verloop, sê Gielie.

As ouers gereeld met hul kinders oor verhoudings gesels, skep dit ’n gemaklike ruimte waarin kinders veilig sal voel wanneer hulle wel die dag hulp nodig het, voeg hy by.

En wat as jou kind nie hul hart teenoor jou wil uitpraat nie?

Dan moet ouers dit aanvaar, sê Chandra Valab, ’n maatskaplike werker by The Family Life Centre in Lenasia, Johannesburg. As jou kind gemakliker voel om met betroubare vriende of familielede daaroor te gesels, moedig hulle aan om dit te doen.

Maar verseker hulle van jou beskikbaarheid en ondersteun as hulle jou nodig het.

MOENIE GRENSE OORSKRY NIE

As jou kind nie self vir jou vertel dat die verhouding verby is nie, kan jy sê jy merk op dat sy of hy hartseer lyk of nie meer so baie oor die maat praat nie, stel Elize voor.

Let op gedrag wat verander of daarop kan dui dat jou kind pyn en teleurstelling ervaar. Dan kan jy vra of hy of sy jou wil vertel wat gebeur het.

Al wat ’n ouer kan doen, is om sagkens leiding te gee met liefde en ondersteuning sonder om oor te vat en in te meng.

“Veral tieners wil gewoonlik net hê jy moet luister, sonder om in die rede te val of jou eie mening en raad te gee,” sê Chandra.

“Al wat ’n ouer kan doen, is om sagkens leiding te gee met liefde en ondersteuning sonder om oor te vat en in te meng,” is haar raad.

“Ouers kan voel dat daar iewers iemand is wat geblameer moet word wanneer hulle sien hoe hul kind ly,” sê Elize, maar sy waarsku dat dit geen troos bied om jou kind se eks of dié se nuwe maat sleg te maak nie.

Moet ook nie probeer ontleed waarom hul verhouding skeefgeloop het nie. “Dit gee jou kind die indruk dat dit sy of haar skuld is en dat dit nie sou gebeur het as hulle net anders opgetree het nie, verduidelik sy.

Maar hoe gemaak as jou kind die teleurstelling moet verwerk, én dan boonop boeliegedrag of verwerping deur ander maats moet verduur?

Elize raai ouers af om in te meng of by die skool daaroor te gaan kla.

“Ek sou eerder self met my kind praat oor hoe so ’n beëindiging van ’n verhouding die slegste en die beste in mense na vore bring, en hoeveel beter dit ’n mens laat voel as jy nie met wraak of bitterheid optree nie, maar eerder jou emosies op ander maniere kanaliseer.”

RUIMTE OM TE ROU

Die rouproses behels gevoelens van hartseer, verlies, ontkenning, verraad, woede, isolasie en aanvaarding, sê Chandra. Dis normaal vir ’n kind om ’n wipwarit van emosies te ervaar. Wees beskikbaar en geduldig.

Laat die kind toe om sy gevoelens te ervaar, is Gielie se raad. Begin gesels oor wat gebeur het, maar sonder om hulle in selfbejammering te laat verval.

“Bied ondersteuning. Soms beteken dit om hulle alleen te los, soms om hulle te troos, en soms om hul aandag af te lei en iets prakties te doen wat hulle sal geniet. Laat jou kind se gedrag jou lei. Eers later kan ’n mens oor die verhouding praat en wat daaruit geleer kan word.”

HELP DIE BALANS HERSTEL

Tieners se selfvertroue kan ’n gevoelige knou kry wanneer hulle afgesê word. Help hulle om weer selfvertroue op te bou deur hulle aan ander betekenisvolle verhoudings in hul lewe te herinner, of dinge waarmee hulle suksesvol is, stel Gielie voor.

Die lewe kan weer pret en “normaal” wees sonder om gekys te wees.

Ook maats wat omgee, kan ’n kind se selfvertroue ’n hupstoot help gee en die gevoel van verlies balanseer. Moedig uitstappies, kuiers en gesprekke met maats aan, beveel Elize aan.

Kinders moet weet dat hulle weer liefde sal vind, sê Chandra. “Wanneer en as dit gepas is, kan ouers hul eie ervarings deel.”

Tog moet die boodskap duidelik wees: Die lewe kan weer pret en “normaal” wees sonder om gekys te wees. Al is jy enkellopend, beteken dit nie jy’s alleen nie.

’N BLAASKANS VAN TEGNOLOGIE

Baie tieners se lewe is met die sosiale media verweef en hulle sal dadelik hul verhoudingstatus op Facebook wil bywerk. Ouers kan gerus die voordele om ’n bietjie daarvan weg te breek met hul kinders bespreek. “Dit sal ook enige skadelike kommentaar voorkom,” sê Chandra.

Dit kan die pyn vererger om die eks se doen en late obsessief in die sosiale media dop te hou. Dit is goed om hom of haar eerder vir ’n ruk te blokkeer om emosionele afstand te skep, meen Elize.

HULP BIED HOOP

“Dit is moontlik dat jongmense klinies depressief kan raak, en selfmoord is dan ’n risiko,” waarsku Elize. “In so ’n geval is professionele hulp baie belangrik.”

Van die tekens waarop ouers moet let, is slaapsteurings, ’n gebrek aan eetlus, onttrekking van mense, die staak van aktiwiteite wat voorheen genot verskaf het, ’n insinking in skoolprestasie weens konsentrasieprobleme, hartseer, tamheid, lusteloosheid, prikkelbaarheid en woede.

Ook vir die ouers kan dit help om met ’n vertroueling oor hul gevoelens te gesels “om daardeur ook perspektief te kry en te kalmeer”, sê Elize.

Want al klop ’n ouerhart warm vir ’n kind wat seergekry het, moet jy koelkop bly om waarlik te kan help.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe