Tussen bekende vakke soos wiskunde, weten­skap en geskiedenis op die skoolrooster deur maak ’n splinternuwe vak binnekort sy verskyning in Britse skole – en dít oor ’n onderwerp wat in ouers se skooldae nog iets ongekends was.

Mindfulness gaan as vak by tot 370 skole in Engeland ingevoer word as deel van ’n projek om die psigiese gesondheid van leerders te probeer verbeter, het die Britse regering onlangs aangekondig.

Dit behels dat dié kinders in skooltyd ontspanningstegnieke, asemhalingsoefeninge en ander metodes sal aanleer om hulle “hul emosies te help reguleer”, lui die verklaring wat deur die Britse owerheid uitgereik is. 

Daarmee word mindfulness van ’n gewilde gonswoord tot ’n studieveld in skole verhef. Met dié twee jaar lange navorsingsprojek wil die Britte kyk watter benadering “in ’n snel veranderde wêreld” die beste vir kinders sal werk. 

In Afrikaans was daar al pogings om die woord te vertaal – onder meer met “aandagtigheid” en “bewustheid” – maar die woord mindfulness word algemeen gebruik.

In die 21ste eeu met sy stres en sosiale en tegnologiese uitdagings word groter eise aan die jeug gestel as aan vorige generasies, glo sommige kenners.

ontspanning,joga
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die beoefening van mindfulness kan moontlik help keer dat kinders oorwel­dig voel, en hulle leer hoe om asem te skep en te dink voor hulle reageer, glo dié kenners.

Dit verbeter boonop konsentrasie en kan met leerprobleme help.

Ook in ’n hand vol Suid-Afrikaanse skole het kinders al met mindfulness kennisgemaak danksy ’n projek van die nie­regeringsorganisasie Wellbeing in Schools and Education (WISE).

“Ons bied slypskole aan vir opvoeders en vir volwassenes wat kinders grootmaak, en opleiding in mindfulness vorm deel daarvan,” sê dr. Carol Surya, ’n medestigter van WISE en sielkundige van Pletten­bergbaai. Hoe kan kinders by mindfulness baat vind – en hoe kan jy jou kroos leer om dit toe te pas? 

Huisgenoot het by kenners gaan uitvind.

Hoekom is 'mindfulness' goed vir kinders? 

Mindfulness is ’n proses waarin jy jou aandag op die hede toespits deur op jou sensasies, gevoelens en omgewing te let. Jou gedagtes is ingestel op wat jy in die oomblik ervaar, nie op die toekoms of verlede nie. 

Jy beoefen dit met behulp van tegnieke soos asemhalings­oefeninge en meditasie, en met metodes wat ontspanning en fokus skep. 

Mindfulness vir kinders gaan daaroor dat hulle leer hoe om bewus te wees van wat hulle op daardie spesifieke oomblik voel, verduidelik dr. Arina Fourie, ’n kindersielkundige van Kaapstad.

“As ’n kind byvoorbeeld angstig is oor die eksamen wat hy moet skryf, moet hy mindful raak oor wat hy beleef sodat hy dan kan bepaal hoe hy daarop gaan reageer. Dit is hoe jy die brein leer om situasies anders te hanteer.” 

“Daar word altyd vir kinders op skool gesê om stil te sit of op te hou kriewel. Maar niemand wys ooit vir hulle hoe om dit te doen nie.”

En dis nie sommer net trooswoordjies nie – dis wetenskap. Navorsers soos dr. Dan Siegal, ’n Amerikaanse professor in kliniese psigiatrie, het bevind mindfulness kan nuwe neurologiese paadjies in die brein laat vorm. 

Mindfulness het die vermoë om amper ’n soort brug te bou tussen die deel in jou brein wat jou emosies beheer en die deel waar jou gedagtes gesetel is,” verduidelik Carol.

“Die brein verkeer dan in ’n beter toestand om situasies te hanteer pleks daarvan om daardeur oorweldig te word.”

Mindfulness kan ook met dissipline in die klaskamer help.

“Daar word altyd vir kinders op skool gesê om stil te sit, te kalmeer of op te hou kriewel. Maar niemand wys ooit vir hulle hoe om dit te doen nie,” sê Jeanne Welsh, ’n Suid-Afrikaanse mindfulness-praktisyn wat by skole in die buiteland as afrigter hierin werk.

Die oplossing vir dié dilemma is om kinders te leer om hulself te reguleer, en dit gaan hand aan hand met mindfulness.

“Self­re­gulering help jou om jou emosies te bestuur en gee vir jou daardie ruspouse tussen iets wat gebeur en hoe jy daarop reageer,” verduidelik sy.

Mindfulness kan ook help om woedeuitbarstings te ontlont. Kinders en tieners reageer soms met woede en frustrasie wanneer hulle sukkel om hul gevoelens te verstaan, verwerk of verwoord.

Wanneer hulle mindfulness toepas, help dit hulle om te verstaan wat hulle voel en dit kan hulle weer help om hul gedrag te bepaal en ­gepas op te tree, sê Arina. 

seun,ontspan
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hoe verduidelik jy die konsep aan jou kind? 

Wanneer Carol met kinders werk, verduidelik sy aan hulle die waarde van mindfulness deur die liggaam se senuweestelsel met ’n motor se brandstof­pedaal en remme te vergelyk.

Sy verduidelik jy trap die “brandstof­pedaal” wanneer jy onder stres verkeer en daardie gedeelte van jou senuwee­stelsel geaktiveer word wat jou gereed- maak vir aksie, om teen ’n bedrieging te veg of daarvan te vlug. Dit help jou om te fokus en op te tree. 

Gewoonlik sal jou liggaam ná die tyd natuurlik “rem aanslaan” deur daardie deel van jou senuweestelsel te aktiveer wat jou laat ontspan en jou liggaam na ’n toestand van rus laat terugkeer. 

Maar in die moderne wêreld is daar deesdae net te veel stres, sê Carol. 

Dit beteken daardie gedeelte van ons senuweestelsel wat gereedmaak vir aksie word te veel geaktiveer en ons kry nooit kans om waarlik te ontspan nie.

Dit is soos om heeltyd voet in die hoek te sit en nooit die rempedaal te gebruik nie, verduidelik Carol.

Kinders kan leer hoe om self die “rempedaal” te trap as hulle mindfulness met behulp van speletjies of tegnieke leer ­beoefen. 

Ouers en onderwysers hoef boonop nie opleiding in mindfulness te ontvang voor hulle kinders daarvan vertel of daarmee help nie.

Jeanne stel egter voor dat hulle dit ook self beoefen om die proses en voordele te verstaan.

Oefeninge vir kleintjies

Kinders so jonk soos twee of drie jaar kan leer hoe om mindful te wees, sê ­Carol.

Met jonger kinders werk die oefeninge die beste as jy dit kort hou, gereeld oefen en in die vorm van ’n speletjie aanpak, beklemtoon Carol. 

  • Wanneer ons gestres is, haal ons hoof­saaklik asem vanuit die boonste deel van die longe. Leer jou kind hoe om diep asem te haal deur ’n teddiebeer of speelding op haar maag te sit. Wanneer sy inasem, moet die teddiebeer styg, en wanneer sy uitasem, moet dit daal. 
  • Laat jou kind eers aan ’n blom ruik en ’n kers doodblaas. Sê dan vir hom hy moet daarna in sy verbeelding aan ’n blom ruik en ’n kers doodblaas. Dit oefen diep asemhaling.
  • Sê vir jou kind sy moet stil raak en haar verbeel sy is ’n beer wat in ’n grot hiberneer. Die idee is dat haar lyfie tot rus kom en sy op ontspanning in die oomblik konsentreer. 
  • Vra haar sy moet haar verbeel daar is ’n muntstuk op haar voorkop. Laat haar haar vinger daarop hou terwyl sy in- en uitasem. Ná ’n rukkie kan sy haar vinger wegneem, maar sy moet steeds haar aandag op die muntstuk toespits. Dit help met fokus.
  • Laat jou kind verskillende diere naboots – met elke beweging moet hulle hul aandag toespits op die liggaamsdele wat ingespan word. Dit help jou kind om in­gestel te wees op sy sensasies.

Oefeninge vir tieners

In die storm-en-drang-jare kan mindfulness tieners help om koelkop te bly. Carol deel dié wenke vir tieners: 

  • Vra jou tiener om in sy guns­telingplek te sit. Hy moet sy oë toemaak en op sy asemhaling, die sensasie daarvan en sy gevoelens in die oomblik konsentreer sonder om sy gedagtes na die verlede of toekoms te laat afdwaal.
  • Laat hom ’n plek in die tuin of buitelug kies en 10 minute lank stadig kaalvoet daar rondloop terwyl hy sy aandag toespits op die sensasie van die grond en gras teen sy voete, die gevoel van die lug teen sy vel en alles wat hy sien en hoor. 
  • Stel voor dat jou tiener op ’n stuk papier krabbels maak met penne in verskillende kleure. Hy moet fokus op die gevoel van die pen op papier en kyk watter patrone gevorm word sonder om dit aktief te probeer bepaal.
  • Speel vir jou tiener strelende musiek sonder lirieke. Vra haar om te konsentreer op haar asemhaling en haar te verbeel sy is in die natuur of in ’n veilige ruimte.