‘Kan jy vir Mamma glimlag? Ja, jy k-a-a-a-n. Ja, jy k-a-a-a-n. Wat ’n slím kind! Só ’n slim kind! Wie is ’n slim kind? Jý is, ja, jý is!” As jy so met jou baba praat, kan jy jouself op die skouer klop: Jy is vlot in ouertaal. 

Ouertaal – oftewel parentese – is die taal wat ’n mens met babas praat, ’n metode waarmee jy oordrywing, herhaling en ’n hoë toonhoogte gebruik om met jou kleingoed te kommunikeer.

Ouertaal behels die gebruik van regte woorde pleks van die koetsjie-koe-, ghoe-ghoe-gha-gha-geluide van babataal – en volgens ’n nuwe wetenskaplike studie is dit die beste ding wat jy kan doen om jou baba se woordeskat te help ontwikkel.

In die studie deur die Institute for Learning and Brain Sciences (I-Labs) aan die Universiteit van Washington is ondersoek watter uitwerking dit op kinders se ontwikkeling het as hul ouers die waarde van ouertaal leer.

Die navorsers het 48 gesinne gevat en die helfte van hulle ouertaal met hul kinders leer praat. Teen 18 maande het die babas wat na ouertaal geluister het ’n woordeskat van 100 woorde gehad.

Die babas wat nie ouertaal gehoor het nie en net blootgestel is aan hul ouers se herhaling van brabbelbabataal, het 60 woorde geken.

“Ons dink nou ouertaal werk, want dis iets vir die bababrein om aan vas te hou – die hoër toonhoogte en stadiger tempo daarvan betrek babas sosiaal en nooi hulle om te reageer,” sê Patricia Kuhl, I-Labs se mededirekteur en professor in spraak- en gehoorwetenskap.

Wat presies is ouertaal?

Volgens die ondersoek is dit “ ’n amper universele praatstyl wat deur ’n hoër toonhoogte, stadiger tempo en oordrewe stembuiging gekenmerk word”.

Prof. Sarah Skeen, ’n spraak-en-taalterapeut en medeprofessor by die departement wêreldgesondheid aan die Universiteit Stellenbosch, gee ’n voorbeeld van ouertaal: “Hallooo, oulike TomTom, is jy ’n oulike baaaba, TomTom? Dra jy vandag ’n hoed, oulike baba? Is dit ’n mooi hoed wat jy ophet, TomTom? Wat ’n mooooi hoed dra jy, baba Tom.”

Deur die jare het dit duidelik geword dié praatstyl is algemeen in uiteenlopende kulture en taalgroepe. Daar is niks fout met babataal – die ghoe-ghoe-gha-gha-soort – nie, maar navorsing toon ouertaal help babas op langtermyn om taal aan te leer en te leer hoe om beurte te maak in gesprekke, voeg Sarah by.

Die Kaapstadse spraakterapeut Orla Johnson sê hoewel baba- en ouertaal albei met ’n hoë stemtoon en in ’n sangstem gepraat word, is ouertaal gewoonlik stadiger en meer herhalend.

“Die hoofverskil is babataal sluit dikwels baie lawwe geluide in, asook opgemaakte woorde en woorde wat opsetlik verkeerd uitgespreek word. Vir ouertaal word regte taal – woorde en sinne – gebruik. Die sinne is gewoonlik korter en baie daarvan word as vrae gefraseer,” sê Orla.

ouertaal
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wanneer moet jy met jou baba begin praat?

Orla sê babas kan al wanneer hulle nog in die baarmoeder is baat vind daarby om woorde te hoor. ’n Fetus begin van die tweede trimester af hoor en raak gewoond aan geluide wat na die baarmoeder deurdring, soos hul ma se stem en hartklop.

“Babas word gebore met die vermoë om hul ma se stem te herken,” verduidelik sy.

“Ouers moet ná die geboortedag aanhou om met hul baba te praat – in die vroeë weke terwyl hulle vasgehou word, en dan meer van aangesig tot aangesig namate hul baba oplettender word.”

Dit stimuleer nie net jou kind se brein en help om haar taalvaardigheid te ontwikkel nie – om haar ma se stem te hoor kan jou baba ook laat kalm voel, sê Sarah.

Hoe presies praat jy ouertaal?

Ouertaal gebeur dikwels spontaan wanneer volwassenes met babas praat, en jy sal dalk ’n bietjie vreemd klink as jy dit in enige ander konteks gebruik. Dit word deur ’n sangstem met ’n hoë toonhoogte gekenmerk.

“Die hoër toonhoogte het ’n beter kans om ’n baba se aandag te trek en te behou as dieper stemme en klanke met ’n laer toonhoogte,” verduidelik sy.

“Babas fokus ook op die ritme van die spraak, en mettertyd help dit hulle om te leer waar elke woord begin en eindig, asook die intonasiepatrone van die taal wat hulle hoor.”

Sarah sê dit is ook belangrik om op ’n vriendelike en saggeaarde manier met jou baba te praat.

“Jy moet na jou baba kyk en dikwels vir hom glimlag, veral wanneer hy deur oogkontak, brabbeltaal of ander geluidjies met jou probeer kommunikeer,” beveel sy aan.

ouertaal
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Langtermynvoordele

Vroeë taalvaardighede is belangrik, want dit bied boublokke vir babas se latere vermoë om te lees en skryf én om vriendskappe en verhoudings met mense te ontwikkel, sê Sarah.

“Dit geld nie net vir tydens hul kinderjare nie; dit hou steek dwarsdeur hul lewe. Dit voel dalk vir jou asof jy net in ’n snaakse babastem met jou baba praat, maar eintlik help jy hulle om ’n grondslag te lê vir sukses op skool en later in hul lewe.”

Orla sê babas leer baie oor taal nog voor hulle hul eerste woord sê. In hul allerbelangrike eerste jaar leer babas gesigsuitdrukkings identifiseer deur oogkontak te maak, en teen ses maande sal die meeste van hulle ’n ander mens se emosies uit hul stemtoon begin herken.

“Babas sal die medeklinker- en klinkerklanke wat gebruik word, begin herken en probeer sê. Hulle sal ook gespreksbeurte beter verstaan en verskillende stemme herken,” verduidelik Orla.

“Ouer babas sal eenvoudige bevele soos ‘nee’ begin verstaan. Dit is alles die grondslagvaardighede van taal.”

En dit berus by ouers om dié grondslag te lê. Wie is dus ’n hulpvaardige mamma? Jy is – ja, jy!

Leer die taal aan

Hier is wenke wat jy kan gebruik om te sorg jou kind kry taalontwikkeling onder die knie.

  • Gebruik van dag een af regte woorde en sinne met babas – babataal het net beperkte voordele. Deur met jou baba te praat oor die dinge wat hulle sien en wat om hulle aangaan, sal hulle woordeskat en ander komponente van taal begin aktiveer.
  • Om met hulle te praat, veral terwyl hulle vasgehou word of wanneer die baba en ouer na mekaar se gesigte kyk, help met die vorm van ’n band en ontwikkel ’n baba se voorverbale taalvaardighede.
  • Onthou, babas is nie volwassenes nie. Jy hoef nie met hulle soos met ’n grootmens te praat nie. Dit is belangrik om stadig te praat en eenvoudige woorde en baie herhaling te gebruik.
  • Een van die belangrikste dinge wat jy kan doen, is om vir jou baba te lees – selfs van hul geboortedag af.
  • Beperk hoeveel tyd jy op jou foon deurbring terwyl jy om jou baba is. Wanneer jy met jou foon besig is, is jy minder geneig om aan jou kind aandag te gee.
  • Praat oor al die goed wat jy doen terwyl jy dit doen (byvoorbeeld jou stappe wanneer jy hul doek omruil, hul kos berei of selfs motor bestuur).
  • Sing vir jou baba – ’n regte stem is beter as ’n opname. 
Ekstra bronne: guardian.com, sciencedaily.com