Die besluit of jy wil borsvoed of nie is 'n diep persoonlike een. As jy wel besluit om te borsvoed, kan dit jou onkant vang as dit moeiliker is as wat jy verwag het.  

Jenny Wright van Milk Matters, ’n melkbank in Kaapstad, het voorheen aan Huisgenoot vertel dat baie vroue verwag borsvoeding gaan maklik en natuurlik wees.

“Dit is ’n skok wanneer dit nie altyd die geval is nie – dit is ’n vaardigheid wat ma’s moet aanleer.”

Sy stel voor ma’s wat sukkel moet ’n laktasie-konsultant of goeie klinieksuster spreek.

“Hulle behoort jou te help verseker dat jou baba ordentlik heg en goed en gereeld genoeg drink sodat jou melkvoorraad goed is, jy gemaklik kan voed en jou baba gewig aansit.”

As enigeen voorstel dat jy ophou borsvoed, raai Jenny aan jy spreek ’n laktasie-konsultant.

“Daar is baie verkeerde inligting wat veroorsaak dat ma’s onnodig ophou borsvoed. Dikwels kan behoorlike borsvoedingsbestuur die probleem oplos.

”Ma’s en babas is ontwerp om te borsvoed, verduidelk Jenny.

“Dit is raar dat ’n ma om biologiese redes werklik nie kan borsvoed nie, of dat ’n baba nie moedersmelk kan hanteer nie. Met die regte hulp kan jy ook met sukses borsvoed en die geweldige bevrediging geniet van die kennis dat jy lewe en gesondheid aan jou baba gee sodat hulle die beste wegspringplek moontlik het.” 

Mites van borsvoeding

Moenie jou laat mislei deur vals inligting oor borsvoeding nie. 

Borsvoeding is seer, en gekraakte tepels is normaal

Borsvoeding moet nie pynlik wees nie. ’n Bietjie teerheid of ongemak in die eerste paar dae is dalk aanvaarbaar, maar enige pyn of skade aan die tepels is nie. Die baba wat nie reg heg nie, beskadig die tepel; dit moet dringend reggestel word.

Swak hegting veroorsaak pyn vir die ma en die baba sukkel om genoeg melk te kry (swak gewigstoename, onnodig lang voedings, die baba wat knieserig is oor die bors of dit weier), asook swak melktoevoer. Dit kan reggestel word!

Babas moet volgens ’n skedule gevoer word en om die tyd tussen voedings te rek, help hulle in ’n goeie roetine kom

Babas het klein magies en borsmelk verteer vinnig; hulle kan dus werklik in daardie eerste tyd elke uur of twee honger wees. Om in daardie tydperk gereeld te voer gaan jou melkproduksie aanhelp en gaan nie enige slegte gewoontes aanhelp nie.

My borste is te groot/klein om doeltreffend te borsvoed

Die borsgrootte is irrelevant. Borste is fabrieke eerder as bergingshouers en borsmelk word op ’n vraag-en-aanbod-stelsel vervaardig - hoe meer melk verwyder word, hoe meer word vervaardig.

Ek gaan nie kan borsvoed nie omdat my ma nie kon nie; dit is ’n familie-eienskap

Dinge kan anders wees vir jou omdat ons soveel meer oor borsvoeding weet. Jou ma het waarskynlik nie goeie ondersteuning gehad nie, of mense het haar dinge vertel wat ons nou weet nie goed is vir borsvoeding nie.

Borsvoeding beteken ek moet my dieet nou drasties inperk sodat my baba nie moet winde kry nie

Ma’s wat borsvoed moet ’n gesonde, gebalanseerde dieet volg en hoef nie sekere kosse te vermy nie. Al is dit moontlik, is dit ongewoon vir babas om geraak te wees deur wat hul ma eet.

Dit is waarskynliker dat die hegting die probleem is eerder as die ma se dieet. Alle babas het winde - dit is normaal.

My borsgevoede baba het water nodig wanneer dit warm is

’n Baba wat eksklusief geborsvoed word, so lank hulle wil en soveel hulle wil, gaan al die nodige vloeistof uit die melk kry en het nie water nodig nie.

As ek melk pomp, gaan ek presies weet hoeveel melk ek vervaardig

’n Baba kry melk baie beter uit ’n bors as wat ons kan. Hulle kry tot twee tot drie keer meer melk uit ’n voeding as wat ons kan uitpomp, dalk selfs meer omdat party vroue moeiliker pomp as ander.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.