’n Nuwe skooluniform en skryfbehoeftes is nie al wat dan nodig is nie. Lees hier hoe jy dié skuif makliker kan maak deur ’n paar eenvoudige wenke vir drie verskillende ouderdomsgroepe.

Die kleuterskoolkind

Voorskoolse kinders dink baie konkreet en sintuiglik, sê Natasha Botha,’n geregistreerde traumaberader by die Child Trauma-kliniek in Pretoria. Benadruk dus hoe mooi en lekker dit by die nuwe skool gaan wees.

Wat kan ek doen?

Gaan wys die skool vooraf vir jou kind. “Gaan een of twee keer om deur te loop, die kinders te sien speel, self ‘n bietjie te speel en die juffrouens te ontmoet,” sê Natasha.

Kinders van hierdie ouderdom hou ouers se reaksies fyn dop. Maak dus ’n groot bohaai oor die skool. “Sê byvoorbeeld: ‘Oe, kyk die groot glyplank!'” stel Natasha voor. “Maak jou kind opgewonde oor die nuwe klas waarin hulle gaan wees en laat hulle vir ouma, oupa en sommer almal van hul nuwe skool vertel.”

Onthou dat jong kinders dikwels nog nie ’n goeie begrip van tyd het nie. “Gebruik dus tasbare konsepte soos ‘Mamma kom kry jou ná happie- en slaaptyd vanmiddag,’” sê sy.

Natasha stel ook voor julle werk vooraf ’n spesiale groet uit om met skeidingsangs te help – “iets soos twee soene, ’n drukkie en ’n high five” is iets bekends op ’n oorweldigende oggend en laat die kind spesiaal voel.

’n Ouer se grootste taak is om seker te maak kinders voel veilig tuis, sê Henriëtte Joubert-Pienaar, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria.

“Buite die huis is die see baie rof, die huis moet gesien word en beleef word as 'n hawe en veilige toevlug, waar jou kind liefde, aanvaarding en versorging ontvang,” sê sy. Dan voel ’n nuwe skool aansienlik minder oorweldigend.

Maak verder seker jou kind se roetine tuis bly konstant, voeg Henriëtte by. Dit geld vir voor en ná skool. Hou slaaptyd en opstaantyd dieselfde, en volg dieselfde patroon wanneer julle soggens gereedmaak.

Dit skep standvastigheid waar hulle weet presies wat om te verwag én wat van hulle verwag word, wat angs kan verminder.

Die laerskoolkind

Laerskoolkinders kan meer onafhanklik funksioneer, maar jy moet steeds ’n prominente rol in hul skoolloopbaan speel. Doen moeite om ’n goeie verhouding met jou kinders se onderwysers te bou, sê Natasha en Henriëtte. Dit skep die ruimte om te gesels oor enige uitdagings wat jou kind beleef.

Wat kan ek doen?

Besoek die nuwe skool vooraf saam met jou kind en ontmoet die onderwysers.

“Maak seker jy beantwoord alle vrae wat jou kind mag hê en gee hul geleentheid om vir die onderwyser iets te vra, sou hulle wou,” sê Henriëtte.

Goeie kommunikasie met jou kind is die sleutel om hulle te help aanpas, verduidelik sy. “Begin ’n tradisie waar julle saans om die etenstafel oor jul hoogte- en laagtepunte gesels.”

Dis gehaltetyd saam wat jou kind eerstens laat veilig voel by die huis, en haar tweedens help om oor enige bekommernisse te praat. Maar onthou dit gaan net werk as die ouers die voorbeeld stel!

Sorg sover moontlik dat jou kind se fisiese voorkoms netjies is, voeg Henriëtte by. “Maak seker hul hare lyk goed, hulle is skoon en indien moontlik dat hulle die korrekte skooldrag het. Dit bou hul selfbeeld en sal hul aanpassing in die skool en tussen maats makliker maak.”

Laerskool beteken huiswerk, wat dikwels vir kinders ’n skok kan wees, sê Henriëtte verder. Bestuur dié nuutjie deur eerstens aan jou kind te verduidelik wat die doel daarvan is – om seker te maak hulle verstaan alles wat hulle by die skool geleer het, en om dít op hul eie te oefen.

“Moenie dat hulle langer as 20 minute sit en huiswerk doen nie. Skep dan eers ’n blaaskans waarin hulle ’n bietjie kan speel,” sê Henriette.

’n Vaste roetine is steeds goud werd: As huiswerk nou deel van hul dag is, help dit as hulle presies weet wanneer hulle daaraan moet werk, en wanneer hulle kan speel.

As jou kind van skole moes verander, kan sy grootste bekommernis wees of en hoe hy nuwe maats gaan maak.

Kyk of jy dalk ’n ouer van een van die kinders in sy nuwe klas kan opspoor – miskien kan die onderwyser jou help, of vra op die skool se Facebook-groep – en reël ’n speel-afspraak met die ma en kind voor die kwartaal begin. Daardie bekende gesig op die eerste dag kan wondere verrig om jou kind meer op sy gemak te laat voel.

Buitemuurse aktiwiteite kan ook baie help, sê Henriëtte. “Moedig hulle aan om aan iets waarvan hulle hou deel te neem, sodat hulle ook buite die klaskamer met ander kinders te doen kry en bande kan bou.” As jou spruit een aktiwiteit by haar vorige skool baie geniet het, vind vooraf uit of en wanneer dit by die nuwe skool aangebied word. Verduidelik dan vooraf dat dié skool ook dramaklasse of sokker het. Dit laat haar dalk meer uitsien na die skuif.

Maak ná omtrent ’n maand ’n afspraak met jou kind se onderwyser om te hoor hoe dit met die aanpassing gaan, voeg Natasha by.

Die hoërskoolkind

Om van laerskool na hoërskool te skuif, is vir baie kinders die grootste aanpassing, omdat dit baie onsekerhede inhou. “Skielik is hulle die jongste in die skool, die werkslading is baie meer en die eise wat aan kinders gestel word is hoër. Kinders moet ook nou meer selfstandig begin optree,” sê Natasha.

Wat kan ek doen?

As jou kind dit nog nie voorheen gedoen het nie, is dit nou ’n goeie tyd om haar meer verantwoordelikheid te laat neem vir die voorbereiding vir elke skooldag – soos om huiswerk te doen en haar sportsak te pak, sê Natasha. Dit leer haar groter onafhanklikheid en help haar om in beheer te voel van die nuwe fase.

Moet haar egter nie aan die diepkant ingooi nie: Sit byvoorbeeld saam met haar huiswerkboek en bespreek die week wat voorlê.

Bestee in hierdie fase baie tyd daaraan om goeie kommunikasie tussen julle aan te moedig. “Hoërskoolkinders heg gewoonlik meer waarde aan hul vriende se opinies as dié van hul ouers. Verseker dus ’n veilige omgewing as jy wil hê hulle moet met jou praat oor hul uitdagings,” sê Natasha.

Henriëtte maan ouers om te let op hoe hulle reageer wanneer hul hoërskoolkind hulle iets vertel. “As hy jou vertel van ’n probleem of maats wat hom negatief beïnvloed, moet jy fokus op ondersteuning, en nie oordeel nie. Wees baie versigtig dat jy nie oorreageer nie – dit kan jou kind se vertroue dalk breek.”

As julle nog nie so iets doen nie, begin ’n tradisie waar almal om die etenstafel ’n hoogte- en laagtepunt deel of iets noem waarvoor hulle dankbaar is. Dit hou die kommunikasiekanaal oop.

As jou kind weens ’n slegte ervaring by hul vorige skool na ’n nuwe een moes skuif, beklemtoon dat dit ’n nuwe begin is en dat jy hulle ondersteun, beveel Henriëtte aan.

Fokus verder op sy sterkpunte, voeg Natasha by. “Motiveer hom om dít vir die nuwe mense by die skool te demonstreer. Deel met jou kind ‘n tyd in jou lewe wat jy ook oor moes begin en wat jy daaruit geleer het. Kinders het nodig om te hoor hulle is nie alleen nie en deel van ’n span.”

Lees die gevaartekens

Hier is van die moontlike tekens dat iets nie pluis is by die skool nie.

Jou kind:

  • is angstig of buierig as iemand oor skool praat.
  • kla oormatig van hoofpyn en maagpyn.
  • is bang om skool toe te gaan.
  • se slaap- en/of eetpatrone verander.
  • kry nagmerries.
  • geniet nie meer aktiwiteite wat vooraf vir hul lekker was nie.
  • onttrek haar van die gesin en bring die meeste tyd alleen deur.

Praat met jou kind se onderwyser, graadhoof of hoof as jy bekommerd is, sodat julle die probleem kan identifiseer en hanteer. Bepaal die oorsaak – dit kan enigiets wees van jou kind wat sukkel met werkslading, tot dat hy dalk geboelie word.

’n Berader kan ook help as jou kind buitengewoon angstig of teruggetrokke geraak het.