Wen tot R28 000 met jou graadeentjie se grootskoolfoto!
Gaan jou kind die eerste keer “grootskool” toe? Skryf in vir ons Pep Graadeentjie-kompetisie vir ’n kans om kontantpryse vir jou en jou kind se skool te wen. Suid-Afrika se no. 1-skoolwinkel bied lae pryse en hope terug-skool-toe-besparings om jou kind uit te rus sonder om jou sak te ruk. Die kompetisie begin op 15 Januarie 2020. Lees hier hoe die kompetisie werk en wat jy moet doen om die lekker kontantpryse te wen.

SKEP ’N KONTROLELYS

Moeg daarvan om jouself te herhaal? Help jou kinders om ’n oggendrooster met ’n geïllustreerde kontrolelysie vas te stel.

Maak seker hulle weet wat jy elke oggend van hulle verwag en hou by die roetine, soos dat hulle voor ontbyt klaar aangetrek moet wees of hul tande direk daarna moet gaan borsel.

HOU VOORRAAD IN DIE KAR

Hou gesonde peuselhappies (soos ontbytstafies of kraakbeskuitjies), snesies, reënjasse, haarborsels en penne in jou motor.

So kan enigeen wat ontbyt misgeloop het steeds ’n peuselhappie inkry, hul huiswerkboek kan geteken word, hul haredos kan getem word en hulle kan voorbereid wees vir gure weer . . . al is die res van die oggend ’n totale ramp.

PAS DIE KNOPE OP

Keelvol van nuwe knope aan hemde en baadjies werk?

Wend ’n deursigtige lagie naellak oor die knoopdrade om te verhoed dat dit afbreek – en jou te help kophou.

KIES EEN BÊREPLEK

Vermy dit om kaste uit te pak of onder beddens of agter rusbanke te loer op soek na jou kind se sportskoene of hokkiestok.

Besluit op ’n bêreplek waar dinge altyd moet wees, en hamer die belangrikheid daarvan by jou kinders in. ’n Raakvat-ouer sal kan getuig hoe nuttig dit is.

VRIESKAS TOE!

Klop die gejaag soggens deur jou kind se toebroodjies vooraf te maak en te vries sodat dit gereed is wanneer jy dit benodig. Smeer botter op die brood en plaas die natste bestanddeel in die middel van die toebroodjie, want dit help keer dat die brood pap raak.

Sny die toebroodjies in die helfte en draai dit styf toe in kleefplastiek voor jy dit vries.

As jy dit die volgende dag benodig, plaas dit in die yskas om oornag te ontdooi. Maak net seker jy hou nie die toebroodjies langer as drie maande in die vrieskas nie.

blink planne, skooljaar
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

HOU EKSTRA SKRYFBEHOEFTES IN VOORRAAD

Jy ken al die storie: Dis 21:00 en jou kind onthou skielik hul taak moet die volgende dag ingelewer word en jy het nie gekleurde papier, gom of plakkers nie.

Voorkom ’n senu-ineenstorting deur ’n laai met voorraad vir sulke noodgevalle te hê.

Probeer om een item vir die laai te koop elke keer as jy gaan inkopies doen sodat jy altyd voorbereid is.

10 MINUTE OP ’N SLAG

Probeer 10 minute afstaan aan elke oggendtaak – 10 minute in die bad- kamer, 10 minute vir ontbyt, 10 minute vir aantrek.

Stel ’n wekker vir 10-minute-intervalle om dinge glad te laat verloop.

blink planne, skooljaar
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

BRONNE: YOUTUBE.COM, GOODHOUSEKEEPING.COM, TASTE.COM.AU, TWENTYTWOWORDS.COM, HUFFINGTONPOST.CO.UK 

Ons doen ons bes om goeie raad saam te stel, maar jy beproef die wenke op jou eie risiko. Huisgenoot aanvaar nie verantwoordelikheid vir enige skade of besering wat daardeur veroorsaak is nie.