Verlede jaar dié tyd was ouers weer terug in hul daaglikse roetine van kinders by die skool op- en aflaai ná die Paasvakansie. Maar weens die nasionale inperking om die verspreiding van die coronavirus te help keer lyk dinge vanjaar heeltemal anders.

Teen saktyd sou die inperking tot 16 April voortduur, maar baie ouers het gewonder of die skole dan weer sou heropen of steeds vir die afsienbare toekoms gesluit sou bly.

En in dié tyd vol vrae en onsekerheid probeer ouers landwyd sélf onderwysers se skoene vol staan.

Daar is gelukkig heelwat hulpbronne aanlyn beskikbaar waarmee ouers hul kinders kan bemagtig om in dié tyd te leer en studeer. Boonop is baie hiervan gratis beskikbaar.

Hier is van die gratis aanlyn hulpmiddels wat jy kan gebruik om jou kind se tydelike tuisskooltyd aan te vul.

Dit werk op rekenaars, tablette en slimfone.

AFRICA TEEN GEEKS

leer aanlyn
Ter illustrasie.

Deur dié projek se Facebookblad en YouTube-kanaal kan leerders na regstreekse klasse deur die animasie-onderwyseres Ms Zora kyk.

Die klasse word in Engels deur 1 000 vrywilliger-onderwysers en onder die toesig van Amanda Calitz, ’n dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand se arbeidsterapiedepartement, aangebied.

Die klasse dek wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde en word daagliks opgeneem en gelaai.

Kyk op die stigtersmaatskappy se webtuiste (africateengeeks.co.za) vir ’n nuttige program van die een uur lange klasse en wanneer dit uitgesaai word.

Kry dit hier

YouTube: Africa Teen Geeks, facebook.com/AfricaTeenGeeks

Geskikste vir gr. R tot 12 Jy hoef nie te registreer nie en elke video het ’n gebaretaaltolk.

WOLKSKOOL

wolkskool
Ter illustrasie.

Die Solidariteit-beweging se Skoleondersteuningsentrum het toegang tot dié leerplatform tot 30 Junie gratis gemaak.

Die platform bied lesinhoud deur professionele onderwysers in ’n verskeidenheid vakke vir gr. 4 tot 12 – videolesse, aflaaibare werkblaaie en ou vraestelle.

Daaglikse regstreekse videoklasse vir matrieks word ook aangebied. Die Wolkskool kos gewoonlik R95 per vak per maand of R145 per graad per maand.

Kry dit hier

wolkskool.co.za

Geskikste vir gr. 4 tot 12 Matrieks kan vorige regstreekse klasse op YouTube kyk of herkyk (soek “Die Wolkskool” op YouTube).

WORKSHEETCLOUD

leer aanlyn
Ter illustrasie.

Dié aanlyn opvoedkundige platform kos gewoonlik R130 per maand per kind, maar het teen druktyd ’n gratis proeftydperk van vyf maande aangebied.

Dit bied leerders drukbare Afrikaanse en Engelse kurrikulum-en-assesseringsbeleidsverklaring (KABV)-gegronde werkblaaie wat volgens kwartaal, graad en onderwerp ingedeel word.

Die app sien die werkblaaie outomaties na en gee onmiddellike terugvoer, wat jou kind help leer.

Hulle bied ook hersiening (in Afrikaans en Engels) vir die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se eksamen in wiskunde, wetenskap, geskiedenis, aardrykskunde en tale, asook aanlyn vaklesse wat vooraf opgeneem is.

Kry dit hier

worksheetcloud.com

Geskikste vir gr. 1 tot 12

Die gratis aflaaibare dokumente sluit ’n leë studierooster in wat jou kind sy eie kan maak, asook ’n lys met algemene eksamenterminologie.

Jy kan ook ’n ogie op jou kind se vordering hou danksy outomatiese verslae.

Daar is weeklikse bloginskrywings oor onderwerpe soos hoe om jou kind gemotiveer te hou asook wenke vir eksamen- voorbereiding – vir leerders en ook hul ouers.

Kry gratis videolesse
Gratis proeftydperk van vyf maande en gratis videolesse tydens die nasionale inperking.

VODACOM E-SCHOOL

leer aanlyn
Ter illustrasie.

Onderwysers en opvoedkundige sielkundiges bied inhoud om alle groot vakke in die openbare en privaatskoolleerplan aan te vul – KABV, Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) en IEB – beskikbaar as videolesse wat maklik is om te volg. Ná die lesse word vrae as “huiswerk” gestel.

Dis beskikbaar in verskeie tale en volledig KABV-gerig.

Alle materiaal is gratis, en Vodacom-kliënte betaal nie vir enige data wat hulle gebruik wanneer hulle die e-skool gebruik nie.

Kry dit hier

vodacom.mytopdog.co.za

Geskikste vir gr. R tot 12

Die Vodacom-e-skool beveel inhoud vir elke leerder se unieke sterk- en swak- punte aan gegrond op virtuele assesserings wat aanvanklik gedoen is.

Die inhoud is ook in verskeie Suid-Afrikaanse tale beskikbaar.

MINDSET LEARN

leer aanlyn
Ter illustrasie.

Die KABV-gerigte inhoud op dié platform fokus op wiskunde, wetenskap, sakestudie, rekeningkunde en ekonomie en is in Engels in video-formaat beskikbaar met PDF-notas en interaktiewe lesse.

Gebruik die nuttige soekfunksie op die webtuiste, waar die inhoud volgens vak, graad en kwartaal ingedeel is met skakels na video-opnames van die Mindset-TV-kanaal.

Kry dit hier

DStv-kanaal 319, OpenviewHD 134, learn.mindset.africa, youtube.com/user/MindsetLearn/videos

Geskikste vir gr. 10 tot 12

Daar is skakels na hersieningsvideo’s asook bykomende opvoedkundige programme soos The Big Idea wat op vooruitgang in die wetenskap en tegnologie fokus.

Jonger kinders het toegang tot “Big School”, die afdeling vir vroeë kinderontwikkeling.

Daar is ook ’n gratis hulpafdeling deur die Mindset Learn Xtra-app vir wanneer leerders vasbrand.

MINDSET POP

leer aanlyn
Ter illustrasie.

Die lesse op dié DStv-kanaal is op laerskoolleerders gemik en dek vakke soos geletterdheid, syfergeletterdheid, wiskunde, natuurwetenskap, lewensoriëntering, kuns en liggaamsopvoeding.

KABV-gegrond, maar in ooreenstemming met die Cambridge-leerplan.

Kry dit hier

DStv-kanaal 317, mindset.africa/mindset-pop

Geskikste vir gr. 4 tot 9 Hulle beplan ’n webtuiste wat aflaaibare werkblaaie gaan bied.

SIYAVULA

leer aanlyn
Ter illustrasie.

Die diens kos gewoonlik R189 per leerder per vak, maar die platform bied nou ’n gratis proeftydperk van twee maande, en as jy op die MTN- of Vodacom-netwerk is, sal die data wat jy op die webtuiste gebruik jou niks kos nie.

Standard Bank-kliënte kry ook 50% afslag op leerpakkette. Die fokus is op KABV- en IEB-gegronde wiskunde en fisiese wetenskap.

Vorige amptelike eksamenvraestelle word deur die jaar in digitale eksamens omskep en kinders kan teen hul eie pas werk.

Kry dit hier

siyavula.com

Geskikste vir gr. 8 tot 12

Jy kan gratis handboeke vir wetenskap en wiskunde vir gr. 4 tot 12 aflaai. Dis vryetoeganghulpbronne; jy kan dit dus met ander deel.

OLICO

leer aanlyn
Ter illustrasie.

Dié Engelse webtuiste is maklik om te gebruik en bied KABV-gerigte videoklasse. Jy kies jou graad en kry dan video’s wat volgens konsep ingedeel is (soos algebra, breuke of vergelykings).

Twee opsies: Die “key concepts”-opsie bied gestruktureerde klasse oor spesifieke konsepte as ’n kind ’n sekere vaardigheid wil slyp, terwyl die “open practice”-opsie leerders toelaat om enige afdeling of ’n sekere konsep te kies.

Kry dit hier

learn.olico.org

Geskikste vir gr. 7 tot 9

Leerders kan oefen met vasvratoetse wat op die eksamen en gestandaardiseerde toetsvrae gegrond is.

KHAN ACADEMY

leer aanlyn
Ter illustrasie.

Hoewel die Engelse inhoud op die VSA betrekking het, is die doelwit om inhoud te bied wat leerders wêreldwyd kan help.

Die span bestaan uit 150 onderwysers en wetenskaplikes wat met behulp van oefeninge en video’s ondersteuning in vakke soos wiskunde, wetenskap, rekenaarwetenskap, geskiedenis, programmering en ekonomie bied.

Kry dit hier

khanacademy.org

Geskikste vir voorskool tot gr. 8

Onder elke videoles is ’n kommentaarafdeling waar jy vrae kan stel. Dit het ook ’n raadafdeling.

Van die regering

Gaan na education.gov.za vir skakels na die volledige skoolleerplan, ou vraestelle, studiegidse, assesseringstake en leerondersteuningsmateriaal.

Daar is ook nuttige hulpbronne op die verskeie provinsiale webtuistes, soos wcedeportal.co.za en gauteng.gov.za – spesifiek vir leerders en hul ouers om tydens die inperkingstyd te gebruik.