Akademici by die Universiteit van Pennsilvanië het ’n groep van meer as 540 meisies en seuns tussen nege en 11 jaar oud in China bestudeer.

Die kinders het ’n vraelys ingevul oor hoe dikwels hulle die afgelope maand vis geëet het, asook die Chinese variasie van ’n IK-toets, genaamd die Wechsler Intelligence Scale for Children-Revised, afgelê. Hul ouers het vrae rakende die gehalte van slaap beantwoord het.

Hoër IK

Die navorsers het voorts bevind dat kinders wat aangedui het dat hulle elke week vis eet, se punte  in die IK-eksamens 4,8 hoër was as dié wat gesê het hulle eet “selde” of “nooit” vis.

Verhoogde inname van vis is boonop verbind met minder slaapversteurings, dus is dit ’n aanduiding van beter algehele slaapgehalte.

"Daar is ’n verband tussen te min slaap en antisosiale gedrag; en antisosiale gedrag word op sy beurt weer verbind met swak kognisie,” het prof. Adrian Raine gesê.  “Ons het bevind dat omega 3-aanvullings antisosiale gedrag verminder, dus is dit g’n wonder dat vis die wortel van die hele kwessie is nie.”

Die kenners meen die resultate dra by tot die toenemende bewyse dat die inname van vis positiewe voordele vir die gesondheid inhou, en dat dié feit meer geadverteer en bevorder behoort te word.

Vanaf 10 maande oud

Jennifer Pinto-Martin, die uitvoerende direkteur van Penn's Center for Public Health Initiatives, het ouers aangeraai om kinders vanaf die ouderdom van tien maande aan vis gewoond te maak, mits dit geen grate bevat nie en dit fyngemaak is.

"Indien die kind vroeg met die smaak kennis maak, is dit meer aanvaarbaar,” was haar mening. “Dit moet ’n doelgerigte poging wees, veral in ’n kultuur waar vis nie gewoonlik voorgesit of geruik word nie. Kinders is gevoelig vir geure. As hulle nie daaraan gewoond is nie, kan hulle dit moontlik verwerp.”

Die volledige resultate van die studie is in Scientific Reports gepubliseer.