Ouers en kinders in 'n russie.
Foto: Gallo Images/Getty Images

Jy hoor gereeld: Trou met iemand, dan trou jy met hul hele familie.  Die goeie (of die slegte) nuus is dat jy en jou maat se ouers deel is van die volle pakket.

’n Pakket wat óf kan bydra tot ’n wonderlike, verrykende verhouding óf een wat die lewe moeilik kan maak.  Kenners is dit eens: ’n Gesonde verhouding met jou skoonfamilie is noodsaaklik vir ’n gesonde verhouding met jou maat self.

Want ’n versuurde verhouding met jou eggenoot se ma of pa kan tot kwaai konflik lei wat eindelik onnodige druk op julle as egpaar plaas.  Maar tog gaan baie mense se geduld soms erg beproef word deur ’n ouer of skoonouer wat gereeld hul neus in jou sake steek.

Veral as dit die soort is wat jou wil voorsê hoe jy jou kinders moet dissiplineer, hoe jy jou huis moet inruim, of selfs hoe jy en jou geliefde jul geldsake moet bestuur.

Weet hulle dan nie jy is ’n grootmens wat vir jouself kan dink nie? 

Hoe kan ’n mens baas van jou eie lewe bly sonder om in die proses die inmengerige ouer of skoonouer se gevoelens seer te maak en jul verhouding te kelder?

Facebook Thumbnail
Facebook Thumbnail

Skoonma se raad

As ’n ouer ongevraagde raad aanbied, kan dit ’n volwasse kind se gevoel van selfstandigheid bedreig, sê dr. Rosa Bredekamp, ’n sielkundige en bemid- delaar van Durbanville, Kaapstad.  

En tog gebeur dit gereeld. Moenie dink dit maak jou familie ongewoon as daar effense spanning tussen jou en die ouer geslag is nie. “Spanning tussen ouers en volwasse kinders is taamlik standaard.”

Hulle bedoel dit meestal goed. “Sommige ouers raak oorbetrokke in hul kinders se lewe omdat hulle nie wil hê dat hul kinders foute in die lewe moet begaan nie en daarom oorbeskermend raak,” sê Rosa.

“Ander ouers het nou weer ongeleefde lewens en het dikwels sterk idees oor hul kinders se lewe omdat hulle hoop dat hul kinders die drome sal uitleef wat hulle nooit kon laat realiseer nie.

“As volwasse kind het jy jou eie individuele menings en identiteit, en jy en jou ouers mag maar van mekaar verskil. Moenie moed verloor as hulle nie alles wat jy in jou lewe doen, goedkeur nie en moenie terugdeins om te doen wat jou gelukkig maak net omdat jou ouers dit nie goedkeur nie.”

Die afgelope jaar het mense se lewe baie verander. Mense moet op talle terreine ’n nuwe manier van leef vind, en dit sluit in hoe hulle met hul familie oor die weg kom, sê Danie Nel, ’n sielkundige van Alberton, Gauteng.

“Sedert die covid-19-pandemie ’n jaar gelede uitgebreek het, het mense se vrye beweging ingrypend verander en ons het ’n balansversteuring ervaar in al die dele van ons lewe. Ons gesinslewe het ook deur balansaanpassings gegaan.”

Omdat families in dié tye meer op mekaar staatmaak vir emosionele en ander steun, is dit maklik vir party om oor die lyn te trap en te veel in hul familie se sake in te meng. 

Dit is onvermydelik dat dit meer druk plaas op die grense wat tussen jou en jou ouers of skoonouers gestel is.  Die eerste stap is om te identifiseer en te onderskei tussen gesonde verwagtinge en ongesonde beherende gedrag van jou ouer, meen Rosa.

“Dit is die taak van die volwasse kind om te besluit of hulle hul ouers se beherende gedrag kan verander, kan verbeter en of hulle dit verder maar kan duld.”

Dis belangrik vir jou geestes­gesondheid om te wee
Dis belangrik vir jou geestes­gesondheid om te weet waar die grense tussen jou en jou familie lê. Foto: Gallo Images/Getty Images

Waar lê jy die grens?

Dis belangrik vir jou geestesgesondheid om te weet waar die grense tussen jou en jou familie lê, sê Danie. Dalk waardeer jy jou ma of skoonma se raad oor hoe jy jou huis versier, maar nie oor hoe jy jou kinders dissiplineer nie.

Jy moet vir jouself duidelik besluit wat aanvaarbaar is en wat nie. En dan moet jy dit aan jou ouers en skoonouers duidelik maak waar daardie grense lê. “Grense definieer jou. As die grense in ’n verhouding nie as heilig beskou word nie, is daar tegnies nie ’n verhouding nie.

“Om ’n gesonde balans te vind tussen wat te veel en wat nét genoeg is, moet albei partye respek vir mekaar en mekaar se gevoelens hê. Weet dat julle van mekaar mag verskil en bou steeds saam aan tradisies wat die gesinsbalans sal versterk”. 

Die moeilike gesprek

As jy voel jou of jou maat se ouers meng te veel in, is ’n familiegesprek waarskynlik nodig, meen Danie.  Sodoende praat julle met jou ouers of skoonouers oor die dinge wat pla, eerder as om net agter hul rug oor hulle te praat. Dit kan moeilik wees om met ouers te praat en daardie grense te lê, juis omdat ouers deel is van jou familie en hulle jou grootgemaak het, sê Rosa.

“Dis natuurlik om kwaad of skuldig te voel wanneer jy probeer om onder die beheer van jou ouer te ontsnap.” Maar dit is beter om te praat as om dinge op te krop en ’n wrok op te bou.   

Dis belangrik dat julle so ’n gesprek mooi vooraf beplan en nie net in die hitte van die oomblik lostrek nie.

“Weet vooraf presies wat die boodskap is wat julle wil oordra sodat die gesprek nie uitrafel in irrelevante emosionele afdraaipaadjies nie,” waarsku Danie. 

‘Om ’n gesonde balans te vind tussen wat te veel en wat nét genoeg is, moet albei partye respek vir mekaar hê’

’n Tegniek wat volgens hom uitstekend werk, is die “ek/ons voel”- tegniek. Dit is ’n manier om te sê hoe julle oor iets spesifieks voel. Sê byvoorbeeld: “Ons voel hulpeloos as ons ongevraagd raad kry om ons huwelik te bestuur.

Ons voel ons sal self raad vra as ons die behoefte het.” Vermy die woorde “jy” en “julle”. As jy iets sê soos “Julle gee te veel raad”, kan dit maklik vir die skoonfamilie soos ’n aanval voel.

Volgens Rosa moet jy vooraf presies bepaal waarvan jy hou en waarvan nie en met jou ouers daaroor praat. “Laat hulle verstaan hoe jy hul rol in jou gesin sien en hoe hulle jou kan ondersteun.

“Dit moet versigtig hanteer word, want soms besef die ouers nie eens dat hul gedrag jou ontstel nie.”

Een goeie wenk is volgens Danie om baie aandag te gee aan die dinge wat julle wel saam met jul ouers doen sonder dat dit iemand pla, soos gedeelde verjaardag- en Kersvieringe.

As julle in dié tye vir mekaar moeite doen, sal jou ouers voel hulle word waardeer en sal hulle nie so seergemaak voel as julle hul raad met ander tye van die hand wys nie.

“Dit alles dra by tot ’n gevoel van welsyn en samehorigheid binne die gesin.” Rosa sê die goeie nuus is dat die spanning tussen ouers en kinders met die ouderdom afneem. En laastens meen sy ’n mens moenie die waarde van ’n humorsin onderskat nie.

Ouers en kinders wat weet hoe om te lag, selfs wanneer hulle gefrustreerd is, het ’n veel beter kans om hul verhouding in stand te hou ten spyte van geskille.