Dis al langer as 20 jaar gelede, maar ek onthou nog soos gister hoe dit was toe ek met my eersteling by die huis kom: die vreugde – en kort daarna die paniek omdat ek nie daarop voorbereid was om hierdie bondeltjie te versorg nie.

My man was so onvoorbereid soos ek en buitendien op pad na ’n buitelandse konferensie.

My ouers het oorsee gewoon, en hoewel my skoonouers naby was, was hulle nêrens te vinde nie. In daardie eerste weke was my emosies skoon op hol terwyl ek borsvoeding probeer baasraak, hopeloos te min geslaap en met loodvoete deur die dae en nagte gesleep het.

My nuwe rol as ma was baie moeiliker as wat ek verwag het, en gou-gou het ek begin glo ek haal nie die paal nie.

Ek het ernstig getwyfel oor alles wat ek moes en nie moes doen nie. Boonop het ek skuldig gevoel omdat ek nie hierdie kosbare tyd kon geniet nie.

Dit het ook nie gehelp om te sien hoe die ma’s en pa’s om my blykbaar moeiteloos hul ouerlike pligte nakom nie. Eers later sou ek uitvind hulle het maar net so gesukkel soos ek; sommige het amper geknak onder die druk om die volmaakte ouer te wees.

Dis die kruks van die saak: Vandat jou baba gebore word, is jy veronderstel om skielik ’n raakvat-ouer te wees.

Dit begin met winde uitvryf, maar dan raak jou uitdagings ál groter: wiskundehuiswerk, skermtyd wat beperk moet word, seksvoorligting, goeie morele waardes, noem maar op.

Dit kan ’n mens oorweldig – in elke fase van jou kind se lewe.

Die beste raad wat ek al gekry het, was: “Moenie so hard op jouself wees nie.”

Ja, ons wil net die beste vir ons kinders hê en moet ’n goeie voorbeeld stel, maar ons is net mens en moet aanvaar ons sal of hóéf nooit volmaak te wees nie.

'n Deel van die probleem is al die raad wat deesdae beskikbaar is en waarmee ouers gedurig gebombardeer word.

“Dit klink asof ’n mens sekere metodes of formules moet volg om ’n goed aangepaste kind groot te maak,” sê Nompumelelo Kubeka, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg.

“Ongelukkig kan ons teleurgestel word as ons ouers aan dié maatstawwe meet.”

Nompumelelo is ’n voorstander van “goed genoeg”-ouerskap, ’n teorie waarmee die Britse pediater en psigoanalis Donald Woods Winnicott al in die 1960’s vorendag gekom het.

Hiervolgens bewys ouers hul kinders eintlik ’n guns deur hulle in sekere opsigte in die steek te laat; nie wat wesenlike sake betref nie, maar stel jou kind gerus in minder belangrike opsigte teleur.

Ons word wel algaande ouers wat goed genoeg is vir ons kinders. Eers reageer ’n mens op elke hoesie en huiltjie, en dit laat kinders veilig en gekoester voel.

Maar dis onmoontlik om hul hele kindertyd lank aanwesig te wees in elke oomblik van hul lewe – en bont te staan vir die geringste behoeftes.

Soms mag jy hulle maar “in die steek laat”. Maar as ons hulle soms faal – soos om nie dadelik op ’n huilbui te reageer nie – begin hulle gelukkig leer alles wentel nie om hulle nie, en die lewe hou ook teleurstellings in.

Hulle leer hulle sal ondanks hul frustrasie oorleef en uitdagings en terugslae kan oorkom. Dit help hulle in die wêreld aanpas. Eintlik kan ’n “perfekte ouer” kinders benadeel.

As hulle byvoorbeeld in watte toegedraai word en nooit hartseer of irritasie ervaar nie, sal hulle eendag sukkel met die klappe van die lewe.

Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy mensliker is en foute maak, leer jy jou kinders taai wees; daarom is “goed genoeg” die beste wat jy kan wees.

Omdat “die perfekte ouer” nie bestaan nie, kry ’n mens ook nie ’n handleiding vir ouerskap nie, sê Nompumelelo.

“Ouerskap wat goed genoeg is, ontwikkel terwyl die ouer en die kind leer om veilig, gelukkig en suksesvol te voel.”

Die strewe om die perfekte ma te wees doen moontlik meer kwaad as goed, sê Sarah Schoppe-Sullivan, ’n professor in menslike wetenskap en sielkunde aan die Ohio-staatsuniversiteit in Amerika.

In haar navorsing het sy bevind ma’s het minder selfvertroue wanneer hulle hulle bekommer oor wat mense van hul ouerskapsvermoëns dink.

Die sosiale media het sake net vererger. Ons sien heeltyd hoe perfek ander se gesinslewe is en meet ons daaraan.

Ons weet die foto’s op Facebook en Instagram wys net die blink kant (wat selfs blinker gephotoshop word); tog voel ons sleg dat ons so afsteek daarby.

’n Studie in 2016 deur Baby Dove Real Mothers Heard en die Edelman-intelligensieopname van 2017 het getoon 84% van ma’s glo die stereotipe van die “perfekte ma” is ’n uitgediende norm; tog ervaar nege uit 10 druk om perfek te wees.

Soos Sarah sê: Die beste wat ons vir onsself en ons kinders kan doen, is om onsself toe te laat om onvolmaak te wees.

Wenke: Wees so ‘goed genoeg’

Foto: Gallo Images/Getty Images

1. Wees die verantwoordelike ouer, nie die “goeie” een nie.

“Goeie” ouers is so betrokke by hul kinders, hulle doen alles vir hulle en word inderwaarheid hul slaaf.

“Die bedoeling is dalk goed, maar dit ontneem die kind sy selfvertroue en onafhanklikheid,” sê die sielkundige Nompumelelo Kubeka.

Verantwoordelike ouers is ferm sonder om oordonderend te wees en leer hul kinders wedersydse respek.

As jou kinders dus gereeld speelgoed verloor, moet dit nie vir hulle soek nie. Laat hulle besluit of hulle die speelgoed op hul plek wil bêre of elke keer daarna wil soek.

2. Moedig hulle aan pleks van om hulle te prys.

Prys beteken daar is ’n kompetisie wat gewen moet word deur die beste te wees.

“Aanmoediging word gegee vir inspanning of verbetering, hoe gering ook al, en laat die klem op die kind se sterk punte val,” sê die Johannesburgse kliniese sielkundige Charity Mkone.

“Dit help hulle hulself aanvaar en die moed ontwikkel om moeilike take aan te durf.”

Sy sê: “ ‘Jy het ’n A vir wiskunde gekry – dis wonderlik!’ is die soort aanprysing wat hulle kan laat voel hulle het net waarde as hulle ’n A behaal.

" ‘Jy lyk baie in jou skik dat jy ’n A vir wiskunde gekry het,’ is aanmoediging met die klem op hoe die kind voel.”

Jou kind moet byvoorbeeld sy takies klaarmaak voor hy kan uitgaan, maar hy smeek jou om voortydig te loop.

Pleks van onderhandel of stry, kan jy die logiese gevolge van sy gedrag verduidelik om die gesprek stop te sit.

Dit help die kind meer verantwoordelikheid leer en voortaan beter besluite neem.

3. Stel realistiese doelwitte – vir jou en jou kinders.

“Wees dapper genoeg om onvolmaak te wees en gun hulle dit om ook onvolmaak te wees,” sê Charity.

“Moenie verwag dat die beddens perfek opgemaak word of dat alles glad sal verloop nie.”

4. Wees goed vir jouself.

Wanneer iets in jou kind se lewe skeefloop, voel jy dalk skuldig.

“Dit sal nie help nie, want sulke gevoelens word vereenselwig met depressie, angstigheid en die begeerte om ander te beheer,” sê Charity.

Natuurlik hou niemand daarvan wanneer daar fout kom nie, maar dis nie die einde van die wêreld nie.