Die groepie tieners vee hul hande senuagtig aan hul klere af voor hulle op die verhoog stap. Maar dis nie net die deelnemers wat gespanne is nie; agter die skerms staan ’n groep ma’s wat elkeen die beste vir hul bloedjie wil hê . . .

Dié jong aspirantakteurs op die verhoog is as deel van die VIA-werklikheidsreeks Drama-mammas aanvaar vir die Live Arts Little Theatre in Johannesburg, waar hulle weekliks aan verskillende uitdagings moet deelneem. Die wenner wen ’n internskap by ’n teater in die VSA.

Maar die ander belangrike rolspelers in die reeks is elke deelnemer se ma: ­Elkeen glo haar kind is die heel beste – en skroom nie om die drama-afrigter Louw Breytenbach te laat verstaan wanneer haar kind na haar mening ingeloop word nie.

Maar dit bly ’n werk­likheid – ouers kan soms ’n handvol wees.

Boonop sit die ma’s se teenwoordigheid nog druk op die deel­nemers, by wie die spanning reeds hoog loop – ’n resep vir groot drama.

Party van die “ontploffings” tussen kinders, ouers en die afrigter in die reeks is ’n bietjie “opgeblaas”, erken Louw, aanbieder van die reeks.

“Maar dit bly ’n werk­likheid – ouers kan soms ’n handvol wees.”

Ouers se ondersteuning van hul kinders se drome is belangrik, sê Louw – of dit nou agter die verhoog, langs die sportveld of met skoolwerk is.

Ouers moet seker maak hulle leef hulle slegs om hu
Ouers moet seker maak hulle leef hulle slegs om hul kind se ont­halwe in die aktiwiteit in en nie omdat hulle hoop hy sal hul eie onvervulde drome uitleef of bereik nie, maan kundiges. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ek glo die waarde van ondersteuning moet nooit onderskat word nie. Maar ondersteuning moenie as slegte druk ervaar word nie; dit moet liewer ’n veilige hand wees wat kinders oor die wankelrige hangbrug van onsekerheid en ontwikkeling lei.”

Maar hoe handhaaf ’n ouer die balans tussen gesonde ondersteuning en oormatige, ongesonde betrokkenheid by ’n kind se buitemuurse aktiwiteite?

Wanneer raak ma of pa net te mededingend en so oorbetrokke dat dit op onnodige drama afstuur?

Ons het by kundiges gaan aanklop vir raad.

SO KRY JY DIE REGTE BALANS

As dit by die emosionele ondersteuning van ’n kind se buitemuurse bedrywig­hede kom, is balans die wagwoord, sê prof. Johnnie Hay, direkteur van die skool vir psigososiale onderwys aan die Noordwes-universiteit.

’n Ouer moet die kind se vangnet wees as dit nie so goed gaan nie, maar nie die spinnerak waarin die kind vassit om die ouer se idea­le of drome te behaal nie.

“Oorbetrokkenheid bring dikwels mee dat kinders nie metter­tyd op hul eie bene kan staan wanneer dit by die aktiwiteit kom nie en afhanklik van jou as ouer bly,” sê hy.

Marinel Theron, ’n lewensoriën­teringsonderwyser aan die Hoërskool Swartland op Malmesbury, stem saam en sê so ’n kind sal moontlik later sonder ’n ouer se bystand sukkel. Dit kan weer tot ’n swak selfbeeld lei.

“ ’n Ouer moet die kind se vangnet wees as dit nie so goed gaan nie, maar nie die spinnerak waarin die kind vassit om die ouer se idea­le of drome te behaal nie,” sê Marinel.

Maak dus seker jy leef jou slegs om jou kind se onthalwe in die aktiwiteit in en nie omdat jy hoop hy sal jou eie onvervulde drome uitleef of bereik nie.

Daar is nie ’n wenresep wat vir elke kind ewe goed sal werk nie.

Maar die teenkant is ook waar, maan kundiges: ’n Mens kan ook skade berokken as jy nie betrokke genoeg is nie.

“Dan beleef jou kind dat jy nie voldoende in hulle en die bepaalde aktiwiteit belê nie,” verduidelik Johnnie.

Dit grootste gevaar hiervan is dat ’n emosionele afstand dan tussen jou en jou kind kan ontstaan.

“Emosionele afstand lei tot ’n swak verhouding waar daar nie meer ’n noue band tussen julle is namate die kind ouer word nie, en dit kan later verwyte tot gevolg hê.”

Daar is nie ’n wenresep wat vir elke kind ewe goed sal werk nie, sê kundiges.

“Jy moet jou kind se ontwikkeling­stadium en temperament baie goed ken om te weet watter soort betrokkenheid hom laat floreer,” verduidelik Johnnie.

Tieners funksioneer dikwels beter met subtieler betrokkenheid, terwyl ’n voorskoolse of grondslagfasekind meer ondersteuning van die ouers kan kry en later geleidelik selfstandiger kan funksioneer.

’n Ekstrovert het dalk minder ondersteuning nodig as ’n kind wat gereeld in sy eie vermoëns twyfel, sê hy.

“In vandag se prestasiegedrewe wêreld moet die ouers hul kind soms ’n bietjie ruimte gee omdat daar al klaar so baie druk op die kinders is,” sê Miranda van der Westhuizen, ’n sielkundige terapeut van Johannesburg.

Jy hoef dus nie by elke oefening of optrede te wees nie, maar dis belangrik om aan jou kind te verduidelik dat jy vir hom kan lief wees sonder om by elke aktiwiteit te wees.

Die sleutel hier is ’n goeie verhouding tussen julle, voeg sy by.

Belê van kleins af in die verhouding, bring alleentyd saam deur en vind uit hoe dit regtig met jou kind gaan.

Met so ’n verhouding as grondslag is die kans kleiner dat jou kind later jou ondersteuning as onnodige druk ervaar of dat hulle teen die grond sal wees wanneer hul ma of pa nie by ’n oefening of optrede kan wees nie – hulle sal dan nie aan jou liefde twyfel nie.

WANNEER JY MAG DRUK, EN MOET LAAT GAAN

Voor jy druk op jou kind plaas om byvoorbeeld harder of pligsgetrouer te ­oefen, moet jy seker maak die aktiwiteit is wel reg vir hom. As hy weier om dit te doen, is dit dalk omdat hy glad nie belangstel nie.

“Die ideaal is natuurlik om die aktiwiteit te vind waar jou kind se talent en belangstelling oorvleuel,” sê Johnnie.

Maar onthou, net omdat ’n kind talentvol is of ’n aanleg vir ’n sekere aktiwiteit het, beteken nie hy stel noodwendig self daarin belang nie.

Gesels met jou kind voor hy iets nuuts aanpak, sê Miranda. Verduidelik presies wat dit gaan behels, vind uit wat sy verwagtings en doelwitte vir die aktiwiteit is en deel ook jou eie.

“Daardeur kan jy ’n soort ooreenkoms bereik waartoe die kind instem, want dan is dit baie mak­liker om dit later in stand te hou.”

As jou kind klavierlesse wil neem, kan jy byvoorbeeld instem om daarvoor te betaal, maar sê dat jy verwag sy moet ’n sekere hoeveelheid keer per week oefen. Gesels met die onderwyser en neem die res van jou kind se skedule in ag om ’n realistiese doelwit te stel.

As jou kind uit eie wil aan ’n aktiwiteit deelneem
As jou kind uit eie wil aan ’n aktiwiteit deelneem, kan jy haar maar in die regte rigting help wanneer dit nodig is, sê een van die kundiges. Foto: Gallo Images/Getty Images

As sy dan instem tot die “kontrak”, sal dit makliker wees om haar daaraan te herinner wanneer sy nie haar kant bring nie.

Louw beveel aan dat ouers voort­durend met kinders gesels om seker te maak hul belangstellings het nie verskuif nie.

“Ouers kan ’n bietjie strenger wees om die lewensles vir hul kind te leer om nie net dadelik iets wat jy begin het op te gee en dalk jou spanmaats in die steek te laat nie. Maar dit is ook belangrik dat jy ruimte gun vir ’n kind se belangstellings wat verander of ander belangstellings wat ontwikkel,” sê hy.

Jou kind moet self besluit of sy aan ’n aktiwiteit wil deelneem, verduidelik Marinel.

“Maar as die deelname met die kind se goedkeuring plaasvind, kan ’n ouer maar die kind in die regte rigting begelei wanneer nodig.”

Ouers behoort ook die gevaartekens raak te sien as kinders oorlaai is.


Selfs al hou hulle van die aktiwiteit, gaan hulle nie altyd geesdriftig daaroor wees nie, maar as hulle byvoorbeeld nie ’n eksamen wil doen nie, is dit dikwels weens vrees en kan jy hulle gerusstel, voeg sy by.

“Wanneer die kind dan die aktiwiteit of eksamen suksesvol aflê, bou dit baie selfvertroue wat ook op ander gebiede kan help.”

Ouers behoort ook die gevaartekens raak te sien as kinders oorlaai is. In so ’n geval kan enige leiding van jou kant af as intense druk ervaar word en kan dit sake net vererger.
Hou veranderings in jou kind se gedrag fyn dop, maan Johnnie.

“Irritasie, chroniese moegheid, ’n kort humeur, weerstand teen die aktiwiteit of die afrigter, ’n kind wat stiller word en hom onttrek, angstigheid en verlies aan belangstelling in kwessies wat jy weet na aan jou kind se hart is, is alles tekens van ooreising,” sê hy.

SO GRYP JY IN AS DIT WEL NODIG IS

Dit is jou verantwoordelikheid as ouer om op te tree as jy agterkom jou kind sukkel, sê Miranda.

“ ’n Mens kan altyd intree vir jou kind as iets fout is, want dis jou kind en jy ken hom baie beter as die afrigter.”

Johnnie beveel aan dat jy eerstens jou kind probeer bemagtig om self kwessies in ’n gemaklike gesprek met die onderwyser of afrigter op te neem.

Wanneer dit nie moontlik is nie, kan jy jou bekommernisse met die onderwyser opneem.

“Gebruik ‘ek-boodskappe’ soos: ‘Ek is bekommerd dat my kind sukkel wanneer jy hom terugvoering gee.’ Dit gaan nie help om die afrigter die skuld te gee nie; fokus eerder op jou as ouer en jou kind se emosies,” voeg hy by.

Kies ook die oomblik reg.

“Kultuur­instellings soos dramaskole behoort ­gereeld oueraande te hê of tyd in die lesplan in te werk vir ouers om ná die les vrae te vra of met die afrigter te gesels,” sê Louw.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.