Met sterre of trane in die oë, soms sommer albei, durf elke gr. 1’tjie jaarliks die eerste skooldag aan.

Ma en pa sukkel ook met ’n effense knop in die keel of ’n klammigheid in die oog.

Maar deesdae is daar nuwe emosies wat ouers ervaar wanneer dié mylpaal aanbreek: verligting en dankbaarheid dat hul kind by die skool van hul keuse instap, of teleurstelling en kommer omdat hul bloedjie noodgedwonge hul skoolloopbaan begin by ’n instelling wat nie hul eerste keuse was nie.

Ál meer ouers moet elke jaar teleurgesteld alternatiewe soek wanneer hulle die deur gewys word.

Hiervan het Sharon (’n skuilnaam) eerstehandse ervaring. Dié ma van Kaapstad het haar oudste dogtertjie in 2013 by ’n skool in die suidelike voorstede ingeskryf, naby die huis waar sy en haar gesin saam met haar ma gewoon het.

Vir Sharon was dit logies om haar jongste by dieselfde laerskool in te skryf. Maar in 2017 het sy skielik met ’n krisis op hande gesit toe haar jongste se aansoek vir gr. R afgekeur word.

Die rede? Die gesin het intussen verhuis en woon nie meer naby die skool nie.

“Ek was verpletter. Ek het dit glad nie verwag nie, veral omdat ons so deel van die skoolgemeenskap geword het.”

Foto: Gallo Images/Getty Images.

Boonop woon haar ma, wat bedags na die kinders omsien terwyl Sharon in die stad werk, steeds in die omgewing. Haar man werk ook naby die skool.

“Dis moeilik genoeg om een kind skool toe en terug te vat. Nou moet jy heen en weer na nog ’n skool toe ry.”

Sharon het haar nie so maklik van stryk laat bring nie. Toe vanjaar se inskrywings vir gr. 1 open, het sy die Wes-Kaapse Onderwysdepartement om hulp genader.

Die departement het toegegee haar versoek is redelik, maar het ook laat blyk hulle kan nie by die skool se toelatingsproses inmeng nie.

Sy het die e-pos waarin die departement haar aansoek ondersteun aan die skool gestuur, maar wag steeds om te hoor of die aansoek suksesvol is.

“Ek word nie maklik ontsteld nie, maar wanneer dit by my kinders kom, is dit asof my dierlike instinkte inskop. Dit klink dalk puntenerig, maar vir my is dit iets wat potensieel haar hele lewe kan beïnvloed.”

Die jaarlikse stryd om jou kind by ’n skool van jou keuse in te skryf het baie te doen met verstedeliking en bevolkingsgroei, meen kenners.

“Dis ’n kombinasie van die toenemende vraag na gehalteonderrig, ekonomiese faktore wat ál meer mense na stedelike gebiede lok en die beperkte keuse van skole wat gehalteonderrig bied,” verduidelik prof. Ruksana Osman, onderwyskenner aan die Universiteit van die Witwatersrand.

In Gauteng is selfs sedert 2016 ’n aanlyn registrasieproses vir gr. 1- en gr. 8-leerders in ’n poging om die aansoekproses gladder te laat verloop en lang toue by skole te bekamp.

Registrasie vir 2019 het reeds op Maandag 16 April begin en duur tot 28 Mei, en op die eerste dag het ’n allemintige 153 770 ouers aansoekvorms suksesvol ingevul.

In ander provinsies word ’n ander proses gevolg.

WAT WORD IN AG GENEEM?

Jy kan jou kind by enige skool inskryf, maar ’n skool se individuele toelatingsbeleid en beskikbare getal plekke sal bepaal of die kind aanvaar word of nie.

“ ’n Skool se beheerliggaam moet ooreenkomstig art. 5 van die Suid- Afrikaanse Skolewet ’n beleid opstel wat toelatingskriteria bepaal,” verduidelik Jaco.

“Daarin word die ouer se woon- en werkplek gewoonlik in ag geneem, of daar reeds ’n boetie of sussie in die skool is en, in die geval van gr. 1-toelating, of die leerder uit die laerskool se eie kleuterskool kom.”

Volgens hom kan elke skool self bepaal of hulle ’n radius het vir ouers se woonadres wat voorkeur kry en hoe groot die radius is. “In Gauteng bepaal die regulasies tans dat dit 5 km is.”

Selfs al woon ’n ouer binne die bepaalde radius, kan ’n kind toelating geweier word as die skool reeds vol is.

WAT DOEN EK AS MY KIND NIE AANVAAR WORD NIE?

Dit word aanbeveel dat ouers eerstens so vroeg moontlik by die skool van hul keuse inskryf, maar hulle het ook die keuse om appèl aan te teken by die provinsiale onderwysminister as hul aansoek onsuksesvol was.

“Daar rus ’n grondwetlike plig op die staat om onderrig te verskaf,” sê Jaco. “As alle skole in jou omgewing vol is, moet die departement ouers help om plek in ’n skool te kry waar daar wel nog plek is. Maar die ouer sal steeds deur die toelatingsproses moet gaan van die skool wat die departement aanbeveel.”

WAT VAN TOELATINGSGELD EN -TOETSE?

Dit is onwettig om met die registrasieproses toelatingsgeld te eis, kragtens art. 39(5) van die Skolewet, sê Jaco. Dit is ook kragtens art. 5(2) van die Skolewet onwettig om ’n kind te verplig om ’n toelatingstoets te skryf, sê Jaco.

Volgens Elijah Mahlangu, woordvoerder vir die departement van basiese onderwys, gebeur toelatingstoetse wel in sommige skole, maar dit is nie veronderstel om ’n kind van toegang te weerhou nie.

Dit word net gedoen om te bepaal op watter kognitiewe vlak die kind is.

So werk die aanlyn registrasieproses in Gauteng

Aanlyn registrasie is die enigste manier waarop ouers in Gauteng kinders vir gr. 1 en gr. 8 kan inskryf.

Besoek die webtuiste www.gdeadmissions.gov.za.

  • Stap 1: Vul besonderhede van ouer in.
  • Stap 2: Vul besonderhede van leerder in.
  • Stap 3: Kies ’n skool op grond van die opsies wat gegee word.

Vir gr. 1 kan die ouer vir vyf skole per leerder aansoek doen op grond van huisadres, werkadres, of daar sibbes in die skool is, en die skool van jou keuse.

Gr. 8-ouers kan op grond van dieselfde opsies aansoek doen, maar ook op grond van die vorige skool en ’n hoërskool wat ’n bepaalde fokus het.

’n Aansoek op grond van jou huisadres, werkadres en die skool van jou kind se sibbes sal jou op waglys A geplaas kry, terwyl ’n aansoek op grond van ’n skool van jou keuse jou op waglys B geplaas kry.

Sodra die aansoek suksesvol is, sal jy as ouer ’n SMS ontvang wat aandui op watter waglys jy is en watter dokumente jy binne sewe dae na elke skool moet neem waar die aansoek suksesvol was.

Sien die kassie onder om te kyk watter dokumente jy sal benodig.

Wanneer ouers die dokumente by die skool indien, moet hulle ’n register onderteken wat bewys hulle het dit ingelewer. Leerders word tussen 18 Julie en 31 Oktober in skole geplaas.

Ouers sal gevra word om binne sewe dae die plasings te bevestig of van die hand te wys. As die ouer nalaat om dit te doen, sal die aanbod verstryk.

Vir aanlyn gidse vir die proses, besoek www.gdeadmissions.gov.za. Klik op “Getting Started” en kies “Video Tutorials”.

HELP, EK HET NIE INTERNET NIE!

As jy nie toegang tot die internet het nie, kan jy registrasiepunte by die onderwysdepartement se distrikskantore besoek waar amptenare kan help.

Gemeenskapsbiblioteke kan ook hulp verleen met toegang tot die aanlyn stelsel.

Die registrasieproses in ander provinsies

Toelating vir ander provinsies begin in April en Mei, sê die departementele woordvoerder Elijah Mahlangu.

“Elke provinsie hanteer dit op sy eie manier,” verduidelik dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole.

“Die Wes-Kaap is die ander provinsie (benewens Gauteng) wat in Januarie baie druk ervaar met toelatings, en daar word ouers ook aangemoedig om vroeg in te skryf.”

Jy kry gewoonlik die aansoekvorms by die skoolkantoor waar jy wil aansoek doen; dikwels kan die dokumente ook van die skool se webtuiste afgelaai word. Klop so vroeg moontlik by die skool van jou keuse aan (aanlyn of in lewende lywe) om die inligting te bekom.

Volgens Jaco moet jy ook probeer uitvind hoe vol die skool is sodat jy kan weet of jy by nog skole moet aansoek doen.

Jy moet die volledige dokumente (sien die kassie onder) byderhand hê wanneer jy jou kind inskryf.

Watter dokumente benodig jy?

Dokumente vir gr. 1

  • Afskrifte van ouers of wettige voogde se identiteitsdokumente.
  • Leerders se geboortesertifikate.
  • Bewys van huis- of werkadres.
  • Immuniseringskaart.

Dokumente vir gr. 8

  • Afskrifte van ouers of wettige voogde se identiteitsdokumente.
  • Leerder se geboortesertifikaat.
  • Bewys van huis- of werkadres.
  • Vorderingsverslag van die skool
Ekstra bron: Timeslive.co.za