Laat ek eers my kleure verklaar: Ek is nie ’n ma van ses kinders en 19 kleinkinders met 40 jaar se ervaring in die onderwys nie. Ek is ’n gewone ma van twee laerskoolseuns.

Toe Huisgenoot my dié meningstuk vra nadat ek op Facebook oor my ervaring geskryf het, was ek huiwerig – wag ’n mens nie tot jou kinders in volwasse engele verander voor jy weet of jou opvoedingstruuks werk nie? Miskien. Maar teen daai tyd is ek dalk seniel of ingespit.

Hier is dus ’n paar idees wat nou vir ons werk.

Finland is al jare lank die wêreldleier wat skoolgeletterheid betref. Dis ook die land met die kortste skooldae, en leerders kry geen huiswerk nie. Die skooljaar van Finse kinders tussen nege en 11 jaar is 640 uur, vergeleke met Suid-Afrika se 1 300 uur.

Waarom is Finland dan die grootste akademiese uitstyger? Michael Moore, ’n bekende Amerikaanse rolprentmaker en skrywer, het onderhoude met Finland se minister van onderwys, talle skoolhoofde, onderwysers en leerders gevoer om dié raaisel uit te pluis.

Die geheim, volgens hulle: Kinders moet speel en hul brein moet rus sodat hulle as volronde mense kan ontwikkel. Maar ons woon nie in Finland nie; daarom moet ons as ouers self sorg dat ons kinders rus.

Ons kind in gr. 5 ly hoeka aan verantwoordelikheidsin. Toe hy oor die eksamen stres, het ons grense gestel: Jy sal elke dag ná skool 90 minute lank buite speel voor jy begin leer, jy sal niks meer as 90 minute per dag leer nie en jy sal teen vyfuur klaar wees sodat jy lang, rustige aande kan geniet.

Werk kort, kragtige sessies en ontspan dan. Dus: Werk hard; speel harder.

Pa Gerrit en die twee seuns (wie se name Carina nie genoem wil hê nie) span uit in die natuur. Foto: Verskaf.

Eers was ons kind in trane oor ons hom dwing om so baie te speel, maar toe die uitslae kom, het hy verras geglimlag: Sy punte was wragtiewaar uitstekend. Sien jy nou, sê sy pa, Gerrit: ’n Brein wat ontspan, is ’n brein wat absorbeer.

Nou dink Boetman eksamen is die coolste deel van skool, want die skooldae is dan baie korter, ’n mens kry nie huiswerk nie en jy het soveel meer tyd om te lees. Hy kon dié wintereksamen selfs The Lord of the Rings klaar lees!

Op naweke span Gerrit soms sy ingenieurstudie van toeka in om saam met ons seuns eksperimente te doen. Dit wissel van ’n bietjie fisika en chemie (soos om suikerkristalle te kweek) tot basiese ontwerp.

Elke kind het sy eie “boomleesstoel” ontwerp met ’n sitplek wat ook as skryftafel kan dien. Soms sit ek onder in die tuin en roep die spelwoorde wat ons seunskind doer bo in die boom sit en skryf; op sonnige middae leer hy daar bo vir toetse.

Die twee broers op ’n voetslaanpad. Foto: Verskaf.

My skoonsus het in die bad lê en studeer vir haar matriekeindeksamen en nege onderskeidings behaal. ’n Hangmat, rusbank, bed, lessenaar? Leer waar ook al jy ontspanne voel.

In gr. 1 was kuns die swakste punt op my skoolrapport. Bome is immers groen, wolke wit en berge bruin, reg? Nie op my planeet nie. Berge is ook lila, spookwit, groen en stofpienk.

Ten spyte van my vrot kunspunt op laerskool het ek ’n honneursgraad in beeldende kuns behaal. Waarom? Want my ouers se mening oor my talent het op die ou end swaarder as ’n skoolpunt geweeg.

Elke kind het iemand nodig wat in hom glo. As ’n laerskoolkind aan die einde van ’n skooltaak, toetsreeks of eksamen positief is oor leer, het hy goed geslaag – maak nie saak wat sy rapportpunte is nie.

Leergierigheid is op hierdie jong ouderdom soveel meer werd as blote punte. Ek verstaan dat dit op hoërskool belangrik moet wees, maar niemand sal eendag vra wat jou laerskoolpunte was nie.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

As jy jou nuuskierigheid oor inligting kan behou, jou hongerte na kennis aanhou voed en ’n getroue maar rustige werketiek kweek – wel, dis vir altyd.

Noudat Boetman se skoolwerk vlam vat, vra ek hom wat sy leergeheim is. Hy sê as jy mooi in die klas oplet na wat juffrou sê, is huiswerk makliker. As jy huiswerk getrou doen, leer jy vinniger vir toetse. As jy vir toetse leer, is eksamen eintlik net hersiening. Dan voeg hy by: “Voor elke vraestel bid ek en raak rustig.”

“My kind,” sê ek, “jou punte is pragtig. Maar weet jy wat beïndruk my en pappa regtig? Dat jy jou vriende high-five wanneer hulle goed doen, dat jy nie ’n mededingende klein kramp is nie, dat jy jou werk voltooi sonder om kortpaaie te vat, dat jy nuuskierig is oor die wêreld en weet waar jou krag vandaan kom. Dis wat eindelik ’n mens se toekoms bepaal.”

Hoe gemaak as jou kind aan verantwoordelikheidsin 'ly'?

Moedig ’n balans aan

Kinders met ’n sterk verantwoordelikheidsin is gewoonlik pligsgetrou met skoolwerk, sê Catherine Radloff, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad. “Hulle is meestal ook besonder bedagsaam en geduldig en hul motivering kom vanuit hulself.”

Hoewel ouers graag wil hê hul kinders moet aanspreeklikheid aanleer, beteken dit nie jong kinders moet te verantwoordelik voel en daaroor angstig raak nie, sê Sigi Graham, ’n berader en sielkundige van Pretoria.

Catherine sê dit kan soms angstigheid skep. “Wanneer hulle dan nie by hul onrealistiese standaarde kan uitkom nie, kla hulle soms oor gereelde hoof- of maagpyn.”

Dis belangrik dat ouers hul kinders help om ’n balans tussen hul verantwoordelikhede en ontspanning te handhaaf. “Skool is oefening vir hoe jy eendag die lewe sal hanteer. En hoewel dit belangrik is om te studeer en hard te werk, is dit ook belangrik om ander dinge soos sosiale vaardighede en konflikhantering aan te leer,” sê Catherine.

Sigi sê kinders moet leer dat hulle mislukking nie hoef te vrees nie. “Kinders moet leer dat mislukking ook waardevolle lesse inhou.”

Stel grense

Om jou kind te help ontspan en ’n balans te handhaaf, moet jy tyd maak vir dinge wat hy geniet, verduidelik Catherine. “Dit kan sport, kuns of sosialisering met maats wees.”

Indien jy reëls wil maak om jou kind te dwing om soms van leerwerk weg te breek, moet jy dit met hom bespreek, sê Catherine. “Hou die grense eenvoudig. Hou byvoorbeeld ’n gesinsvergadering en besluit op vyf dinge wat nodig is en vyf goed wat nie gewens is nie. Skryf dit neer en plak dit teen die yskas waar jou kind dit kan sien.”

Neem ook jou kind se ouderdom in ag, is Sigi se raad. “Met baie jong kinders het jy nog meer beheer oor hul roetine en kan jy dit net begin toepas. En jy moet ’n voorbeeld stel, want jy kan nie net vir kinders preek nie. Breek self weg van elektroniese toestelle of bring tyd in die natuur deur saam met jou kind.”

“Ouers kan kinders help om ’n gebalanseerde tydrooster op te stel,” sê Annette du Plessis, ’n opvoedkundige sielkundige van Somerset-Wes. “Op ’n rooster kan kinders visueel sien dat hulle al hul skoolwerk kan doen en steeds genoeg tyd sal hê om ook te ontspan.”

En as jou kinders verskil?

In gevalle waar een kind erg bekommerd oor skoolwerk raak en ’n tweede dalk juis meer tyd agter die boeke moet deurbring, is dit belangrik om te onthou kinders verskil, sê Sigi.

“Pak dit versigtig aan, want kinders kom gou agter as daar verskillende verwagtings van hul sibbe is. Verduidelik dat elkeen ander sterk punte het en dus dinge soms anders moet doen. Maar maak seker jy vergelyk nie die kinders met mekaar nie.”

Annette meen ouers moet by albei kinders balans aanmoedig.

“Tydsbestuurmetodes is nuttig. Die verantwoordelike kind het dalk hulp nodig om ontspanningsaktiwiteite te skeduleer, waar die minder verantwoordelike kind hulp nodig het om akademiese take te beplan.” – Charlea Sieberhagen-Grey