Die rapport het einde verlede jaar gekom en dit was skokkend en teleurstellend; trouens, ’n volslae ramp.

Dis dalk ’n skrale troos, maar dit was nie net jou bloedjie wat sleg gevaar het nie – ongelukkig het ’n groot klomp van die land se leerders, onderwysers en onderrigmetodes nie die mas opgekom nie. Of dit is altans wat in ’n nuwe verslag aangevoer word.

’n Volle 78% van die gr. 4-leerders in Suid-Afrika kan nie behoorlik lees nie, wys die uitslag van die Progress in International Reading Literacy Study (Pirls) oor kinders se geletterdheidsvlakke wêreldwyd. En om sout in die wonde te vryf het ons kinders die heel swakste gevaar van die 50 lande waar leerders se leesvermoë gemeet is.

Die toppresteerders was leerders van Singapoer, die Russiese Federasie en Noord-Ierland.

Toe navorsers aan die Universiteit van Pretoria se sentrum vir evaluering en assessering (Sea) die plaaslike toetse vir Pirls uitvoer, is elke kind beoordeel in die taal waarin hulle die gemaklikste is. Maar steeds kon byna agt uit 10 gr. 4-leerders nie verstaan wat hulle lees nie – as hulle hoegenaamd individuele woorde kon uitpluis.

As jy nie kan lees nie, gaan jou geleenthede op en ná skool beperk wees.

Die kommerwekkende uitslag het ’n vurige debat onder plaaslike onderwyskenners ontketen oor die redes vir ons land se swak prestasie, maar oor een ding is almal dit eens: Dit is verpletterende nuus.

“Die vermoë om te lees is die sleutel tot akademiese en toekomstige sukses,” sê Celeste Combrinck, Sea se waarnemende direkteur.

“As jy nie kan lees nie, gaan jou geleenthede op en ná skool beperk wees,” verduidelik sy. Sommige kenners meen uit die skokkende uitslag blyk dit gr. R- tot gr. 3-onderwysers weet nie hoe om kinders te leer lees nie.

“Leesmetodes is wisselvallig of onvoldoende en die grondslagvaardighede word nie in die eerste skooljare behoorlik vasgelê nie,” verduidelik Melanie Hartgill, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg.

“Daar is baie papegaaileerwerk, waar van die hele klas verwag word om dieselfde goed saam agter die onderwyser aan te herhaal, maar hulle kan nie onafhanklik lees nie.”

Erine Botha, ’n leesterapeut by ’n Kaapstadse tak van die Tina Cowley-leessentrum, glo hierdie probleem vat al lank voor die gr. 4-jaar pos.

“Daar word te veel op assessering gekonsentreer pleks van op die ontwikkeling van vaardighede en behoorlike onderrig, veral in gr. 1,” sê sy.

HOE WEET EK MY KIND IS OP KOERS?

Melanie raai ouers aan om te sorg dat hul kinders die volgende geletterdheidsvlakke onder die knie het aan die einde van hul eerste skooljaar en teen die tyd dat hulle gr. 4 bereik:

Gr. R 

Aan die einde van die jaar moet jou kind die basiese kleure ken, die alfabet kan opsê, die name en klanke van letters ken, hul eie naam in skrif herken, weet hoe om ’n boek reg vas te hou, weet dat ’n mens van links na regs lees en ’n belangstelling in boeke toon.

  • Laat hulle hul naam op papier, ’n bord, in die sand of met magnetiese letters skryf.
  • Lees vir en saam met jou kind.
  • Volg aan die begin die woorde met jou vinger sodat hulle verstaan hoe ’n mens lees en dat wat jy sê verband hou met die letters op die blad.
  • Moedig hulle aan om oor prentjies in boeke te praat en vra hulle om te voorspel wat volgende in die storie gaan gebeur.

Gr. 4 

Aan die einde van die jaar moet kinders selfversekerde, gevorderde lesers wees.

  • Hulle moet stamwoorde (oftewel woorde wat die basis vir ander woorde vorm, soos “slaap’’ in “verslaap”), konteksleidrade (soek leidrade in omliggende teks en foto’s in die storie) en woordeindes (algemene agtervoegsels soos “-ing” in “bedoeling’’ en “-lik” in “wenslik’) kan gebruik om nuwe woorde uit te pluis.
  • Hulle moet ’n uur lank op hul eie kan lees en skryf. Hulle moet ook al self ’n woordeboek, ’n ensiklopedie, die biblioteek en die internet kan raadpleeg.
  • Hulle moet die teks verstaan en ook die hoofpunte kan uitlig om dit vir ’n opstel of mondeling te gebruik.


HOE KAN OUERS INGRYP?

WENKE VIR BESIGE OUERS

Laat ouer broers of susters of ’n grootouer vir jou kind lees.

  • Speel oudioboeke in die motor of tuis.
  • Lees elke aand ’n boek saam met hulle.
  • Word lid van plaaslike biblioteek en laat hulle gereeld daar boeke uitneem.
  • Laat hulle by leesgroepe of -kringe in biblioteke aansluit.
  • Skryf jou kind vir ’n professionele leesprogram in soos wat landwyd by die Tina Cowley-sentrum aangebied word, sê die leesterapeut Erine Botha. Leesprogramme is ook in Afrikaans beskikbaar.
    Ouers van gr. R-kinders moet hulle aanmoedig om oor prentjies in boeke te praat en hulle vra om te voorspel wat volgende in die storie gaan gebeur.

LEER SPEEL-SPEEL LEES MET APPS

DieretuinPret

Gratis op Android Dié oulike app leer jou kind die alfabet en hoe om klanke en letters te herken. Kinders kan die storie self op die app lees of dit kan vir hulle voorgelees word.

Met kleurryke prente en prettige geluide bied die app vermaak vir kinders terwyl hulle leer lees. S

Lees

Gratis op Android Die app leer kinders nie net op ’n interessante manier lees nie; dit toets ook hoeveel hulle onthou van wat hulle gesien en of hulle verstaan wat hulle gelees het. Nadat hulle ’n stukkie op die app gelees het, moet hulle drie vrae daaroor beantwoord om na die volgende vlak te vorder. S

Spel Pret in Afrikaans

Hierdie app het sowat 500 woorde wat volgens hul lengte in verskillende groepe verdeel is.

Eers verskyn byvoorbeeld ’n prentjie van ’n kalf en dan kry die kind leidrade oor hoe om dit te spel. Ná elke groep woorde is ’n verslag beskikbaar.

Op iOS (R49,99) en Android (R29,99).

LEES SO SAAM MET JOU KIND

Foto ter illustrasie (nedradio/flickr.com)

Voor julle begin lees 

  • Kies ’n boek wat jy en jou kind albei sal geniet.
  • Kies stories met interessante karakters en goeie dialoog.
  • Skep ’n ontspanne atmosfeer.

As jy hardop lees 

  • Lees stadig en duidelik, maar natuurlik.
  • Skep atmosfeer deur die volume en toonhoogte van jou stem te verander.
  • Gebruik humor en lag by die snaakse dele.
  • Moedig vrae en besprekings aan. Deel persoonlike gedagtes oor die foto’s en storie.
  • Bied ekstra inligting en verduidelik sleutelkonsepte en nuwe woorde sonder om die storie te bederf.

Nadat jy voorgelees het 

  • Vra die kind ’n paar vrae oor die storie. Doen dit gemoedelik.
  • Moedig die kind aan om vrae te vra.
  • Laat die kind die storie vir jou opsom.
  • Laat die storie aansluit by iets wat jou kind ervaar het.
  • Deel persoonlike voor- en afkeure en emosionele reaksies op die storie.

Dit is taboe:

  • Moenie lees ’n taak maak waaraan elke dag ’n vaste tyd afgestaan moet word nie.
  • Moenie jou kinders volgens hul leesvermoë oordeel en dit dan deur jou houding en gedrag aan hulle oordra nie.
  • Moenie druk op jou kind uitoefen om op ’n meer gevorderde vlak te lees as waarmee hulle gemaklik is nie.
  • Moet nooit jou kind omkoop om te lees nie.

SIG EN LEERPROBLEME

Kinders se oë moet getoets word voor hulle met gr. R begin en weer in gr. 1 en 2, is Melanie se raad. As dit nie by die skool gedoen word nie, moet ouers self hul kind se oë laat toets.

“Visuele probleme met lees gaan oor meer as bloot of die kind kan sien – hulle moet ’n reël ook behoorlik met hul oë kan volg en skandeer.”

Vroeë tekens van disleksie kan al in gr. R bespeur word, sê Melanie, maar ’n formele diagnose kan van gr. 2 af gemaak word as die kind nie op enige ingrypings goed gereageer het nie.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, psychotherapy.co.za

Ekstra bronne: dailymaverick.com, huffingtonpost.co.za, thesouthafrican.com; businesslive.co.za