Nadat leerders oor die hele land byna die ganse tweede kwartaal tuis deurgebring het weens die inperking moes vanjaar se gr. 12’s en gr. 7’s vroeg in Junie weer hul skooltasse pak, hul skoene politoer en uniforms gereed kry – maar nou is gesigmaskers deel van daardie uniform wat skool toe gedra moet word en handontsmetmiddel belangriker as enige handboek of kosblik.

Terwyl baie skole in die Wes-Kaap se matrieks en gr. 7’s reeds op 1 Junie teruggekeer het skoolbanke toe, sou skole in die ander provinsies teen druktyd eers op 8 Junie open om dié graadgroepe te ontvang.

Die ander graadgroepe keer eers later vanjaar terug, het Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, aangekondig.

Die minister van ­basiese onderwys, ­Angie Motshek
Die minister van ­basiese onderwys, ­Angie Motshekga. Foto: Gallo Images/ Sowetan/ Antonio Muchave

Maar terwyl baie ouers ’n sug van verligting slaak omdat ma en pa nie meer self moet sorg dat skoolwerk met tuisonderrig op koers bly nie, is ander huiwerig om hul kinders terug skool toe te stuur terwyl die plaaslike COVID-19-infeksiesyfer daagliks klim.

Wêreldstatistieke toon die oorgrote meerderheid kinders wat die coronavirus opdoen, kry net ’n ligte vorm van die COVID-19-siekte.

Maar wat as jy te bang is om jou kind terug te stuur skool toe? En watter stappe doen skole om jou kind daarteen te beskerm om die virus op te doen? Sal jou kinders die werk kan inhaal wat hulle reeds misgeloop het? En hoe kan jy jou kind voorberei op die terugkeer skool toe?

Hier’s als wat ouers nou moet weet.

WATTER MAATREËLS IS INGESTEL OM JOU KIND TE BESKERM?

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

Dié maatreëls moet by alle skole geïmplementeer word, het die owerheid aangekondig:

  • Die provinsiale onderwysdepartement sal aan skole die higiëne- en sanitasiegeriewe bied wat hulle benodig. “Dit sluit reinigings- en ontsmettingsmateriale, persoonlike beskermingstoerusting, ontsmettingsmiddels, handwasseep, handskoene, materiaalmaskers en termo- meters in,” het die departement van onderwys aangekondig.
  • Klaskamers moet voor die begin van ’n skooldag deeglik skoongemaak word.
  • Daaglikse siftingstoetse sal plaasvind wanneer leerders by die skool aankom. Hul temperatuur word gemeet en daar sal gekyk word of hulle griepsimptome het. Leerders met hoë koors of simptome sal geïsoleer en dan huis toe of na ’n mediese instelling gestuur word.
  • Alle onderwysers en leerders moet deurgaans gesigmaskers dra. Dit sal deur die skool verskaf word.
  • Onderwysers en leerders moet hul hande ontsmet wanneer hulle ’n klaskamer binnegaan.
  • Beweging tussen klasse moet beperk word.
  • Waar moontlik moet klasse in klein groepe verdeel word wat sosiale afstand kan handhaaf.
  • Leerders moet in die klas hul afstand van mekaar hou, met nie meer as twee leerders wat ’n lessenaar deel nie
  • Geen omhelsings of handdrukke word toegelaat nie en direkte kontak moet vermy word.
  • Byeenkomste word nie toegelaat nie, ook nie buitemuurse aktiwiteite, oefeninge of wedstryde nie.
  • Die departement van gesondheid sal inspekteurs na skole stuur om te sorg dat skole voortdurend aan die maatreëls voldoen. Elke skool moet ’n COVID-19-komitee aanstel wat sorg dat riglyne nagekom word.

WAT IS DIE SLAGGATE? 

  • Baie ouers en onderwysers is bekommerd oor of dit moontlik is om kinders op ’n veilige afstand van mekaar te hou – in die klas sowel as op die skoolterrein. Meer as 175 000 mense het die One SA Movement-leier, Mmusi Maimane, se petisie onderteken wat vra dat skole minstens nog drie maande gesluit moet bly. Maimane het aangekondig die organisasie gaan hom tot die hof wend om die besluit te beveg.
  • Kort voor skole op 1 Junie sou heropen, het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) minister Motshekga versoek om die terugkeer uit te stel omdat nie alle skole genoeg water en die nodige sanitasiegeriewe het om te open nie.

Opnames het gewys sewe uit die land se nege provinsies was in daardie stadium net sowat 50% gereed om te heropen. Adv. André Gaum, kommissaris van die SAMRK, het aan Huisgenoot gesê volgens opnames deur die departement van basiese onderwys is daar 3 500 skole met dié uitdaging.

“Die grootste probleme met water en sanitasie is in provinsies soos die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Limpopo en Noordwes,” sê hy.

“Hulle lewer watertenks af – of beplan om dit te doen – maar dit gebeur nie vinnig genoeg dat die skole kan heropen nie. As daar nie water is nie, is dit ’n ernstige situasie, want dit hou regstreeks verband met die voorkoming van COVID-19.”

Dié versoek van die SAMRK was een van die redes waarom die openingsdatum uitgestel is tot 8 Junie.

  • Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Bestuursliggame van Suid-Afrikaanse Skole, is bekommerd oor die stand van gereedheid van landelike skole aangesien baie van dié skole ’n gebrek aan basiese middele soos lopende water en werkende toilette het.

Dit beteken dat dit moeiliker is om basiese higiëne te handhaaf.

  • Die departement van onderwys is so daarop ingestel om vir die terugkeer van gr. 7’s en gr. 12’s voorsiening te maak dat nie genoeg aandag gegee word aan hoe sake sal werk wanneer ander grade begin terugkeer nie, sê Ben Machipi, sekretaris-generaal van die Unie vir Beroepsopvoeders.

Aanvanklik sal die gr. 12’s en gr. 7’s in kleiner klasse verdeel word, en onderwysers van ander grade sal byderhand wees om te help, maar hy wil weet wat sal gebeur wanneer die hele skool terug is.

Dan sal daar nie genoeg onderwysers en klaskamers wees om dié benadering van verstandige sosiale distansiëring voort te sit nie, waarsku hy.

  • Sommige kenners is bekommerd omdat leerders in die grondslagfase eers ná ouer leerders terugkeer skool toe.

“Gr. 1’s het net twee maande van onderrig gehad voor die skole gesluit het; dus sal onderwysers van voor af moet begin,” sê Paul.

“En baie ouers wat moet teruggaan werk toe, het nêrens om hulle toe te wend nie, want hulle het geen behoorlike toesig tuis vir hul kinders nie. Wat ons betref, sou dit dus verstandig gewees het om jonger klasse eers te heropen. Dis makliker vir gr. 7’s om in te haal en hul leerplan te sny, maar jy kan nie ’n leerplan vir ’n gr. 1-leerder sny nie. Die kind moet leer skryf, lees en somme maak.”

HOEKOM GAAN DIT DAN VOORT?

Daar is begrip vir ouers se kommer oor die welstand van hul kinders, maar die coronavirus gaan vir die afsienbare toekoms met ons wees – moontlik tot in volgende jaar – dus moet skole vorentoe beweeg, benadruk Paul.

“Jy moet die een of ander tyd begin; 1 Junie is so goed soos enige ander datum,” het hy gesê.

Hoewel dit normaal is vir ouers om angs te ervaar wanneer hul kinders aan gevare soos COVID-19 blootgestel word, moet die skooljaar voortgaan, beaam Ben.

“Ons kan nie sê leerders moet twee jaar lank nié skool toe gaan nie. Dit sou selfmoord vir ons as ’n land wees.”

WAT AS JY NIE JOU KIND WIL TERUGSTUUR NIE?

Ouers wat hul kinders weens gesondheidsvrese nie nou wil terugstuur skool toe nie, het twee keuses, sê Paul:

  • Afstandsonderrig: Jou kind se skool kan moontlik aanlyn onderrigmateriaal of gedrukte werkblaaie beskikbaar stel wat jou kind met jou hulp tuis kan voltooi. Kontak eers jou kind se skool om te hoor of dit moontlik sal wees.
  • Tuisonderrig: Ouers kan kies om hul kinders tuis te onderrig – deur die onderrig self te gee of deur ’n tutor aan te stel. Maar as hulle dié roete volg, moet hulle hul kinders aanlyn by die departement van basiese onderwys vir dié opsie registreer. Die registrasie is tot einde September verleng, sê Paul, en elke provinsie het sy eie stel regulasies rakende tuisonderrig. Hy maan as jy op dié opsie besluit, word jou kinders se registrasie by hul normale skool gekanselleer. Dit kan beteken dat daar nie vir hulle plek is as jy hulle later of volgende jaar wil terugstuur nie.

“Ouers moet dus deeglik besin voor hulle tot dié stap oorgaan,” sê hy.

Besoek www.education.gov.za/Programmes/HomeEducation.aspx as jy tuisonderrig wil ondersoek.

HOE SAL KINDERS BETYDS INHAAL?

Paul sê al het party kinders daarin geslaag om tydens die inperking met die hulp van hul ouers met die leerplan tred te hou, het ander tog agtergeraak.

Dit beteken onderwysers sal eers sleutelkennis van die eerste kwartaal moet hersien en dan vorentoe beweeg terwyl hulle op die noodsaaklike boublokke vir volgende jaar se leerplan fokus.

“Ek voorsien nie dat kinders gereeld sal toets skryf nie. Dalk een aan die einde van die jaar wanneer hulle ’n vorderingstoets skryf, maar daar sal nie veel tyd of nodigheid wees dat gereelde toetse geskryf word nie,” sê hy. Hy sê ook die kurrikulum sal nie gesny word nie.

Vir matrieks bly die leerplan dieselfde, buiten dat die Junie-eksamen wegval en die datum vir die eindeksamen van Oktober tot November verskuif – teen druktyd was die presiese datum nog nie aangekondig nie.

Die aanduiding is dat matrikulante steeds oor die hele 2020-leerplan getoets sal word.

Ben is vol vertroue die uitstel van die eindeksamen sal matrikulante genoeg tyd gee om op datum te kom.

Agt weke van die skooljaar is verloor, sê hy, maar deur die Junievakansie te skrap, tesame met ander moontlike maatreëls soos ekstra middagklasse en Saterdagskoolure, meen hy leerders sal gereed wees.

Teen druktyd is nog nie aangekondig hoe die skoolkwartale en -vakansies vir die res van die jaar vir skole aangepas sou word nie.


Terug skool toe: datums vir jou dagboek

Teen druktyd het die owerheid aangekondig graadgroepe sou op hierdie datums terugkeer skool toe.

8 Junie – gr. 12; gr. 7

6 Julie – gr. R; gr. 3; gr. 6; gr. 10; gr. 11

3 Augustus – gr. 4; gr. 5; gr. 8; gr. 9

Die datum waarop gr. 1, gr. 2 en ander voorskoolse grade sal terugkeer, moet nog aangekondig word.

Hoe kan jy jou kind voorberei op die terugkeer skool toe? 

1 Oefen vooraf hoe dinge sal werk

Baie word oor die voorbereiding van skole gesê, maar nie veel oor hoe om kinders voor te berei vir hul “nuwe normaal” wanneer hulle terugkeer skool toe nie, sê die spesialisondersoeker Marc Hardwick in ’n video wat soos ’n veldbrand versprei het.

Hy sê ouers moet hul kinders sekere gewoontes soos handdruk gee “afleer” en vir hulle nuwe maniere van sosiaal verkeer aanleer wat die virus sal help beveg.

Dit is die ouers se taak om hul kinders die basies
Dit is die ouers se taak om hul kinders die basiese ­beginsels te leer om veilig te bly tydens die pandemie, soos om hul hande gereelder en vir langer te was. Foto: Getty Images/Gallo Images

“Ons moet nou tyd opsysit om ons kinders gewoond te maak aan ’n masker dra wanneer hulle in die skool is. Ons moet nou, veral vir die klein ses-, sewe- en agtjariges, ’n masker gee terwyl hulle buite in die tuin speel. Laat hulle ’n uur per dag leer hoe om met die masker aan te speel,” sê Marc, stigter van The Guardian, ’n diens vir die aanmelding van kindermishandeling.

“Wanneer jy tuisonderrig gee, sorg dat hulle ’n uur per dag met hul masker aan daar in hul boeke sit en skryf. Laat hulle elke halfuur hul hande was.”

2 Wees voorbereid op die eerste dag

Vind by die skool uit presies hoe dinge gaan werk, sê Edith Kriel, ’n maatskaplike werker van Kaapstad.

“Jy wil nie hê jou kind – maak nie saak hoe oud hy is nie – moet by die skool kom en verras wees deur wat op hulle wag nie.”

Sê byvoorbeeld: “As jy môre by die skool aankom, gaan jy nie vir Juffrou ’n drukkie kan gee nie,” of: “Jy gaan net die maats in jou eie klas mag sien en met hulle praat.”

Dit gee die kind selfvertroue in ’n nuwe situasie en maak iets wat oorweldigend kan wees hanteerbaarder.

3 Wees eerlik, maar vermy bangpraat

Bespreek die virus en die manier waarop dit versprei met jou kind sodat hulle sal verstaan hoekom hulle op skool gereeld moet hande was, ’n masker moet dra en nie aan hul maats moet raak nie.

“Wees eerlik en feitlik, maar moenie vrees gebruik om ’n boodskap oor te dra nie,” sê die Kaapse lewensafrigter en ouerskapkenner Mark Fraser-Grant.

“As jou kind bang is, gaan hulle bloot in ’n veg-of-vlug-houding in, en dan gaan hulle niks leer by die skool nie en ongelukkig wees.”

Dink mooi oor jou taalgebruik, sê hy.

“As jy vir hulle dinge gaan sê soos: ‘Moenie aan ander vat nie; jy kan doodgaan,’ gaan hulle net angstig raak.”

Doen jou bes om kalm te bly as jou kind weer skool toe gaan, selfs al vertel hulle jou van ’n maat wat naby hulle gehoes of aan hulle geraak het, sê hy.

“Stel hulle gerus dat dit nié die einde van die wêreld is nie en dat dit nié beteken hulle gaan die virus kry of doodgaan nie. Sê net iets soos: ‘Dan gaan was jy jou hande en maak seker jou masker is reg.’ ”

Edith sê ouers en onderwysers moet daarteen waak om gewone menslike gedrag, soos om aan iemand te raak, te straf.

Verduidelik liewer vir jou kind hoekom hulle volgende keer anders moet optree as om met hulle te raas.

4 Lê klem op emosionele welstand; nie net op skoolwerk nie

Moenie nou te veel hamer op hoe dit met jou kind se skoolwerk gaan nie, sê Edith.

“Dis nie nou die belangrikste nie – jou kind se fisieke en emosionele welstand is wat tel.”

Dit is jou verantwoordelikheid om seker te maak jou kind voel veilig en geliefd te midde van al die onsekerheid.

“Ons gaan as ouers meer drukkies moet gee, meer moet praat en emosioneel teenwoordiger moet wees.”

Mark stel voor dat die gesin soggens met mekaar deel waarna hulle uitsien, waarna hulle nie uitsien nie en dan, wanneer hulle by die huis kom, wat hul hoogte- en laagtepunte was.

“Dit sal verseker julle almal kommunikeer met mekaar en dat jy makliker kan agterkom as daar kwelpunte is.”

5 Vind alternatiewe vir die dinge wat jou kind mis

Kyk watter alternatiewe jy kan vind vir die dele van skoolgaan wat voorheen vir jou kind lekker was, maar nou nie meer moontlik is nie.

“As jou kind lief is vir drukkies gee, help haar om ’n groet uit te werk waarmee sy haar maats kan groet sonder om aan mekaar te raak,” sê Edith.

Gesels met jou kind oor wat sy of haar gunstelingspeletjie was om pouses te speel – wat van “trap op mekaar se skaduwees” pleks van gewone aan-aan?

Dr. Arina Fourie, ’n kinderterapeut van Kaapstad, sê sportliefhebbers sal dalk treur omdat die sportseisoen by die skool daarmee heen is.

“Jy as ouer gaan saam met hulle moet balskop of hokkieballe slaan of ’n doelhok oprig waar hulle kan oefen. Moenie dat hulle daai passie verloor nie.”

Help hulle ook om aan nuwe maniere te dink om saam met hul vriende te kuier – as jy dit nog nie gedoen het nie.

Hulle gaan mekaar by die skool sien, maar dalk voel asof hulle nie regtig genoeg met hul maats gesels nie.

“Reël dat hulle aanlyn ’n kaartspeletjie speel of elke paar dae op Zoom gesels.”

6 Hou jou kind fyn dop

Moenie aanvaar dat as dit goed gaan tydens die eerste week of drie jou kind ten volle aangepas het nie, waarsku Arina.

Dit is die ouers se taak om hul kinders die basies
Dit is die ouers se taak om hul kinders die basiese ­beginsels te leer om veilig te bly tydens die pandemie, soos die belangrikheid van ’n gesigmasker en hoe om dit korrek te dra. Foto: Getty Images/Gallo Images

Aan die begin gaan kinders nog opgewonde wees oor al die nuwighede en selfs daaroor giggel.

“Daarna gaan dit die nuwe norm raak, en dan gaan jy moet uitkyk vir gevaarligte – dinge soos veranderende eetpatrone, dat hulle hulself afsonder, baie huil of pessimisties is,” sê sy.

Moenie skroom om jou kind na ’n terapeut toe te neem as dit lyk asof sy sukkel met die aanpassing nie.

“Dit beteken nie noodwendig hulle het ’n issue of is depressief nie. Hulle het dalk net nodig om te ontlaai,” sê Arina. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe