Dis nie net volwassenes wat deur die gejaagdheid van die moderne lewe geraak word nie. 

Ook kinders word in die daaglikse roetine van skool-toe-en-terug, huiswerk en buitemuurse aktiwiteite vasgevang – en wanneer almal eindelik 'n blaaskans kry, is ouers dikwels dankbaar as die kroos stil en tevrede voor die televisie of ’n skerm sit. 

Maar kenners waarsku te veel skermtyd is nie goed vir kinders nie, en dis voordelig vir hulle om tyd in die buitelug en natuur deur te bring.

Foto’s van prins William, sy vrou, Kate, en hul drie spruite in haar pragtuin – 'n behoorlike speelparadys – het vroeër vanjaar wêreldwyd aandag getrek. 

Met haar lieflike Back to ­Nature-tuin wou die hertogin van Cambridge die voordele van blootstelling aan die natuur beklemtoon en kinders en hul gesinne aanmoedig om die buitelug te geniet.

“Ek glo genoeg tyd buite wanneer ons jonk is, kan die fondament vir gelukkige, gesonde volwassenes lê,” het Kate gesê.

Nou is dit lente in Suid-Afrika en boonop binnekort nasionale Tuindag, wat ons op Sondag 20 Oktober vier. 

Wat kan 'n mens alles saam met jou kinders in die tuin doen om van jongs af 'n liefde vir buite wees by hulle te kweek? 

Huisgenoot het aan die vooraand van Tuindag by kenners gaan aanklop.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
As julle ’n boom in die tuin het, kan jy ’n boomhuis bou. Die klimmery sal die spiere help ontwikkel. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hoe kan ek en my kind die tuin saam geniet?

Dit help veel jy kan jou kinders oorreed om die TV te los en in die tuin te speel, maar hulle is binne oomblikke verveeld. Hier is ons kenners se wenke vir hoe om die buitelug saam met jou spruite te geniet en in die proses te sorg dat hulle speel-speel ontwikkel.

1. Beweeg

Die tuin bied aan jou kind die geleentheid om meer te beweeg as wat hy binne-in die huis kan sonder dat jy bekommerd hoef te wees oor daardie waardevolle blompot of vuil voete op 'n rusbank. 

  • Moedig jou kind aan om te swaai, gly en hang waar hulle kan, sê Me­lodie. Hulle raak van oortollige energie ontslae en dit stimuleer hul sintuie en help hulle om balans te ontwikkel.
  • Klim boom. As julle ’n lekker boom het, kan jy selfs 'n boomhuis bou of koop om speelgeleenthede te skep.
  • Trek tou. Dis vir kinders lekker om te sien hul ouers speel aktief saam. Boonop help dié aktiwiteit om bewustheid van die spiere en gewrigte te skep, sê Melodie.
  • Maak self 'n hindernisbaan deur bokse aan die een kant oop te sny en “tonnels” deur die tuin daarmee te bou. 
  • Speel krieket op die gras. 
  • Speel wegkruipertjie – dit bly 'n gunsteling.

2. Verken

Help jou kind om fyn te kyk na die wêreld buite die huis. Jy sal waarskynlik saam met hulle verstom wees oor wat julle alles raaksien.

Kry 'n vergrootglas en gebruik dit om saam met jou kind na allerlei goggas te kyk wat hulle in die tuin kan opspoor. 

Om buite te mors en vuil te word behoort ook deel van jong kinders se pret en verkenningsfase te wees, reken Rinda. Laat hulle in die modder speel en modderkoekies bak.

Jy kan selfs 'n eier by modderkoekie-”deeg” inmeng om die koekbak-idee skop te gee, voeg Surina by. Die resultate behou hul vorm beter wanneer hulle in die son droogbak.

Leer jou jong kinders versamel en sorteer deur hulle aan te moedig om interessante klippies, stokkies, blare en sade in die tuin op te tel en te groepeer, sê Surina. “Gebruik dit in ’n kunsprojek. Pak dit uit en neem 'n foto, plak dit op karton of doop dit in verf en doen drukwerk op papier.” 

Begin 'n wurmplaas of maak jou eie kompos. Jou kinders trek dalk eers hul neus op, maar dit word gou interessant wanneer julle 'n paar wurms byvoeg. Kry 'n komposblik by die kwekery of prakseer jou eie uit 'n krat of drom.

Dan kan jul gesin alles van vrugte- en groenteskille tot ander organiese afval soos gras en ou blare daarin gooi, kyk hoe dit mettertyd afgebreek word en die kompos by ’n bedding inwerk.

Help jou kind om sy eie voëlvoerder te maak. “Smeer grondbootjiebotter aan byvoorbeeld dennebolle en rol dit in voëlsaad,” sê Surina. “Hang dit met toutjies aan 'n boom en kyk net hoe dit voëls lok.” 

Gee vir jou ouer kinders wat kan lees 'n voëlboek of help hulle op die internet na die voëls soek wat hulle in die tuin opmerk.

Maak “skoenlapperpoeletjies”. Skoenlappers vergader graag by nat, modderige kolle. Lok hulle deur 'n vlak kleibakkie of piering met sand en 'n bietjie grond of kompos en 'n knypie sout te vul.

Gooi water daarop sodat ’n poeletjie vorm. Die water en minerale wat agterbly nadat die water verdamp het, sal vlinders lok.

Moedig jou kinders aan om ’n groente- tuin te begi
Moedig jou kinders aan om ’n groente- tuin te begin. Dit leer hulle verantwoordelikheid. Foto: Gallo Images/ Getty Images

3. Werk

Maak van tuintakies 'n speletjie en iets wat julle saam doen. Jy kry 'n paar hande by om jou te help en jou kind ontwikkel belangrike vaardighede.

Laat die kleingoed jou help om die tuin met die tuinslang nat te lei, sê Melodie. “Leer jou kind om die tuinslang ná die tyd weer te bêre.”

Stop jou spruit 'n waterspuitkannetjie in die hand om plante vir jou nat te spuit of te help om tuinmeubels wat buite staan skoon te spuit. “So moedig jy hulle aan om albei hande te laat werk,” sê Elsie Labuschagne, ’n arbeids­terapeut van die terapiegroep Worksense in Kwa­Zulu­Natal.

Die kruiwa is 'n nuttige ding wat onder meer help om die skouerspiere sterk te maak, sê Elsie. “Kinders kan mekaar of tuingereedskap in ’n kruiwa rondstoot.”

'Moedig jou kinders aan om ’n groente- tuin te begin. Dit leer hulle verantwoordelikheid'

Laat hulle blare ophark. Gesels vooraf oor waar hulle dink die beste plek is om te begin en waar die hoop blare gaan lê. Help hulle sommer ook bepaal van waar af die wind waai indien nodig. So leer hulle beplannings- en organisasievaardighede.

Koop saad of saailinge en laat jou kind dit plant – dis die ideale tyd van die jaar daarvoor. Lees op die pakkie of die kwekery se aanwysings watter toestande die plantsoort nodig het, en laat hulle jou help om die beste plek te kies.

Laat hulle eers begaan, sê Elsie, al plant hulle dit nie heeltemal reg nie. Stel eerder vrae soos: “Dink jy dié een sal so groei? Wat kan ons dalk anders doen?”

Moedig jou kinders aan om 'n groente- of kruietuin te begin. Dit leer hulle verantwoordelikheid.

Om te weet julle gebruik iets uit hul tuin wanneer julle kos maak, sal hulle vreugde verskaf. Jy het nie baie plek hiervoor nodig nie; gebruik 'n bak om dit hanteerbaar te hou en maklik te maak om te versorg.

Kry raad by die kwekery oor plante wat maklik groei sodat jy nie jou kind se moed breek voor hy begin nie.

4. Ontspan

Ruim tyd in om buite te ontspan waar julle sonder die afleiding van selfone en tablette gehaltetyd kan deurbring.

Lê saam met jou kind op jul rug op die gras, al het jy net 10 minute tyd. Kyk watter vorms julle in die wolke kan raaksien en probeer 'n storie daarrondom bou.

Maak jou tuin boekwurm-­vriendelik sodat selfs 'n meer inkennige kind daarvan hou om tyd daar deur te bring. Skep 'n leeshoekie met byvoorbeeld 'n hangmat of ’n boontjiesak waar jou kinders kan lees of met ’n maatjie kan sit en gesels.

As jou kind van skryf, skets en foto’s neem hou, koop vir hulle 'n notaboek en moedig hulle aan om dagboek te hou van hoe die plante in die tuin asook die insekte en voëls se gedrag verander.

Sonder 'n deel van die tuin af vir jou jonger kind wat dan hul eie tuin kan word. Skep saam met hom of haar 'n feetjietuin en maak stories op oor watter karakters daar woon.

Beplan 'n kampaand in die tuin. Laat jou kind jou help met die “inpak” en skep so al dae vooraf afwagting. Doen dit sover moontlik sonder elektrisiteit.

Maak 'n kampvuur, braai stokbrood en vertel kampvuurstories.

Wat is die waarde van buite speel?

Om tyd saam buite deur te bring is nie net gehaltegesinstyd nie; dis ook goed vir jou kind, sê Surina Loedolff, ’n Kaapstadse spelterapeut wat 'n kunsprogram, Picassies, vir laer­skoolkinders aanbied. 

“Dit is 'n ge­leent­heid om te ontwikkel, emosioneel te ontlaai en te sosia­liseer,” sê sy.

“Buite speel, hardloop en bal gooi bevorder kinders se motoriese ontwikkeling,” sê dr. Rinda Blom, ’n spelterapeut en lektrise in maatskaplike werk van Bloemfontein. 

“Dit bevorder hul fisieke gesondheid, ook omdat hulle so op ’n natuur­like manier vitamien D, belangrik vir sterk bene, absorbeer. “Kinders wat buite speel, is ook dikwels fikser,” sê sy. 

Buite speel is net so goed vir jou kinders se brein as vir die res van hul lyf. 

“Kinders wat gereeld buite speel, is dikwels nuuskieriger om dinge te ontdek, wat weer hul algehele aandag­span kan bevorder. Meer tyd in die natuur word verbind met gelukkiger kinders met 'n goeie algemene gemoedstoestand.”

Tyd in die natuur bevorder kinders se kreatiwiteit en verbeeldingspel.

“Dit het 'n positiewe uitwerking op algehele kognitiewe en emosionele ontwikkeling en funksionering in die kinderjare,” sê Rinda.

“Wees teenwoordig om die weten­skaplike in jou peuter te sien ontluik. Hou dop hoe die botanis, die insek­kundige en die geoloog na vore kom wanneer hy of sy die tuin ondersoek,” sê dr. Melodie de Jager, 'n opvoedkundige sielkundige en kinderontwikkelingskenner van Johannesburg.

Het jy geweet?

Volgens navorsing wat in Brittanje gedoen is, is tuiniers en bloemiste die mense wat die gelukkigste in hul beroep is.

  • Bron: Gardenday.co.za
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.