Een kind lees ’n boek. Haar sussie teken. Buite speel ’n seuntjie op die gras. Niemand het ’n selfoon of iPad in die hand nie. Nie eens ’n TV is in sig nie.

Hier heers net ’n salige stilte wat af en toe deur kinderstemme onderbreek word.

Wanneer jy by Carina Bruwer (39) en Riccardo Pugliese (60) se huis in Kaapstad instap en jou oë toeknyp, kan jy jou maklik verbeel ’n tydmasjien het jou in die 1950’s afgelaai.

Wanneer jy by Carina Bruwer (39) en Riccardo Pugli
Wanneer jy by Carina Bruwer (39) en Riccardo Pugliese (60) se huis in Kaapstad instap en jou oë toeknyp, kan jy jou maklik verbeel ’n tydmasjien het jou in die 1950’s afgelaai. Foto: Facebook (Carina Bruwer Pugliese)

Hoekom raas ’n kinderprogram nie op die agtergrond nie? Hoekom blêr You­Tube-video’s nie uit die kamers nie? Hoekom hoor jy geen pieng-pieng-geluid van ’n selfoonspeletjie nie?

Wel, vertel Carina, fluitspeler van die musiekgroep Sterling EQ, die stille vrede in hul huis het aangebreek nadat ’n dief in Januarie vanjaar – terwyl hulle tuis was – ingebreek en ongesiens koers gekies het met die spoggerige slimtelevisie wat sy en Riccardo ’n maand tevore gekoop het.

Maar hulle het gou nie meer kwaad en gefrustreerd gevoel oor die diefstal nie. Trouens, Carina onthou hulle het oornag ligter gevoel.

“Ons het nie besef waarvoor ons ons inlaat toe ons die TV koop nie. Dis soos ’n enorme tablet. Die kinders het meteens ’n lewensgrootte YouTube-skerm gehad wat allerlei reklame in die gedaante van nutsprogramme uitbasuin. Ek het stil-stil van my kop afgegaan.”


Hulle het nie die TV vervang nie. Daarna het hulle hul dogters, Milena (10) en Italia (8), en seuntjie, Tomasso (2), ál minder na vermaak op selfone en tablette laat kyk.

Op ’n dag het Carina besef ’n hele maand is verby sonder dat haar kinders enigsins by die huis na vermaak op ’n skerm gekyk het.

In die plek daarvan het haar kinders weer begin lees, teken en speel. Hulle het hul verbeelding gevolg eerder as om verstar na programme, video’s en aanlyn speletjies te kyk.

“Die obsessie met skerms is net nie meer daar nie.”

Soos talle ander ouers het Carina aanvanklik gedink dis oulik toe haar kinders in skerms begin belangstel.

“ ’n Mens is half trots wanneer hulle die eerste keer ’n video op YouTube vind of iemand se Instagramprofiel bekyk. Maar ek het vinnig besef dit verryk hulle nie op ’n positiewe manier nie.

“Dit is eerstens verslawend. Hoe meer tyd hulle gekry het om te speel, hoe meer wou hulle hê. Hulle sou meestal nie die opvoedkundige speletjies kies nie.

“Natuurlik kan hulle ook op YouTube alles – goed en sleg – vind. Ek het nie tyd om almal se verbruik op die tablet te monitor nie, en deur dit nie te doen nie, is ek onverantwoordelik omdat die kinders nie die gevaar besef nie.”

Nou kry haar kinders weer kans om hul eie persoonlikheid en kreatiwiteit te verken.

“My een dogter organiseer byna daagliks haar kamer op ’n nuwe manier, my ander dogter teken meer en my seuntjie bly fisiek bedrywig; gee hom enige rede om te hardloop, spring of rol en hy is gelukkig. Hulle is meer aktief en in die buitelug en lees ook meer.”

Carina en haar kroos. Foto verskaf
Carina en haar kroos. Foto verskaf

Hoe lank sal sy vir haar kinders ’n lewe sonder skerms kan volhou?

Carina vertel sy het nog nie besluit of vermaak op skerms vir ewig verbied is nie, want al was haar kinders se skermvry maand bevredigend, wil sy nie onredelik wees nie.

Haar oudste dogter is 10: “Ons sal dus binnekort ’n middeweg moet vind,” sê sy.

Sy laat haar kinders ook toe om af en toe na ’n foto op haar selfoon te kyk of haar foon te gebruik om ’n maatjie te kontak. Maar in haar huis is die skerm vir nou nie meer ’n bron van vermaak nie.

“Ek wil hê my kinders moet leer om mens te wees: om mekaar in die oë te kyk, ’n gesprek te voer, empatie te hê en om die skoonheid en pyn van menswees raak te sien. Ek weet nie eintlik hoe ek dit in die toekoms gaan benader of beheer nie, maar ek sal bly veg.”

Moet jy die skerms bêre?

Die goue reël, glo Nikki Bush, mede­skrywer van die boek Tech-Savvy Parent­ing, is: Vra jouself of die kinders steeds tyd maak vir ander dinge as skerms. Is hulle fisiek aktief, het hulle speelmaats, voer julle gesprekke met mekaar, eet ­julle as ’n gesin saam om die tafel, slaap jou kind genoeg?

“ ’n Nuttige maatstaf vir jong kinders is om te kyk of hulle ná 20 minute se speel op jou toestel daarvan kan afskakel, sonder ’n toestel om die etenstafel kan sit, ’n betekenisvolle gesprek kan voer en steeds gelukkig is.”

Sy waarsku ouers kan maklik skerms as kinderoppasser gebruik.

“Skerms het ’n nuttige hulpmiddel geword vir bedrywige ouers. As jy jou kind voor die skerm plaas, is hulle gefokus, stil, maak hulle nie ’n gemors nie of hoef jy nie hul kwaai bui te hanteer nie.”

Die groot gevaar is dat kinders meer geheg raak aan skerms as aan ander mense, en daardie sosiale en emosionele interaksie met mense is noodsaaklik.

Ouers dink dalk dit gee hul tweejarige ’n opvoedkundige voordeel om hulle ’n tablet of slimfoon in die hand te druk, maar wees versigtig, waarsku dr. Brendan Belsham, ’n kinder- en tiener­psigiater van Johannesburg.  

“Onder die ouderdom van twee jaar ontwikkel ’n kind se brein vinnig en leer hulle die beste deur interaksie. Dis ’n noodsaaklike tydperk om ’n band tussen ’n ouer en kind te vestig – oogkontak, kommunikasie, fisieke aanraking, taal en gefokusde aandag. Dit kan nie deur ’n skerm oorgedra word nie.”

Brendan waarsku te veel tyd voor die skerm kan kinders vet maak. Hy sê navorsing toon as jy voor ’n skerm eet, funksioneer die natuurlike meganisme van jou brein wat vir jou sê jy is versadig nie behoorlik nie.

’n Verband is ook gevind tussen ’n TV-stel in ’n kind se kamer en die gevaar van latere vetsug.

Moet jy dit oorweeg om vermaak op skerms te verbied?

“Ons leef in ’n digitale wêreld; om skerms dus heeltemal te verbied is nie ideaal nie en selde moontlik,” meen Niki.

“Wanneer ’n jonger kind ’n ouer kind op ’n toestel of voor ’n skerm sien, sal hulle dit ook wil beproef. Wanneer hulle ander mense se huis besoek, sal hulle ook aan skerms bloot­gestel word. Om te leer om pret te hê voor en weg van ’n skerm is ’n  belangrike lewensvaardigheid.

“Die idee is om as ’n gesin ’n middeweg te vind oor wat balans vir julle beteken. Dit gaan daaroor om jou kind se aandag weg van die skerm te kry deur ander opwindende, interaktiewe aktiwiteite beskikbaar te hê, vir ouers om deel van die speelproses te wees, om ’n voorbeeld te stel met jou eie skermgebruik en vir kinders om te leer om ander dinge te doen as hulle nie voor ’n skerm is nie.”

Hoeveel skermtyd?

Brendan verwys ouers na die volgende riglyne van die American Academy of Pediatrics:

Kinders onder 15 maande moet glad nie aan skerms blootgestel word nie. Kinders tussen 15 maande en 5 jaar kan daagliks 30 tot 60 minute skermtyd onder die toesig van volwassenes kry.

“Inhoud maak saak en moet verkieslik opvoedkundig, sensories en interaktief wees soos wanneer ouers saam lees, die kind beweeg, hulle saam praat, sing en speel.”

Kinders ouer as ses moet nie hul slaap of fisieke aktiwiteit inboet omdat hulle so lank na skerms kyk nie. Meer as twee uur se skermtyd per dag kan die ontwikkeling van ’n kind se brein negatief beïnvloed.

“Laat jou kind toe om geleidelik meer verantwoordelikheid te aanvaar terwyl hulle ouer word en dit toepaslik is. Maar terwyl hulle in die huis is, moet hul gebruik gemonitor word.”

Hoe skep jy riglyne vir jou huis?

Ouers moet ’n voorbeeld stel, sê Brendan.

“Ons kan nie van ons kinders verwag om hul toestelle behoorlik te bestuur as ons dit nie self doen nie. Sit weg jou foon as jy aan tafel is, moenie jou e-pos en Facebook herlaai terwyl jou kind met jou praat nie.”

Brendan stel die volgende riglyne vir gesinne voor:

  • Maak duidelike en vaste reëls oor hoe lank kinders met elektroniese toestelle mag speel.
  • Maak seker jou kinders ken die reëls en hou daarby.
  • Moe­nie die naweek ingaan sonder om gesinsaktiwiteite te beplan nie. Doen eers ander aktiwiteite of huis­take voor jy oor die naweek skerms aanskakel.
  • As jy jou dag op ’n skerm begin, is dit moeilik om jou daarvan weg te kry en om enigiets anders te doen; of dit nou is om te oefen, klavier te speel, huiswerk te doen of net om uit jou nagklere te kom.
  • Oorweeg soms ’n digitale detoks, om byvoorbeeld een naweek alle slimfone, tablette en rekenaars af te los.
  • Skerms hoef nie totaal verbied te word nie, maar ’n behoorlike blaaskans skep daardie gesonde en nodige onafhanklikheid daarvan vir almal in die huis.
FOTO'S: FACEBOOK/@CARINABRUWEROFFICIAL, VERSKAF
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe