Dis net deur God se genade dat dit nie ek was nie . . .”

Dié woorde het deur ’n leser se kop geflits toe sy die artikel in Huisgenoot lees oor Marietjie Vosloo se beproewing in ’n tronk op Mauritius (Mundolene Vosloo: Stiefma se tronkhel in Mauritius, 18 Januarie).

Marietjie, Mike se tweede vrou.

Marietjie sal daar op ’n aanklag soortgelyk aan strafbare manslag verhoor word omdat sy tydens ’n gesinsvakansie in Oktober 2016 op die eiland na bewering haar stiefdogter, Mundolene Vosloo (17), se dood veroorsaak het toe sy haar in ’n rusie geklap het.

Wyle Mundolene Vosloo se hartseer pa, Mike.
Pa en dogter was baie geheg aan mekaar.

Nes Marietjie is die leser ’n stiefma, en in ’n brief aan Huisgenoot vertel sy van die swaarkry, woede en frustrasie wat haar twee stiefdogters haar al laat deurmaak het.

Sy erken selfs as sy geweet het wat vir haar voorlê, sou sy nie met hul pa getrou het nie.

Hier vertel die leser in haar eie woorde deur watter beproewing stiefouers soms gaan.

Sonder enige benul

Ek het met hom getrou sonder enige benul van wat sou kom.

My man het sy eerste vrou verloor toe hul dogters 11 en sewe jaar oud was, en ek was meer as bereid om hom te help om hulle groot te maak.

Die meisies was 15 en 10 toe ek intrek saam met my seun, wat toe 11 was.

Met ons eerste Kersfees het ek moeite gedoen om spesiale geskenke vir almal te koop en ’n gelukkige tuiste vir almal te skep.

Die probleem was hoe om gesonde leiding te gee sonder om reëls te maak wat te veel konflik sou veroorsaak.

Kort voor lank het die moeilikheid begin.

Dit het gelyk of die oudste dogter daarop uit is om op te skop op skool. Sy het gerook en heeltyd by klubs ingesluip. Goed, het ek gedink, ons kan daardeur werk – die probleem was hoe om gesonde leiding te gee sonder om reëls te maak wat te veel konflik sou veroorsaak.

Ongelukkig het sy alte goed geweet hoe om die speletjie te speel: ’n Mens druk deur tot jy kry wat jy wil hê – tot anderkant jou stiefouer se grense.

Die jongste dogter was soos een van daardie “gemene meisies” in Hollywood-flieks. Sy was mooi en op 11 al seunsmal. Boonop het die meisies sedert hul ma se dood drie jaar tevore basies gedoen wat hulle wou.

My man het gevoel hy moet sy dogters vir die verlies van hul ma probeer vergoed.

Omdat hulle hul ma verloor het, het die vroue van my man se vriende gevoel hulle moet die meisies “spesiaal” behandel.

Hul raad aan my was: “Wees net vir hulle soos ’n suster.”

Ook my man het gevoel hy moet sy dogters vir die verlies van hul ma probeer vergoed. Hulle het daarom geleer hulle is geregtig op spesiale bederfies, luukshede en hope aandag.

Hul verwagtings het onrealisties geraak. En as hulle nie gekry het wat hulle verwag nie, was jy outomaties ’n “slegte mens” in hul oë.

Pappa sê dis oukei en ons hoef nie ons stiefma te respekteer nie.

My man was uit die staanspoor doodgelukkig om enige “polisiëring” van sy dogters aan my oor te laat en self die rol van die “goeie polisieman’’ te speel.

In my ervaring gaan subtiele opmerkings en gedrag wat gevaarligte by ’n vrou sal laat flikker maklik ongemerk by die deursneeman verby. My man sou dan ook gereeld reageer met: “Ek sien nie enige probleem nie.”

Dit het die boodskap aan sy dogters oorgedra: Pappa sê dis oukei en ons hoef nie ons stiefma te respekteer nie.

As klein kwessies nie opgelos word nie, begin spanning opbou. Ek het my lewe so probeer lei dat dit my nie onderkry nie, maar ek het ál kwater begin raak.

Om pynlik eerlik te wees, ek sou nie met my man getrou het as ek geweet het wat sy dogters my sou laat deurmaak nie.

Tienermeisies is berug vir hul rebelsheid.

Om alles te vererger het hierdie meisies voor ons troue heelwat beheer oor hul pa gehad; hy was toe eensaam en hulle moes hul ma se plek inneem. Ná ons troue moes hulle hom met my deel. En dit het hulle glad nie aangestaan nie.

Om pynlik eerlik te wees, ek sou nie met my man getrou het as ek geweet het wat sy dogters my sou laat deurmaak nie. Of as ek geweet het my man sou nie my besluite respekteer of vertrou nie.

Toe ek Marietjie Vosloo se storie lees, het ek dadelik simpatie gehad met haar.

Ek het die voortdurende geskille met my stiefdogters onthou en hoe my woede opgelaai het.

Sy het op my begin vloek en ek het haar geklap. Hard. So hard dat haar tande geklap het.

Toe die jongte dogter 16 was, het sy my daarvan beskuldig dat ek haar verhouding met haar kêrel wou verongeluk omdat ek hom nie wou toelaat om oor te slaap nie.

Sy het op my begin vloek en ek het haar geklap. Hard. So hard dat haar tande geklap het.

Ek is nie trots daarop dat ek my humeur verloor het nie (dit was die enigste keer dat ek ’n hand vir een van hulle gelig het), maar agter daardie klap was baie opgekropte woede.

Wat met Mundolene gebeur het, was ’n tragedie. Maar ek verstaan hoekom Marietjie dalk beheer verloor het. As daar vorige voorvalle was, moes haar man die probleem saam met haar opgelos het voor dit werklike skade kon aanrig. 

Ek het ’n graad agter my naam en beklee ’n verantwoordelike pos by my werk. Ek het nie ’n plofbare humeur nie en keur nie aanranding goed nie. Ek wil beklemtoon dat ek altyd my stiefdogters se belange op die hart gedra het.

Wanneer ek nou terugkyk, besef ek ek moes geen swak of ongesonde gedrag geduld het nie.

Hulle is nou 32 en 28 en ons kom almal taamlik goed oor die weg, maar die onmin het littekens gelaat.

Tog glo ek deur my optrede het ek my stiefdogters vir die grootmenswêreld voorberei en dat ek ’n goeie invloed op hulle gehad het. My seun het altyd goed met my man oor die weg gekom en hulle het vandag ’n wonderlike verhouding.

Wanneer ek nou terugkyk, besef ek ek moes geen swak of ongesonde gedrag geduld het nie, maar dikwels wou ek die vrede – ook in my huwelik – bewaar.

Ek is nou spyt daaroor. Elke keer dat gedrag my omgekrap het, moes dit aandag geniet het.

Kinders moet hul ouers respekteer. Albei ouers. Selfs al is een ’n stiefouer. 

Dít help met stiefkinders

Vir kinders wat ’n traumatiese egskeiding of die dood van ’n ouer moet verwerk, kan dit moeilik wees om ’n nuwe ouer te aanvaar, sê Gerrie Pretorius, ’n berader van Life Counsel in Pretoria.

“Kinders het soms hulp nodig om eers deur hul eie seer te werk voor hulle gereed is om iemand anders in hul wêreld te aanvaar,” verduidelik hy.

Ouers moet in gedagte hou dat kinders nie altyd die nodige vaardighede het om hierdie soort veranderings te hanteer nie, sê Retha Kruger, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad; daarom moet die kind die nodige steun kry en die situasie so sensitief moontlik hanteer word.

Gerrie en Retha se raad
  • Verduidelik vir die kinders die stiefouer is nie daar om hul biologiese ouer te vervang nie, maar wel omdat die stiefouer hul ma of pa liefhet en ’n nuwe verhouding met almal in die huis wil opbou.
  • Aanvanklik is dit die beste dat die biologiese ouer die dissipline in die gesin handhaaf tot die stiefouer ’n sterker band met die kinders smee.
  • Wees konsekwent oor hoe dissipline toegepas word en versigtig dat die kinders nie jou en jou maat teen mekaar afspeel of emosioneel manipuleer nie.
  • Moenie betrokke raak by konflik tussen die kind en die biologiese ouer nie – gee hulle ruimte om dit self op te los.
  • Moenie respek by jou stiefkinders probeer afdwing nie; moedig dit eerder met liefde en goedhartigheid aan.
  • Moenie voor die kinders sleg praat van hul biologiese ouers nie, veral nie jou maat se eks nie. Bly neutraal.
  • Praat openhartig met jou maat oor uitdagings en frustrasies en probeer saam oplossings vind.
  • Doen moeite vir gehaltetyd saam en om nuwe tradisies en rituele te vestig. As ’n probleem opduik, praat dadelik daaroor.
  • Moenie huiwer om professionele hulp te kry as jy voel jy kom nie die mas op nie. Gesinsberading kan dinge in perspektief help stel.
FOTO'S: LUBABALO LESOLLE, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, VERSKAF