Jy het in die eerste weke van die inperking vol moed begin en jou kind pligsgetrou elke dag met sy klaswerk gehelp, maar nou is dié dissipline en geesdrif iets van die verlede.

Die tuisklasse ontspoor en saans knaag die kommer aan jou: Doen ons genoeg? Doen ons dit reg? Want dit maak nie saak hoe hard jy probeer nie: Jy ís nie ’n onderwyser nie.

Toe die minister van onderwys, Angie Motshekga, onlangs aangekondig het dat net gr. 12- en gr. 7-leerders aanvanklik sal terugkeer skool toe, het die moed van ouers landwyd in hul skoene gesak.

Kinders is al sedert die einde van die eerste kwartaal tuis nadat skole weens die coronaviruspandemie gesluit het, en derduisende mense moet sedertdien bontstaan om gelyk ouer en onnie vir hul spruite te probeer wees.

Terwyl hoërskoolleerders al grotendeels, of met ’n bietjie aanmoediging,
verantwoordelikheid vir hul skoolwerk aanvaar en dit self doen, moet die ma’s en pa’s van laerskoolkinders inskuif en sorg dat die somme en spelwoorde gedoen word.

En teen dié tyd is dit nie meer aldag maklik om jou kind by te staan nie.

Benewens jou eie vrese oor COVID-19 en die ekonomiese impak van die inperking voel jy skuldig oor jou kind.

Leer hy genoeg? Leer hy rég? Sê nou hy gaan terug skool toe en is myle agter al sy maats? En waar op aarde moet jy tyd kry hiervoor tussen al jou ander verpligtings deur?

Maar ouers kan ontspan, sê Inge Nieuwoudt, ’n opvoedkundige siel­kundige van Krugersdorp wat in studieleiding en kinders met leeruitdagings spesialiseer.

“Die departement van onderwys het benadruk dat leerders se klaswerk vanjaar minder gaan wees weens die virus en hulle nié getoets sal word oor werk wat hulle nie in die skooljaar gedoen het nie.”

“Ouers moenie stres nie. Kinders gaan nie agterraak nie. Ons sal inhaal,” sê ­Willene Joubert, ’n wiskundeonderwyser by ’n laerskool in Krugersdorp.

Maar dit beteken nie jy kan níks doen nie. Die weke en dalk maande wat kom, is nie ’n vakansie nie, en elke ouer kan help om, waar moontlik, die opvoeding van sy kroos op koers te hou.

Hier is kenners se wenke oor hoe om te sorg dat jy jou rol as “tuisonderwyser” reg vertolk – met ywer, maar sonder die stres.

BESKOU DIT AS TYD SAAM

Kinders tel vinnig op wanneer jy teen iets opsien.

As jy elke keer die skoolwerk met ’n gesug benader, kan jy nie te verbaas wees as hulle ook hul voete sleep wanneer dit skooltyd is nie.

Sien dit eerder as kosbare tyd saam met jou kind, sê Inge.

“Dit is nou die tyd wat jou kind gaan onthou as toe Mamma of Pappa saam met hulle goggas in die tuin gesoek het of hulle van wiskunde geleer het terwyl hulle blokkies bou.”

MAAK DIT PRET ÉN PRAKTIES

Kenners meen leer hoef nie altyd ’n ernstige affêr
Kenners meen leer hoef nie altyd ’n ernstige affêre te wees nie. Studies wys dat kinders die beste leer wanneer iets vir hulle pret is. Moet dus nie die waarde van aktiwiteite soos koek bak of tuinmaak onderskat nie. Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Daar lê eintlik waarde in hierdie tyd van tuisonderrig, sê Inge.

“Kinders kan dinge nou meer prakties doen as wat hulle dalk in die klaskamer kon, en ons weet mense onthou veel beter so. Die kans is goed dat hulle konsepte ook makliker sal verstaan.”

“Leer hoef nie altyd ’n ernstige affêre te wees nie,” beaam Debbie. “Studies wys keer op keer dat kinders die beste leer wanneer iets pret is.”

Moenie die waarde van iets soos koek bak of tuinmaak onderskat nie, sê Wendy Young, skrywer van die tuisonderrig-­kurrikulum Footprints on Our Land.

“Kinders kan verbasend baie deur dié aktiwiteite leer.”

Gebruik ’n resep wat ’n halwe koppie meel benodig om oor breuke te leer. Of soek insekte en diertjies in die tuin om oor ’n ekostelsel te gesels.

Dit voel dalk soos speel, maar eintlik is dit ook deel van hul opvoeding.

WEES BUIGSAAM

Kenners meen leer hoef nie altyd ’n ernstige affêr
Kenners meen leer hoef nie altyd ’n ernstige affêre te wees nie. Studies wys dat kinders die beste leer wanneer iets vir hulle pret is. Moet dus nie die waarde van aktiwiteite soos koek bak of tuinmaak onderskat nie. Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

As jou kind – of jy – moedeloos raak oor ’n sekere onderwerp of vak, los dit vir ’n dag of wat en kom daarnatoe terug wanneer julle nuwe energie het, sê Debbie Lemmer, ’n tuisonderrig-­tutor van Pretoria.

Laat jou kind toe om in sy eie tyd die dinge te doen wat sy aandag prikkel en boei. Dis ’n gulde geleentheid om selfstandigheid by jou ouer laerskoolkind aan te moedig, sê Elmarie Miller, ’n wiskundeonderwyser by ’n laerskool in Krugersdorp.

“Moedig hulle aan om self somme te doen of te lees. Laat hulle naslaan en dinge doen wat vir hulle lekker is. Hulle het nou die tyd.”

Moenie probeer om alles in te rig en te doen presies soos in die klasomgewing nie, sê die kenners.

Dit help om ’n mate van roetine en struktuur te skep en as jy en jou kind saam daarvolgens beplan, sê Inge, maar wees ook aanpasbaar.

“Vertel vooraf vir die kinders wat die leertemas is of wat hul eerste les soggens gaan wees. Soms gaan jy mal dae hê, en dit is oukei as dinge dan rond­skuif of selfs as julle ’n dag oorslaan – solank dit net nie ’n gewoonte word of julle alle onderrig los nie.”

Elmarie beaam dis eerstens belangrik om die idee van skoolgaan lewendig te hou vir jou kind, al lyk dit nou anders as waaraan hy of sy gewoond was. Nie ­omdat jou kind sal agterraak nie, maar omdat dit jou kind sal help om weer te konsentreer en in te haal wanneer skool eindelik weer begin.

Al gebruik julle ’n bank pleks van ’n tafel, of al sit julle af en toe buite onder die boom terwyl julle skoolwerk doen, moet jou kind tog weet wanneer julle met skoolwerk besig is, sê Inge.

“Maak seker jou kind weet hulle gaan nou moet konsentreer, en hulle moet in staat wees om dáár te konsentreer.”

HOE LANK IS LANK GENOEG?

Omdat julle een tot een werk, sal julle vinniger deur die werk kom as by die skool. Waak dus daarteen om jou kind se “skooldag” steeds so vol te hou as wat dit voor die inperking was.

Die kenners is dit eens dat ’n laerskoolkind nie meer as twee tot drie uur tuisonderrig per dag moet ontvang nie – vir ’n kind jonger as gr. 5 is selfs twee uur se gekonsentreerde leertyd lank.

As julle vinniger deur die werk kom, is dit ook in die haak.

Hoeveel werk julle afhandel, sal van jou kind afhang.

“Ons gee een keer per week wiskundeaktiwiteite vir my gr. 4’s. Party ouers voel dit is te min. ­Ander te veel,” vertel Elmarie. “Die belangrikste is om net iéts te doen.”

MOET DIT OP 'N VASTE TYD WEES?

Wanneer in die dag julle die skoolwerk doen, kan elke ouer self bepaal op grond van die kind se ouderdom, die ouers se werkrooster en die werk wat hulle van die skool af kry – as julle wel so iets kry. Of dit nou soggens of smiddae, als op een slag of verdeel in verskillende tye gedoen word – daar is nie ’n reg of verkeerd nie.

“Elke huishouding en elke kind ver­skil,” sê Elmarie.

Maar doen dit min of meer op dieselfde tyd elke dag en volgens dieselfde
struktuur – als op een slag of verdeel – sodat jou kind weet dis tyd vir skoolwerk wanneer die tyd aanbreek en dit nie die hele dag oorneem nie, sê die ­kenners.

Onthou ook om skoolwerk af te wissel met genoeg pouses en speeltyd – verkieslik buite, sê Inge.

WAT IS DIE BELANGRIKSTE?

Inge se raad aan ouers wat oorweldig voel met al die verskillende leerareas en -onderwerpe is om veral op taal- en wiskundige vaardighede te fokus.

“Die skoolkurrikulum is gejaagd en die klasse gewoonlik groot. Nou kan jou kind prakties leer en op ’n manier wat vir ­hulle interessant is. As hul taal- en wiskundige vaardighede goed is, sal hul akademiese prestasie in ander vakke ook daarby baat vind.”

Onthou dat om te lees een van die beste maniere is om taalvaardighede te slyp. Daarvoor het julle nie ’n leerplan nodig nie. Kry bloot ’n boek wat vir jou kind interessant sal wees, en lees dit saam met hom.

Verduidelik nuwe woorde namate julle vorder, en laat ’n jonger kind die storie weer vertel as jy dit voorgelees het.

Hoe gemaak met kinders van verskillende ouderdomme?
  •  Laat jou laerskoolkinders hul skoolwerk op dieselfde tyd doen, beveel die kenners aan; dit sal help om struktuur en roetine te skep. Terwyl die een doenig is met ’n taak of projek op die rekenaar of na ’n opvoedkundige video kyk, kan die ander een iets in hul werkboek doen.
  • Jy kan ook ’n tema kies waaroor albei jou kinders kan leer, sê Wendy.
  • Dit hoef nie ’n onderwerp in hul leerplan te wees nie – bloot iets wat hulle interessant sal vind.
  • “Doen die wiskunde en taal op elke kind se graadvlak,” verduidelik sy, “maar probeer die ander vakke soos natuur- of sosiale wetenskap in temas hanteer.”
  • Jy kan byvoorbeeld “spinnekoppe” as tema kies, stel sy voor.
  • “Die jonger kind kan ’n prentjie van ’n spinnekop teken en harige bene daarop plak, terwyl ’n ouer kind ’n anatomiese skets kan maak en navors in watter land die giftigste spinnekoppe voorkom.”
  • Jy kan dieselfde met ’n tema soos “die mens­like liggaam” doen. So leer albei iets nuuts wat geskik is vir hul ouderdom – en jy kan die dag afsluit met die geruste wete dat albei iets nuuts geleer het sonder dat dit onnodige kopsere of spanning veroorsaak het.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.