Dis enige ouer se grootste nagmerrie. Nadat die agtjarige Tazne van Wyk van Elsiesrivier, Kaapstad, byna twee weke lank vermis was, is haar lyk Donderdag in ’n stormwaterdrein langs die N1 buite Worcester gevind.

Moyhdine Pangarker (54) is Maandag in Cradock in die Oos-Kaap in verband met Tazné se ontvoering in hegtenis geneem.

Hy het die plek Woensdag aan die polisie gaan uitwys. Hy het Vrydag in die landdroshof in Goodwood, Kaapstad, in verband met haar ontvoering en moord verskyn. 

Die hartverskeurende nuus is oral. En dis byna onvermydelik dat jou kind by die skool of maatjies hiervan gaan hoor. Sowat 91% van Suid-Afrikaanse kinders kry volgens statistiek direk of indirek met misdaad te doen.

Die foto van Tazné van Wyk is in haar oumagrootjie se sitkamer opgeplak. Foto: Jaco Marais/Gallo Images

Selfs ’n sekondêre ervaring – soos wanneer dit ’n maat oorgekom het, of wanneer hulle daarvan gelees of dit op TV gesien het, kan hulle traumatiseer.

Die uiteinde kan ’n ernstige toestand soos posttraumatiese stres wees, of nog erger: Hul vermoë tot empatie kan dalk nie ten volle ontwikkel nie, sodat hulle eendag as volwassenes self die bose kringloop van geweld en misdaad voortsit, het dr. Bruce Perry van die Kindertrauma-akademie in Amerika bevind.

Hoe sorg ons dat ons kinders sulke gebeure emosioneel oorleef? En hoe help ons hulle om in ’n misdaadgeteisterde land groot te word sonder om gedurig vreesbevange en angstig te wees? Dat ons hulle betyds moet help, is duidelik. Hier is raad.

Hoe kan jy jou kind weerbaar maak

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Wees waaksaam, nie paranoïes nie 

Daar is ’n groot verskil tussen jou kind leer om heeltemal paranoïes oor veiligheid te wees en om ’n waaksame kind groot te maak, sê Marita Rademeyer, ’n kliniese sielkundige by die Kindertraumakliniek in Pretoria.

Jou eie voorbeeld is die belangrikste: As jy voortdurend in vrees leef en optree asof julle uitgelewer is, kom kinders dit dadelik agter en word hulle angstig. Kinders moet aanhoudend daarvan verseker word dat hul ouers in beheer is. Wees wel eerlik en verduidelik waarom jy op ’n sekere manier optree.

Die geheim is om jou kinders bewus te maak van misdaad, maar hulle dan veiligheidsvaardighede te leer sodat hulle nie uitgelewer voel nie en deel kan word van die positiewe oplossings.

‘‘My kinders weet ons gaan nie tussen vyf en sewe saans bank of winkels toe nie, want dis wanneer die meeste rooftogte en kapings plaasvind,’’ sê Marita.

Laat hulle geborge voel

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

‘‘Gee hulle gereeld drukkies en laat hulle gelief voel,’’ sê dr. Tessa van Wijk, ’n Johannesburgse traumatoloog. Versterk hul innerlike krag en positiewe selfbeeld deur hulle aan te moedig en daarvan bewus te maak dat hulle hul drome kan bereik. Leer hulle om keuses te maak, maar binne grense wat vir hul eie beskerming daar is.

‘‘’n Kind wat liefde en emosionele veiligheid by die huis ervaar, sal enigiets te bowe kan kom en sy vrese kan besweer,’’ sê Tessa.

Bied jou kind genoeg ruimte om oor sy vrese te kom praat en sy emosies te wys. Skep ook ’n netwerk van betroubare volwassenes met wie hy kan praat of wat hy kan bel wanneer hy bang is: tannies, bure, maatjies se ouers.

Beraam saam veiligheidsplanne

As jou kind kom vertel hy voel onveilig, vra uit oor wat presies hom so laat voel, sê Dennis Vusani, ’n maatskaplike werker aan die Nonceba-gesinsberadingsentrum vir mishandelde kinders in Khayelitsha naby Kaapstad.

‘‘Bespreek die vrese, werk saam deur moontlike scenario’s en bewapen hom met wenke oor wat om in spesifieke situasies te doen.’’

Wat sal hy doen as ’n boelie hom rondstamp en met ’n mes dreig? Hoe moet hy optree as ’n vreemdeling hom na sy motor lok? Wat as daar ’n gewapende rooftog in die winkelsentrum is?

Leer hulle ook praktiese maatreëls soos om op een plek te bly staan as hulle in ’n winkelsentrum sou wegraak, of om binne-in ’n hysbak te bly as die deur toegaan en hulle binne en jy nog buite is. Wys hulle hoe die sekerheidswagte lyk by wie hulle hulp kan vra, en hoe om winkelassistente uit te ken.

Wys ’n veilige wêreld

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Dis ook belangrik om vir jou kind te wys daar is veilige plekke waar ’n mens kan pret hê. Vra uit oor gewilde en veilige parke en strande waar julle ongebonde saam met kinders van alle rasse kan speel sonder diefwering, veiligheidshekke en alarms.

Leer jou kind spiritualiteit

Spiritualiteit maak ’n mens weerbaar. Gee aandag aan ’n groter betekenisraamwerk in jou kind se lewe, sê Marita. Dit maak nie saak tot watter geloof jy behoort nie. Dis belangrik dat kinders hoor God is nog in beheer, al laat Hy toe dat slegte dinge met goeie mense gebeur.

EN AS MY KIND REEDS IETS OORGEKOM HET?

’n Traumavoorval het nie noodwendig ’n negatiewe langtermynuitwerking nie, sê Tessa. ‘‘Dit hang af van hoe ons ons lewe herbou en hoe ons die pyn gebruik om ons lewe op ’n positiewe manier in ’n ander rigting te stuur.’’

Gebruik die trauma as ’n geleentheid om met jou kinders te gesels oor maniere om hul vrese te pak. Leer hul vaardighede oor hoe om die pyn te hanteer. Kinders het dikwels nog nie die woordeskat om hul emosies uit te druk nie.

Daarom is dit nodig om raad by professionele mense te kry. En dis soms gratis – jy kan gaan aanklop by ’n steungroep soos Sadag.

Soos dr. William Beardslee van die Preventive Intervention Project aan die Harvard-universiteit in Amerika sê: ‘‘’n Traumatiese kindertyd in Suid-Afrika hoef nie tot ’n problematiese volwasse lewe te lei nie. Elke kind het die veerkrag om moeilike omstandighede te bowe te kom. Dis ouers se werk om selfvertroue by hul kinders te ontsluit.’’

Hoe dié jong slagoffer gehelp is

Thomas Black*, ’n 11-jarige seun van Pretoria, het begin verlede jaar wakker geword toe iemand by hul huis wou inbreek. Hy kon sy ouers betyds wakker maak om die alarm te aktiveer en die polisie te bel.

Hy was ’n held en het heel moontlik sy gesin se lewe gered, maar twee maande later kon hy steeds nie alleen aan die slaap raak nie. Sy grootste vrees was dat sy ouers doodgemaak sou word en hy alleen sou moes oorleef.

Keer terug na die voorval

 ‘‘Thomas moes emosioneel in die veiligheid van die terapie-sessie terugkeer na wat daardie aand gebeur het en dit konfronteer,’’ vertel die traumaberader Tessa van Wijk, sy terapeut. ‘‘Hy moes die storie in ’n veilige omgewing oorvertel.’’

Span jou brein in

Wanneer jy ’n trauma beleef of daaraan terugdink, oorheers jou regterbrein, wat met emosies verbind word. In terapie leer jy dan om jou logiese linkerbrein in te span om dié emosies te verstaan en te verwerk.

Thomas moes sy verbeelding inspan om vir die inbreker ’n gesig te gee, want hy het hom nooit gesien nie. Deur ’n gesiggie op ’n tennisbal te teken het hy ’n nog meer tasbare vorm aan daardie duister figuur gegee.

Elke keer dat hy bang of kwaad wou raak vir die indringer wat by hul huis wou inkom, kon hy sy frustrasie op die bal uithaal deur dit teen die muur te gooi.

Vergewe

Nog ’n stap na herstel was om die konsep vergifnis te probeer verstaan. Om te vergewe beteken om jou los te wikkel van die beheer wat die voorval oor jou lewe het. Dis ’n proses waardeur ’n kind gelei moet word.

Kyk vorentoe

‘‘Ons het die behandeling beëindig met konkrete beplanning vir die toekoms,’’ sê Tessa. Wat is sy drome en bereikbare mikpunte? Wanneer en hoe wil hy dit bereik?

Thomas kon nou begin fokus op sy eie ontwikkeling en groei. Gedurende en ná die behandeling was dit belangrik dat sy ouers hom gerusstel en verseker van hul liefde en beskerming.

Saam het hulle ’n plan beraam om hom te help beplan wat hy kan doen as daar weer ’n inbreker is: Hy weet nou waar die knoppie is om die alarm te aktiveer en hy weet watter telefoonnommers by die naaste polisiekantoor uitkom.

*Skuilnaam

  • Bel Sadag by 086-010-3645 of 011-783-1474 of besoek www.sadag.co.za.
  • Die artikel “Maak ’n vreeslose kind groot” is in die uitgawe van 24 April 2008 van Huisgenoot gepubliseer.
  • Hierdie artikel is deel van die skrywer se projek vir die Rosalynn Carter Fellowship for Mental Health Journalism wat aan hom toegeken is.