"Wie is die belangrikste mense in jul huis, julle of jul kinders?” wou ek onlangs by vriende, ’n egpaar in hul vroeë 30’s, hoor.

“Die kinders, natuurlik,” het hulle tegelyk en sonder aarseling geantwoord.

Dié vraag het by my bly spook nadat ek dit onlangs in ’n artikel gelees het. Ek het dit aan talle ander vriende wat ook ouers is, gestel en elke keer dieselfde antwoord gekry: die kinders.

Tog is daar geen rasionele grondslag daarvoor dat kinders dié verhewe status kry nie, meen die skrywer van die artikel, die Amerikaanse gesinsielkundige en ouerskapskenner dr. John Rosemond.

“Baie, indien nie die meeste nie, van die probleme wat ouers met hul kinders het, ontstaan omdat hulle die kinders behandel asof die ma en pa, hul huwelik en hul gesin danksy die kind bestaan, terwyl dit eintlik andersom is,” skryf John in ’n gesindikeerde rubriek getiteld Your Kids Should Not Be the Most Important op die webtuiste stuff.co.za.

Hy meen as jy jou kinders ophemel en laat voel die gesin draai om hulle en hul behoeftes, kan hulle met ’n gevoel van eiegeregtigheid grootword.

Hulle glo ’n verhouding is ’n eenrigtingstraat wat in die rigting van hul eie voordeel loop. “Dis ’n kind wat nie leer verhoudings gaan oor mense wat mekaar respekteer nie.”

John, wat op 69 steeds voorleggings aan ouers en onderwysers in Amerika lewer, draai nie doekies om nie. “’n Eiegeregtige kind is vir mense van my ouderdom aanstootlik,” sê hy in die artikel op stuff.co.za.

‘Ouers wil hul kinders se vriend wees, nie hul ouer nie’

“Maar ons besef ook dis nie die kind se skuld nie."

Volgens hom hoef ’n kind nie materieel bederf te wees om eiegeregtig te raak nie; al wat nodig is, is ouers wat die kind soos ’n afgod behandel. Hy meen dis vanweë ’n verskuiwing in die sielkunde van ouerskap in die laat 1960’s en vroeë ’70’s. Dit was die tyd “toe kinders koning geword het”.

Hoe het dit gebeur? Eens op ’n tyd, sê John, was kinders tweedeklasburgers, en dit was eintlik goed vir hulle.

“Toe ons kinders was, het ons geweet ouers is die belangrikste mense in ons gesin. Dit is hoekom ons hulle gerespekteer en na volwassenes in die algemeen opgesien het.”

Kinders het nie in hul ouers se bed geslaap of hul gesprekke onderbreek nie. In die ou dae het ouers hulle nie deur kinders se emosionele uitbarstings laat voorskryf nie.

Plaaslike kenners stem saam hedendaagse ouers plaas dikwels hul kinders op ’n troontjie – en betaal dan later in die lewe die prys.

Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Ons verloor die hiërargie in die gesinslewe,” sê Nikki Bush, ’n Johannesburgse ouerskapskenner en skrywer van Future-proof Your Child.

“Ouers wil hul kinders se vriend wees, nie hul ouer nie.”

Die verandering in ouerskapstyl spruit uit ’n welmenende poging om kinders met ’n goeie selfbeeld groot te maak, maar het eintlik gelei tot veeleisende kinders en ouers wat heeltyd stres oor kind grootmaak, sê John.

Die huwelik kom eerste

Die nuwe soort ouerskap beteken ook die kinders se behoeftes geniet voorrang bo dié van die huweliksverhouding.

“Voorheen het ma en pa meer, baie meer, met mekaar gepraat as wat hulle met jou as kind gepraat het,” sê John.

Nikki sê ouers moet hulself en hul huwelik vooropstel. “In ons bedrywige wêreld verbrokkel huwelike omdat dit nie genoeg aandag kry nie. En kinders moet sien ons koester verhoudings sodat hulle leer hoe om dit te doen.”

Volgens John skep niks ’n beter gevoel van welstand by ’n kind as die wete hul ouers is in ’n permanente verhouding nie; nie volmaak nie, maar permanent.

“Vir almal se beswil is dit belangrik die huwelik en nie individuele behoeftes nie geniet voorkeur in die gesin, en die man-vrou-verhouding oortref die ouer-kind-verhouding,” sê hy.

“En die kind moet dit besef.”

Selfs in huise waar die ma en pa geskei is, moet dit duidelik wees ma en pa is die hoof van die gesin.

Maak goeie landsburgers

John meen ’n terugkeer na ’n meer tradisionele en “gesonde verstand”-benadering tot ouerskap sal gelukkiger en emosioneel veerkragtiger volwassenes vir die samelewing beteken.

Die doelwit, sê hy, is “om ’n kind so groot te maak dat die gemeenskap versterk word”.

Colleen Wilson en Candice Dick, ouerskapskenners van Contemporary Parenting in Durban, beaam dit. “Om eiegeregtige kinders groot te maak wat voel die wêreld skuld hulle iets, kan die kinders later benadeel wanneer hulle die werklikheid ervaar en te doen kry met mense wat hulle nié op ’n troontjie plaas nie,” sê hulle.

Verhoed eiegeregtigheid

Alle ouers wil net die beste vir hul kinders hê, maar ons liefdevolle pogings doen soms meer skade as goed.

Hier is ’n paar strategieë:

Gereelde dosisse vitamien N: “Daar’s deesdae ’n gebrek aan vitamien N, oftewel ‘Nee’,” sê Nikki. Kinders wat te veel hul sin kry, word dikwels kieskeurig en veeleisend.

“Hulle is nooit tevrede nie. Ouers moet verstaan dit is oukei om af en toe vir kinders nee te sê; trouens, dis noodsaaklik. En die kinders moet weet hulle kan jou nie ompraat nie.”

Vind balans: Kinders hoef nie bederf te word om hul behoeftes te vervul nie, sê Nikki.

“Kinders vra elke dag drie nieverbale vrae aan hul ouers: Sien jy my? Hoor jy my? Is ek vir jou belangrik? En hulle moet ’n ja op al drie kry.”

G is vir gesag: Eiegeregtige kinders sukkel dikwels op skool omdat hulle daaraan gewoond is om vir volwassenes voor te sê wat om te doen, sê John.

Ons wil kinders grootmaak wat weet hoe om vir hulself op te kom, maar dis ook belangrik hulle respekteer grense en gesag.

Gee vir hulle take: Pleks van jou kinders voor die TV te laat leeglê, laat hulle in en om die huis help.

“Kinders wat met daaglikse huistake help, leer ook die nodige lewensvaardighede aan,” sê Janice Holsinger, ’n Amerikaanse kenner oor ouerskap en kinderopvoeding.

Eiegeregtige kinders: Die gevaartekens

Die meeste ouers bedoel nie om ’n eiegeregtige kind groot te maak nie, maar dit gebeur baie maklik in ons “ekgerigte” kultuur wat so sterk in die sosiale media posgevat het.

Dalk kweek jy dit op subtieler maniere of selfs per ongeluk.

Ouerskapskenners sê jy moet oplet na die volgende drie gevaartekens in jou ouerskapstyl.

1. Jy laat jou kinders toe om gesprekke te onderbreek

Dit gebeur maklik met jong kinders, maar in ’n sekere stadium moet kinders verstaan dit is onaanvaarbaar.

Hulle moet leer om hul beurt af te wag, want kinders wat nie leer om ander mense se tyd, gesprekke of liggaamlike ruimte te respekteer nie, kry die boodskap “die wêreld draai om jou”.

As jy reeds verduidelik het hoekom dit slegte maniere is en dit lyk of die boodskap net nie insink nie, beproef dié wenk: Dink aan ’n sein wat jou kind kan stuur wanneer jy in die middel van ’n ander gesprek is.

Dalk kan hulle hul hand op jou arm sit om te wys hulle het iets om te sê, en dan kan jy joune op hulle s’n sit om hulle te laat weet jy sal hulle binnekort ’n beurt gee.

2. Jy dring nie op asseblief en dankie aan nie

Kinders leer dankbaarheid as jy sorg hulle sê vir alles, groot én klein, asseblief en dankie.

Stel ’n voorbeeld en maak ’n gewoonte daarvan om jou eggenoot of kind elke dag vir iets te bedank.

3. Jy buig die reëls

As jy jou kind gereeld toelaat om reëls te verbreek, leer jy hulle minagting vir gesag.

Dit maak nie saak of dit iets kleins is nie, want dit gaan oor meer as die reël self, naamlik jy laat jou kind dink sommige reëls geld nie vir hulle nie.

Ekstra bronne: Rosemond.com, Gazetteextra.com, Pennlive.com, Stuff.co.za