Die omstandighede van formele skoling bly onseker, en baie ouers is boonop bang hul kinders doen covid-19 in die klaskamer op.

Om dié rede oorweeg ál meer ouers voltydse tuisonderrig. Maar jy moet eers oor heelwat faktore sekerheid hê. Doen eers jou navorsing behoorlik voor jy besluit of jy daarmee wil voortgaan.

Onthou: Jou kind moet volgens die wet skoolgaan en as leerder geregistreer wees – óf as skoolleerder óf as tuisonderrigleerder. Vandeesweek kyk ons na die koste verbonde aan amptelike tuisonderrig.

Die koste kan wyd verskil na gelang van byvoorbeeld jou persoonlike finansiële omstandighede (dus, wat jy kan bekostig), jou kind se ouderdom en behoeftes, en of jy ’n privaat opvoeder teen ’n salaris gaan aanstel eerder as om self die opvoeding te behartig.

Talle tuisopvoedingsinstansies bied ook deesdae verskeie leerplanne teen wisselende tariewe. Jy sal jou sommetjies mooi moet maak en opsies versigtig moet vergelyk. Ons het by tuisopvoedingskenners gaan aanklop oor die basiese koste wat jy in ag moet neem. 

IS DAAR BESPARINGS?

“Party mense bespaar baie met tuisonderrig, of hul kind nou op laer- of hoërskool is,” vertel Jacs Lemmer, voorsitter van die Gautengse Vereniging vir Tuisonderwys.

Toe sy eie gesin ’n paar jaar gelede met tuisonderwys begin het, moes hulle sy vrou se salaris prysgee en het hulle verwag om groot gelddruk te ervaar.

Tog was dit nie die geval nie. “Ons huis is gelukkiger en ons lewensgehalte goed.”

Jacs sê jy kan dalk duisende rande bespaar danksy die volgende:

  • geen skooluniforms;
  • geen snoepiegeld;
  • geen maandelikse skoolgeldbetalings (mits jy nie ’n privaat opvoeder aanstel nie);
  • geen reiskoste tussen die skool en die huis nie; en
  • geen amptelike skooluitstappies nie.

WAT KAN DIT JOU KOS?

Karin van Oostrum, bestuurder van die Pestalozzi Trust, ’n regsfonds vir tuis- en kleinskoolonderwys, sê tuisonderrig is gewoonlik goedkoper, maar die koste kan verskil van gesin tot gesin.

Tipies kan dit van R5 000 tot R26 000 per jaar per kind kos. “Dit hang af van of ouers formele leerplanne aankoop.

Plekke soos Kenweb, Nukleus Onderwys, Breinlyn en Love2Learn is geregistreerde instansies waar jy ’n voorgeskrewe leerplan kan koop,” sê sy.

Dié leerplanne kan kwartaalliks of jaarliks aangekoop word, en soms net vir die vakke wat jy verlang. Die prys sal hulpmiddels soos handboeke, skryfbehoeftes en studiegidse insluit.

“Ek stel gewoonlik so iets vir ouers voor wat nog geen tuisonderrig gedoen het nie. Namate jy en die kind gemakliker raak, besef baie ouers dis nie noodsaaklik om voorbereide leerplanne te koop nie.”

Marinda Erwee, wat haar vier kinders tuis opvoed, sê hul gesin se begroting is dieselfde as wat dit vir die staatskool sou gewees het.

“Ons het nie leerplanne vir die jonger kinders aangekoop nie, maar ons koop wel boeke, verf en ander hulpbronne. Ek stel voor ouers spaar eerder geld vir wanneer hul kinders studieleiers benodig vir vakke soos rekeningkunde en wiskunde vanaf gr. 10 en hoër.”

Marinda sê haar seun is nou 18 en volg die Britse Cambridge-leerplan aanlyn.

“Dit kos ons so R8 000 per jaar, afhangend van die wisselkoers. Hy wil nagraads oorsee studeer; dus is dit die beste keuse vir hom.”

Baie hang af van wat jy kan bekostig, sê Martie du Plessis, stigter van die organisasie Dynamis, wat ouers met tuisonderwys help.

“’n Volledige leerplan sal sowat R8 000 kos. Maar as jy selfvertroue het en nalees, hoef jy aanvanklik nie ’n leerplan te koop nie.”

WAT VAN REGISTRASIE?

Enige kind wat tuis opgevoed word, ook laerskoolkinders, moet by die onderwysdepartement as tuisleerder geregistreer word.

Dié registrasie is gratis en leerplanne is opsioneel. Karin sê dit is dan nie nodig vir kinders om voor gr. 10 eksamens te skryf nie.

“Ek stel gewoonlik voor ouers neem hul kinders na ’n opvoedkundige sielkundige vir evaluasie as hulle wil vasstel op watter graadvlak hulle is. Maar kinders in grade 10, 11 en 12 moet ook by ’n geakkrediteerde tuisopvoedingsorganisasie geregistreer wees om te verseker hulle volg ’n erkende leerplan. Eksamens word onafhanklik nagesien en aan die onderwysdepartement deurgegee.

Let wel:  As jou kind net tydens die inperking tuis onderrig word en jy beplan om jou kind ná die inperking weer terug skool toe te stuur, moet jou kind by sy skool geregistreer bly en moet jy steeds hul gewone skoolgeld betaal, sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie.

Tref die reëlings hiervoor met jou kind se skool. 

Kry hier nog raad

  • Ouers wat raad en leiding benodig, kan die Pestalozzi Trust, ’n organisasie wat ouers met die regsaspekte van tuisonderrig help, by 071-192-6070 kontak of hul Facebookblad besoek.
  • Besoek die departement van basiese onderwys se webtuiste education.gov.za/Programmes/HomeEducation.aspx vir nog inligting rakende die registrasie van jou kind vir tuisonderrig asook wat die departement van jou gaan verlang.
  • Besoek die Facebookgroep “Home Schooling in South Africa”.
  • Besoek sahomeschoolers.org vir kurrikulumopsies en wenke oor waar om te begin