Hoewel navorsing oor die invloed van digitale toestelle op die oë nog in die beginstadium is, is oogkundiges bekommerd dat die toename in bysiendheid moontlik veroorsaak word deur die hoeveelheid tyd wat ons voor skerms deurbring, eerder as in die buitelug.

"Ons weet dat miopie, of bysiendheid, al hoe meer algemeen voorkom,” het professor Chris Hammond van King’s College, Londen, aan die BBC gesê. “In Oos-Asië, Singapoer, Taiwan en Suid-Korea, waar byna 90% van 18-jariges nou bysiende is, het dit epidemiese afmetings aangeneem. In Europa is moontlik  40 tot 50 persent van die jong volwassenes in hul middel-twintigerjare bysiende.”

Dié syfers is hoër as die historiese vlakke van 20 tot 30 persent, en dr. Annegret Dahlmann-Noor, ’n konsulterende oogkundige by die Moorfields-ooghospitaal in Londen, het opgemerk dat kinders moontlik nie aan genoeg natuurlike sonlig blootgestel word nie.

"Dit lyk asof die hooffaktor ’n gebrek aan blootstelling aan direkte sonlig is, want kinders wat baie studeer en wat dikwels rekenaars, slimfone of tabletrekenaars gebruik, kry minder kans om buite rond te hardloop. Hulle word dus minder blootgestel aan sonlig, en dit lyk asof hulle om dié rede ’n hoër risiko kan hê vir die ontwikkeling van bysiendheid,” het sy verduidelik.

Professor Hammond het bygevoeg dit lyk asof die verhoogde voorkoms van bysiendheid in lande in Oos-Asië daarmee verband hou dat kinders in dié lande op ’n jonger ouderdom intensief begin studeer as elders in die wêreld.

Ten einde die probleem te bekamp, raai mediese deskundiges kinders aan om gemiddeld ten minste twee ure per dag buite te speel – en ook om ’n gesonde dieet, wat hope olierige vis, avokado’s en groen groentes bevat, te volg.