Elke klas het sy boelie. En as jou bloedjie 'n slagoffer is, sit jy bes moontlik met jou hande in jou hare. 

Wat moet jy doen? Jy kan of wil dit nie ignoreer nie.

Maar meng jy in, vererger jy dalk net sake vir jou kind.

Dit is 'n dilemma waarmee baie ouers worstel. Onlangse ondersoeke toon sowat een uit drie Suid-Afrikaanse kinders loop onder minstens een soort afknouery deur, sê Anel Annandale, 'n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad.

Dit kan fisiek wees, soos skop, slaan, byt, spoeg of pootjie, of sosiaal, waar die slagoffers bewustelik uitgesluit word, kwaad teen hulle gestook word en kinders aangemoedig word om onvriendelik met hulle te wees.

Deesdae neem afknouery nog groter afmetings aan. Selfs weg van die skoolterrein af teister kuberboelies hul slagoffers met teksboodskappe en venynige aanmerkings in die sosiale media.

Nie net die slagoffers van boelies is radeloos nie; ouers en onderwysers weet ook nie aldag watter raad om hulle te gee nie.

Nadat sy jare lank slypskole hieroor aangebied het, het Jo Hamilton, 'n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, nou 'n praktiese gids uitgereik met raad oor hoe kinders gemeenheid kan vermy en weerstaan. 

Met haar boek, The Ultimate Assertiveness Toolbox for Kids, wil sy kinders selfgeldend help wees en hul selfvertroue aanhelp.

“Kinders op wie gereeld gepik word, besef nie hoe hul eie gedrag die probleem kan vererger nie,” sê sy.

As ma van twee het Jo besef kinders wat met selfgelding sukkel, kort meer as die standaardstrategie van vier stappe, die een wat die meeste ouers en onderwysers hulle leer.

“Hulle maak staat op die benadering van ‘stap weg, ignoreer, praat dit uit of soek hulp’,” sê Jo. 

Al is dit goeie raad, is dit nie vir elke kind in elke situasie gepas nie.

“Selfgelding is die vermoë om vir jouself op te kom en met respek vir ander se gevoelens en gedagtes te sê wat jy dink en voel,” verduidelik sy.

“Dis nie om gemeen te wees nie, maar ook nie noodwendig gaaf nie.”

Ter illustrasie. Foto: Dreamstime
Ter illustrasie. Foto: Dreamstime

Sy moedig kinders aan om die wind uit 'n boelie se seile te haal deur op 'n onverwagte manier op ’n gemene aanmerking te reageer.

“In daardie onverwagte pouse in 'n gesprek kry jy tyd om te besluit wat jy gaan doen. Doen jy die teenoorgestelde van wat mense verwag, gee dit almal kans om te hergroepeer. Dit kan die boelie ook oor sy gedrag laat nadink.”

By afknouery is drie partye betrokke: die boelie, die slagoffer en die omstanders, sê Anel. 

Die omstanders het die meeste mag om boeliegedrag stop te sit, meen sy. “Boelies floreer op 'n magsgevoel en die angs wat hulle by ander skep.

Hul doel is om kwesbare teikens van hul sosiale steun te isoleer sodat die slagoffer swak, alleen en verlate voel,” verduidelik sy.

Wanneer ander kinders dit sien gebeur, kan hulle bang word dat hulle ook geboelie sal word. Hulle bly dan stilweg passiewe toeskouers.

“As jy staan en toekyk hoe ander geboelie word, skaar jy jou aan dieselfde kant as die boelie. Maar kom jy op vir die slagoffer, kan jy 'n held word,” sê Anel. 

“Elkeen het die mag om ander se lewe in 'n sekere mate te beïnvloed. Dit is dalk nie moontlik om alle mense teen boeliegedrag te beskerm nie, maar jy kan 'n groot verskil maak deur oplettend te wees.”

Ouers moet kinders aanmoedig om te dink hoe ander voel, te vra of iemand hulp nodig het, beleef en vriendelik te wees en deur middel van klein gebare vir ander te wys jy steun hulle.

In slypskole gebruik Anel “die tandepastategniek” om die uitwerking van boeliegedrag te verduidelik.

“Ek vra 'n kind om al die tandepasta uit 'n buis te druk,” vertel sy. “Wanneer dit leeg is, vra ek dat hy of sy die tandepasta in die buisie terugsit.

“Net so is dit met 'n verbale geboelie: Sodra die woorde uit jou mond is, kan jy dit nie terugsit nie.”

Wat kan ouers doen wanneer iemand hul kind afknou?

Ouers moet kinders help verstaan dis nie hul skuld hulle word geboelie nie, sê dr. Elizma van der Smit, 'n kliniese sielkundige van Klerksdorp. “Dit is nie hy of sy wat moet verander nie, maar wel die boelie.”

Al is 'n boelie wat op jou kind pik genoeg om enige ouer woedend te maak, maan Elizma ouers moenie oorreageer nie. Sy stel voor hulle doen liewer die volgende stappe:

  • Luister sonder om kwaad te word. Skuif jou eie gevoelens opsy en luister liewer aandagtig na jou kind.
  • Vra jou kind of hy of sy wil hê jy moet die saak verder voer. Dit laat hulle voel hulle is deel van die besluitneming.
  • Moedig jou kinders aan om die indruk te skep hulle het selfvertroue, al voel hul nie so nie. Hulle moet 'n regop houding inneem, met 'n harder stemtoon praat en die boelie reguit in die oë kyk.
  • Moenie jou kind aanmoedig om ook 'n boelie te wees of die afknouery te ignoreer nie.
  • Nadat jy al die feite ingewin het, reël 'n afspraak om die saak met jou kind se onderwyser te bespreek. Bly kalm en werk saam met hom of haar aan 'n oplossing. Die skool het waarskynlik 'n beleid hieroor.
  • In voorvalle van ernstige fisieke afknouery, neem foto’s, kry 'n mediese verslag van 'n dokter en meld dit by die polisie aan.
  • As die afknouery aanhou, oorweeg dit om jou kind elders skool te laat gaan.
  • Moenie skroom om professionele hulp vir jou kind te kry nie.

Wat kan 'n kind doen as 'n boelie hom lastig val?

Elizma het die volgende raad vir kinders:

  • Wees onvoorspelbaar en verander gedurig jou roetine as jy kan. Selfs vyf minute kan 'n verskil maak.
  • Bly binne 'n groep soveel jy kan.
  • Bly kalm en behou oogkontak met die boelie. Moenie wegkyk of dadelik wegloop nie.
  • Praat met 'n sterk, ferm stem. Gebruik sinne soos: “Hou op om my te pla,” en stap weg.
  • Vermy plekke waar die boelie gewoonlik toeslaan.
  • Moenie wys jy voel ongelukkig of hartseer nie.
  • Maak 'n grappie en lag vir jouself. As jy byvoorbeeld oor jou hare gespot word, reageer met iets soos: “Ja, ek het dit vanoggend uit die stofsuier gekrap.” Daardeur ontneem jy die boelie sy mag.
  • Verbeel jou jy is in 'n mistenk – 'n groot vistenk wat met mis gevul is. Stel jou voor die mis sluk die beledigings in voor dit jou bereik en niks raak jou nie.
Sit 'n boelie so koud

In haar boek gee Jo Hamilton dié wenke vir kinders wat teen 'n boelie te staan kom:

  • Hou van jouself soos jy is.
  • Lei die boelie se aandag af.
  • Vra vrae.
  • Ignoreer die boelie.
  • Loop weg.
  • Komplimenteer die boelie.
  • Vra vir 'n volwassene hulp.


Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.