Geld is nodig om dinge mee te koop en verkoop. Weet jy wat ons land se geldeenheid is?

Dis die rand. Ander lande het verskillende geldeenhede. Ons noem dit buitelandse valuta. Botswana se geldeenheid is die pula. Japan het die jen, Amerika die dollar, Brittanje die pond en baie ander lande in Europa gebruik die euro. Ons kyk na verskillende geldeenhede en waar alles vandaan kom.

Wat is geld?

Geld is ’n ruilmiddel vir handelstransaksies. Dit moet ’n betroubare middel met ’n duidelike, telbare waarde wees, anders sal die geld nutteloos raak. In 2008 het die Zimbabwiese dollar so vinnig sy waarde verloor dat die geld waardeloos geword het.

As ’n land se geld ’n betroubare ruilmiddel is, kan ’n mens dit ook gebruik om waarde vir die toekoms te behou. Jy kan jou sakgeld byvoorbeeld spaar om later iets duurs, soos ’n fiets, te koop. Valuta verwys na die amptelike geld (note en munte) wat verskillende lande gebruik. Elke land het sy eie geldeenheid wat deur daardie land se sentrale bank beheer word.

Wanneer ’n mens oorsee reis, kan jy jou geld teen ’n fooi vir die plaaslike geldeenheid ruil, soos by hierdie geldwisselkantoor op ’n lughawe in Thailand.

Soms het lande se geldeenheid dieselfde naam, soos “dollar” wat onder meer in Namibië en Zimbabwe gebruik word. Die Namibiese en Zimbabwiese dollar het egter nie dieselfde waarde nie. Kan jy aan nog lande dink wat dollars gebruik?

Ontstaan van geld

In die Steentydperk het ons voorouers as jagterversamelaars geleef. Hulle het nie geld gehad nie, maar ruilhandel bedryf. As iemand byvoorbeeld ’n ekstra vis gevang het, kon hy dit met iemand anders vir ’n paar vrugte verruil. In baie wêrelddele, ook in Afrika, het mense mettertyd skulpe, veral die porseleinskulp, soos geld begin gebruik.

Die Reserwebank, Suid-Afrika se sentrale bank, is in Pretoria se middestad geleë.

Die skulpies was vir die mense waardevol omdat dit as versiering gebruik kon word. Toe die mens metaal ontdek, het handelstransaksies makliker geraak. Metale is waardevol. ’n Boer kon toe sy vee vir ’n sekere gewig in silwer verkoop en met ’n deel van die silwer iets anders koop. Die kosbare metaal het dus die ruilmiddel geword wat waarde kon berg vir later wanneer dit nodig was.

Munte en note

Toe die eerste geldeenhede omstreeks 2500 v.C. in Mesopotamië (vandag se Irak) tot stand kom, was geld in die vorm van munte omdat munte ’n spesifieke gewig gehad en ’n waardevolle metaal soos goud of silwer bevat het. Die goud of silwer het dus die munt se waarde gewaarborg. Die nuttigheid van metaalmunte is dat hulle duursaam en draagbaar is.

Dis ook makliker om munte te tel pleks van hulle te weeg. Ál meer geld het egter deur die eeue nodig geword vir ’n groter getal transaksies; daarom het banke en regerings mettertyd banknote begin uitreik. Geldnote bevat nie self die waarde wat hulle verteenwoordig nie. Die bank of regering wat die noot uitreik, waarborg daardie noot se waarde.

Baie kinders se eerste poging om geld te spaar gebeur met ’n spaarvarkie. Deesdae kan kinders selfs met kriptogeld leer werk danksy piggycoin.

Die antieke Grieke en Romeine het groot ryke gehad waarin hul geldeenhede toonaangewend was. Baie van die geldeenhede wat vandag nog in gebruik is, is op antieke voorgangers gegrond. Die stabiele geld van die Griekssprekende Bisantynse Ryk was ’n goue munt genaamd die solidus. Dit het later tot die Europese sjieling ontwikkel.

Die sjieling is vandag nog as geldeenheid in Afrikalande soos Kenia en Tanzanië in gebruik. Die dinar, wat ook ’n goue munt was, het sy ontstaan omstreeks 690 n.C. in Damaskus, Sirië, gehad. Die naam is afgelei van die Romeinse dinarius. Die dinar word vandag nog as geldeenheid in lande soos Algerië, Tunisië, Jordanië en Irak gebruik.

 Die dollar is deesdae die belangrikste geldeenheid omdat die meeste transaksies wêreldwyd in dié Amerikaanse geldeenheid plaasvind. Die naam is afgelei van ’n silwermunt uit Bohemië (in die Tsjeggiese Republiek) bekend as die Joachimsthaler, of kortweg die thaler.

Dis van 1517 af gemunt en is genoem na die silwermyne by Joachimsthal. Tientalle lande gebruik die dollar as geldeenheid, maar dit het nie oral dieselfde waarde nie. Die Namibiese dollar is byvoorbeeld gelyk aan die Suid-Afrikaanse rand. 

Eerste munte

Die eerste bekende muntstuk is omstreeks 600 v.C. in Lidië gebruik, ’n koninkryk in die hedendaagse Turkye. Die Lidiese stater, ’n muntstuk bestaande uit ’n mengsel van goud en silwer, is deur koning Aliattes II in gebruik geneem. Hy het die gewig gestandaardiseer (1 stater = 168 koringkorrels). Sy seun wat hom opgevolg het se naam was Croesus. Hy was beroemd vir sy allemintige rykdom. Die uitdrukking “so ryk soos Croesus” word tot vandag toe gebruik om uiters welgestelde mense te beskryf.

Eerste note

Die eerste papiergeld is voor 1000 n.C. deur die Chinese begin gebruik. Hulle het ook papier uit- gevind. Hulle het moeg geword daarvan om al die munte rond te dra. Die mense het liewer hul munte by die handelaars gelos en dan ’n stuk papier gekry waarop geskryf is hoeveel munte die papier werd was. Ons kan ook sê dit was ’n kwitansie. Hierdie kwitansies kon as geld gebruik word.


Die wêreld se 10 mees verhandelde geldeenhede
  • Amerikaanse dollar ($)
  • euro (€)
  • Japannese jen (¥)
  • Britse pond (£)
  • Australiese dollar (A$)
  • Kanadese dollar (C$)
  • Switserse frank (Fr)
  • Chinese renminbi (¥)
  • Sweedse krona (kr)
  • Nieu-Seelandse dollar (NZ$).

Kriptovaluta

’n Kriptogeldeenheid is ’n digitale ruilmiddel wat enkodering (om iets in ’n kode om te sit) gebruik om die proses veilig te maak. Daar is nie tasbare geld soos note en munte wat jy in jou hand kan vat nie. Alles gebeur in die kuberruimte.

’n Bitcoin-papierbeursie wat by bitaddress.org geskep is.

Die bekendste kriptogeldeenheid is bitcoin, wat in 2009 ontstaan het. Bitcoin gebruik naamlose, hoogs geënkodeerde transaksies oor ’n eweknienetwerk. Jy kan iets koop deur ’n mobiele betaling uit ’n digitale beursie te doen. Ander kriptogeld sluit in ethereum, litecoin en ripple. Daar is selfs ’n kriptogeldeenheid vir kinders genaamd piggycoin. Wie weet wat die toekoms inhou . . .

Dalk gaan ons wanneer jy groot is glad nie meer papiergeld nodig hê nie!

Die rand

Suid-Afrika se geldeenheid is die rand (R1 = 100c). Dit is genoem na die Witwatersrand, ’n landskap naby Johannesburg waar baie goud ontgin is. Suid-Afrika het die Britse pond tot 1921 gebruik toe die Suid-Afrikaanse pond ingestel is.

Die rand is met republiekwording in 1961 as geldeenheid aanvaar. Dit het die pond teen ’n wisselkoers van R2 vir ’n pond vervang. Hierdie wisselkoers was sowat 20 jaar lank stabiel, maar mettertyd het die rand so ver- swak dat een Britse pond vandag sowat R16 kos.

Kopie: Cum Laude Media; Bronne: kids.britannica.com, encyclopedia.kids.net.au, whatis.com, archive.cnx.org, sciencekids.co.nz, ec.europa.eu, study.com, oldestcoins.reidgold.com, fxcm,com, historyworld.net, wikipedia.org; Foto's: Gallo Images/Getty Images, Magazine Features