Hou jy van seekos? Dis ’n groot gunsteling onder baie Suid-Afrikaners en oor die wêreld heen. Dit bied ook ’n inkomste aan talle vissermanne. ’n Mens sien veral langs die Weskus van ons land hoe inwoners van vissersdorpies heeltemal op vissery staatmaak om aan die lewe te bly. Ongelukkig word talle seespesies bedreig omdat die mens te veel daarvan vang.

Die natuur kan nie vinnig genoeg herstel en voorbly nie. Dit gebeur nie net hier by ons nie, maar wêreldwyd. Nie net word baie meer vis gevang en seekos uitgehaal as byvoorbeeld 50 jaar gelede nie; heelwat spesies word ook per ongeluk gevang (soos in groot nette wat vir ander spesies bedoel is).

Dit word byvangs genoem. Dié spesies word dan teruggegooi in die see, maar teen daardie tyd het baie van hulle gevrek of is hulle so beseer dat hulle nie oorleef nie. Hoe kan ons dan volhoubaar visvang?

Wat beteken dit?

Om volhoubaar vis te vang beteken die vissers los genoeg vis in die see dat die visse van ’n sekere spesie nooit opraak nie. Die visse moet dus nie vinniger gevang word as wat dit kan voortplant nie.

Talle dorpe aan die Weskus, soos Lambertsbaai, het rondom die vissersbedryf ontstaan. Baie van die inwoners is daarvan afhanklik om hul brood so te verdien. Dit is dus belangrik om seker te maak die vis sterf nie uit nie.

Dit beteken ook die mens moet die visse se habitat respekteer, soos deur dit nie met vissersbote te besoedel of met treknette te vernietig nie. As te veel van een soort vis in ’n sekere habitat gevang word, noem ons dit oorbevissing. Benewens dat dié spesie eindelik moontlik kan uitsterf, het dit ook ’n uitwerking op die ander spesies in die habitat.

Net soos op land bestaan verskillende voedselkettings in die see. As een van die skakels van ’n ketting nie meer bestaan nie, word die balans versteur.

Volhoubare visvangs is nie net tot voordeel van die natuur nie; dit verseker ook dat mense wat vir hul inkomste van visvang afhanklik is altyd ’n inkomstebron sal hê en seekos nog lank ’n belangrike voedselbron kan bly. Sowat 3 biljoen mense wêreldwyd maak staat op vis as ’n bron van dierproteïene.

Blouvintuna

Dié vis is wêreldwyd uiters gewild vanweë sy lekker vleis wat dikwels in soesji geëet word.

Soveel mense wil blouvintuna eet dat dit baie duur geword het; daarom word ál meer daarvan gevang.

Die blouvintunabevolking is vandag net sowat 21-29% van wat dit in 1970 was.

Hoe word volhoubare vissery aangemoedig?

Visvangpermitte word uitgereik met sekere kwotas (beperkings op hoeveel vis jy mag vang). Selfs mense wat net vir ontspanning visvang wanneer hulle by die see vakansie hou, moet ’n permit hê.

Kommersiële visserye (waar vis gevang word vir besigheid) moet ook permitte hê en het ook kwotas. Sekere dele word as mariene bewaringsgebiede afgebaken en die vang of uithaal van seediere word beheer of verbied.

Die Stilbaaise Mariene Bewaringsgebied is ’n voorbeeld hiervan. Die natuurbewaringsorganisasie CapeNature bestuur dit namens die departement van omgewingsake.

Skade: Visnette wat op die seebodem gesleep word, vernietig koraalriwwe.
Oorbevissing: Weskuskreef is nou op die SA Inisiatief vir Volhou­bare Seekos se rooilys.
Byvangs: Die verkeerde spesies, insluitend seevoëls, see­skilpaaie, dolfyne en haaie, raak ook in nette verstrengel.

Stilbaai is in 2008 tot mariene bewaringsgebied verklaar. Dit word beskerm om die lyn- en rifvisspesies in die omgewing kans te gee om te herstel nadat dit oorbevis is. Visvang word steeds in sekere beheerde dele toegelaat, maar dit word in Geelkrans, Skulpiesbaai en die Goukou-riviermonding verbied.

Winkelgroepe kan ook ’n rol speel deur net vis en ander seekos te koop wat op ’n volhoubare manier ontgin is. Die opvoeding van vissermanne is belangrik. Hulle moet verstaan hoe afhanklik hulle van ’n gesonde seelewe is om nog lank ’n bestaan uit die see te kan voer. 

Perlemoenstropery

Deel van ’n perlemoen­vonds van R4,5 miljoen wat twee mans van Kaapstad na China wou smokkel. In Suid-Afrika word perlemoen teen ’n onvolhoubare pas gestroop. As nie dringend ingegryp word nie, sal dié see­skulpdier een van die dae nie meer aan ons kus voorkom nie.

Alle seekosspesies behoort op ’n volhoubare manier ontgin te word, nie net vis nie. Dink aan perlemoen wat so erg aan ons kus gestroop word. Na raming is 75 miljoen perlemoene (sowat 40 000 t) sedert 2001 in die waters aan die Suid-Afrikaanse kus uitgehaal.

Dit is 10 keer soveel as die wettige kwota. Perlemoen is uiters gewild in Asië en word daar teen yslike pryse verkoop.

Baie Suid-Afrikaners het nie werk of ’n groot inkomste nie en stroop perlemoen om hulself aan die lewe te hou. Teen die spoed waarteen perlemoen op die oomblik uitgehaal word, gaan die spesie sowel as dié mense aan die kortste end trek; die spesie kan uitsterf aan ons kus en dan het die stropers in elk geval hul inkomstebron verloor.

Wat kan ons doen om te help?

Wanneer ons vis koop of seekos in ’n restaurant bestel, moet ons seker maak ons koop dit by mense of organisasies wat volhoubaar visvang. Die Suid-Afrikaanse Inisiatief vir Volhoubare Seekos (Sassi) help hiermee.

Sassi het ’n seekosgids opgestel waarin ’n mens kan sien watter spesies jy mag koop en eet. Die spesies word in drie groepe ingedeel, elk met sy eie kleur:

Groen

beteken jy kan dit maar koop sonder om skuldig te voel. Dié visspesies word goed bestuur en op so ’n manier gevang dat dit nie die omgewing beskadig nie. Voorbeelde: engelvis (Brama brama) en swartmossels (Choromytilus meridionalis).

Oranje

’n Mens moet twee keer dink oor die seekos op dié lys omdat dié spesies onder druk is of op so ’n manier gevang word dat die omgewing daaronder ly. Voorbeelde: Kaapse dorie (Zeus capensis) en kouewatergarnaal (Pandalus borealis).

Rooi

Die spesies op die rooi lys moet ’n mens glad nie koop of eet nie; dit word op ’n onvolhoubare manier gevang of dit is onwettig om dit te koop. Voorbeelde: galjoen (Dichistius capensis) en Weskuskreef (Jasus lalandii).

Die Sassi-app: ’n Mens kan op jou selfoon deur dié app sien in watter kleurgroep ’n sekere spesie val. Kry gerus nog inligting op Sassi se webtuiste by wwfsassi.co.za.
Bronne: wwfsassi.co.za, wwf.panda.org, nationalgeographic.org, sanbi.org, capenature.co.za, capepoint.co.za; Foto's: Gallo Images/Getty Images, Magazine Features