Sommige mense is so dol oor sjokolade dat ons hulle sjokoliste noem. Maar kan jy ’n sjokolis verkwalik? Dié lekkerny is wêreldwyd gewild, of jy nou die meeste van sjokoladekoek, warmsjokolade, sjokoladestafies of -roomys hou.

Maar waar kom dit vandaan?

Ons bekyk die herkoms, verbouing en gebruike van sjokolade.

Lank, lank gelede

Dié klipbeeldjie van ’n Asteek met ’n kakaovrug dateer uit die 15de eeu.

Die eerste mense wat sjokolade gebruik het, was waarskynlik die Olmec van die suidooste van Mexiko wat kakao sowat 1000 v.C. gekweek het. Hul woord “kakawa” het ons die woord “kakao” gegee.

Die woord “sjokolade” is van die Asteekse woord “xocoatl” afgelei. Vir die Asteke het xocoatl nie na die soet sjokolade verwys wat ons vandag ken nie, maar na ’n bitter drankie wat van kakaobone gebrou is.

Die kakaobone was vir die Asteke van Mexiko so waardevol dat hulle dit soos geld gebruik het. Volgens ’n ou Asteekse dokument wat uit die 16de eeu dateer, kon jy 100 kakaobone vir ’n goeie kalkoenhen verruil.

Sjokoladedrankies met verskeie byvoegings, maar gewoonlik onversoet, was deel van elke belangrike geleentheid in die Asteekse kultuur.

Versoete sjokolade is eers uitgevind nadat Europeërs die Amerikas verower en die plaaslike geregte leer ken het. Volgens ’n legende het die Asteke se koning Montezuma (1466-1520) die Spaanse veroweraar Hernán Cortés (1485-1547) met ’n feesmaal verwelkom waar die bitter sjokoladedrankie voorgesit is.

Die Spanjaarde het niks daarvan gehou nie, maar toe hulle later jare heuning en suiker daarby voeg, het versoete sjokolade in Spanje gewild geraak.

Teen die 17de eeu was sjokolade ’n deftige drankie in Europa, waar mense geglo het dit is voedsaam en bevat medisinale eienskappe.

Dit was egter grootliks net vir ryk mense beskikbaar, tot die uitvinding van die stoomenjin massaproduksie teen die einde van die 18de eeu moontlik gemaak het.

Deesdae is sjokoladeprodukte van ons algemeenste en geliefdste lekkernye.

Het jy geweet?

Kakao, waarvan sjokolade gemaak word, is goed vir jou gesondheid. Dit dien as ’n kragtige antioksidant.

Sjokolade bevat egter hope suiker, wat nie goed is vir die gesondheid nie. Dis belangrik om eerder donkersjokolade te eet, wat ’n hoë kakao-inhoud het en nie baie versoet is nie.

Die kakaoboom

Kakaovrugte aan die boom.

Sjokolade kom van die kakaoboom, ’n tropiese plant wat van ’n warm, vogtige klimaat hou. Die boom word tot 10 m hoog en kan langer as 50 jaar leef. Die kakaoboom verskaf die kakaobone waarvan kakaobotter en eindelik sjokolade gemaak word.

Die Sweedse botanikus Carl Linnaeus (1707-1778) het die kakaoboom die wetenskaplike naam Theobroma cacao gegee. Dit beteken “voedsel van die gode”.

Produsente

Die kakaoboom het oorspronklik in die Amasone en ander tropiese dele van Suid-Amerika gegroei, maar het na ander wêrelddele versprei.

Die lande waar kakaobone geproduseer word, is nie te ver van die ewenaar geleë nie. Dié lande is in die tropiese streke van die Amerikas, soos Ecuador en Brasilië, en in Wes-Afrika, waar die Ivoorkus en Ghana die grootste produsente is. Afrika verskaf sowat 70% van alle kakaobone.

Kakao word ook in Asië, veral in Indonesië en Maleisië, verbou.

'n Kakaovrug

Vrugte

Die kakaoboom bloei deur die jaar. Bloeisels en ryp en groen vrugte kan dus gelyktydig aan die boom wees. Die vrugte lyk soos langwerpige pampoentjies of peulvrugte. Wanneer dit ryp is, maak hulle ’n diep, hol klank wanneer jy daarop tik. Dit is dan gereed om gepluk te word. Die kakaobone binne-in die vrug is die gesogte deel van die plant.

Elke vrug het 20 tot 40 pitte (bone) wat sowat 1 g elk weeg en in die vrug se pulp sit. ’n Kakaoboom lewer elke jaar sowat 1 tot 2 kg bone. Die bone bevat baie vet. Dit is waarvan kakaobotter gemaak word. Jy ken kakao seker as ’n fyn poeier waarvan jou ma soms sjokoladekoek bak of waarvan ’n lekker warmsjokoladedrankie gemaak word.

Kakaobone

Verwerking

Nadat die vrugte geoes is, is die volgende stap in die produksieproses die verwerking daarvan tot kakao, wat die grondslag van sjokolade vorm. Eers word die vrugte vyf tot ses dae lank in die son gelaat om te gis.

Die suiker in die pulp waarin die pitte is, verander in alkohol en vloeistof wat wegdreineer. Dit verbeter die bone se geur. Die bone word daarna gedroog en in sakke verpak om na die fabriek vervoer te word. In die fabriek word die kakaobone gesorteer en skoongemaak. Die masjiene breek en verwyder die bone se doppe.

Die skoon, geroosterde bone word gemaal tot ’n vloeistof.

Dan word die bone in kleiner stukke gebreek en by ’n temperatuur van 135 ºC gerooster. Dit laat die kakaostukkies verdonker en gee dit daardie tipiese sjokoladegeur. Die gebreekte kakaobone word gemaal tot ’n dik sjokoladekleurige vloeistof wat as ’n “massa” bekendstaan. Die massa bevat meer as 50% kakaobotter en stol wanneer dit afkoel.

Dit vorm die grondslag van alle sjokolade- en kakaoprodukte. Kakaopoeier word gemaak deur sowat die helfte van die kakaobotter te verwyder. Die oorblywende kakao word dan tot die fyn kakao verpoeier wat ons in warm drankies of vir kookdoeleindes gebruik. Die kakaobotter word gebruik om ’n groot verskeidenheid sjokolade van te maak.

Kakaopoeier word gemaak deur kakaobotter te verwyder.

Wanneer jy weer ’n sjokoladestafie eet of warmsjokolade drink, sal jy weet waar daardie lekkerte vandaan kom. 

Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by huisgenoot.com aflaai.


Bronne: natgeokids.com, wiki.kidzsearch.com, worldagroforestry.org, smithsonianmag.com, easyscienceforkids.com, kidskonnect.com; Foto's: Gallo Images/Getty Images, Magazine Features