Hier is ’n wonderlike manier om jou valentyn dié Valentynsdag met ’n hoogs geheime briefie te verras – onsigbare ink! Dié slim kunsie is baie maklik, en jy het waarskynlik reeds alles by die huis wat jy nodig het om jou eie versteekte boodskap te skryf.

Die enigste ding wat die ontvanger van jou briefie sal nodig hê om dit te lees is ’n bietjie lig of waskryte. Moenie vergeet om jou ouers of onderwyser se hulp te vra voor jy begin nie.

Benodighede
  • Suur­lemoensap of vars suur­lemoene
  • ’n Vlak bak
  • ’n Wattestokkie of verfkwas
  • Papier
  • Sout
  • ’n Hittebron – ’n lamp of lig sal heel goed werk
  • Waskryte

1. Giet die suurlemoensap in ’n bak

Jy sal net genoeg nodig hê om jou boodskap te skryf – sowat 100 ml behoort voldoende te wees. As jy ’n suurlemoen gebruik, vra ’n volwassene om jou te help om dit middeldeur te sny en druk albei helftes oor die bak uit.

Onsigbare ink
Gebruik suurlemoensap.

2. Skryf jou boodskap

Doop jou verfkwas of wattestokkie in die suurlemoensap tot dit klam is en skryf jou boodskap op die papier. Jy sal dalk die kwas of stokkie elke paar letters in die suurlemoensap moet doop. Jy sal kan tred hou met wat jy skryf voor dit droog word as jy ’n goeie, helder ligbron soos ’n lamp byderhand het.

Onsigbare ink
Skryf jou boodskap.

3. Laat die ink droog word

Die “ink” moet heeltemal droog wees voor jy die boodskap kan onthul – 30 min. behoort genoeg te wees. Skryf terwyl jy wag nog briefies sodat jy nog ’n paar het om in stap 4 te toets.

Het jy geweet?
Die suur in die sap breek vesel in die papier af, en dit maak dat dié deel van die papier makliker verhit word. Die eksperiment sal ook met melk, appelsap of asyn werk, want dis ook effens suur.

4. Hou die papier onder ’n lig

Om die boodskap te onthul, hou jou briefie onder ’n lamp tot die ink verskyn. Oppas om dit te naby te hou – dit moenie te warm raak nie! Vra ’n volwassene om jou met dié deel te help.

As jy nog nie gereed is om die boodskap te onthul nie, sorg dat jy dié stap los vir die meisie of seun aan wie jy dit wil stuur. Wanneer die letters eers onthul is, kan dit nie weer versteek word nie. Gebruik jou “oefenbriefies” van stap 3 om te kyk hoe die boodskappe sal lyk.

Onsigbare ink
As jy die briefie by die skool vir jou valentyn aflewer, wil jy dalk dié metode pleks van stap 4 gebruik. Sodoende kan hulle jou geheime boodskap gou met kryte onthul.
Nog ’n opsie

’n Tikkie sout

Wanneer die ink nog nat is, bedek dit met gewone tafelsout. Laat die sout minstens twee minute lê en vee dit dan van die bladsy af. Om die boodskap te onthul, het jy nou net ’n waskryt nodig.

Die was sal nie aan die sout in die ink kleef nie en jy sal kan lees wat geskryf is.

So werk dit

Suurlemoen bevat koolstofverbindings wat by kamertemperatuur kleurloos is. Wanneer die suurlemoen verhit word, breek die verbindings af en word koolstof vrygestel.

Wanneer die koolstof met die lug in aanraking kom, vind oksidasie plaas (dit reageer met die suurstof), wat die sap bruin maak.

Bronne: Kidzworld.com, Education.com, Kidsplayandcreate.com