Waar kom die toebroodjie vandaan wat jy in jou skoolpouse eet? Die meeste mense koop hul kos by ’n supermark, maar jy weet kos word nie in die winkel gemaak nie. So hoe verander ’n koringaar in ’n sny brood? En hoe word die melk wat koeie gee eindelik jogurt?

Wat is voedselverwerking?

Voor mense ys- of vrieskaste gehad het, moes hulle kos op ander maniere vars hou vir die wintermaande wanneer kos baie skaars was. Hulle het allerhande metodes daarvoor gebruik. Hulle het byvoorbeeld vleis ingesout, dit in speserye laat lê en dan uitgedroog. Dis hoe mense die eerste keer biltong en bokkoms gemaak het.

Dié soort prosesse wat voedsel aanlokliker maak, noem ons voedselverwerking of -prosessering. Mense doen dit al duisende jare lank. Voedselverwerking is enige proses waar rou kosse – van groente en vrugte tot vleis en suiwelprodukte – verwerk word sodat mense dit kan eet of vir langer kan bêre.

Baie van die kos wat ons elke dag eet, moet eers verwerk word om kieme dood te maak en dit eetbaar te maak. Soms verwerk ons kossoorte om die voedingswaarde daarvan te verhoog, soos wanneer ons gewone melk in jogurt of kaas verander.

Voordele van voedselprosessering

Vervoer:

Dit is baie moeilik om kos oor lang afstande te vervoer en dit vars te hou. Wanneer voedsel verwerk word, bly dit langer vars. 

Buiteseisoense verbruik:

Vrugte groei in spesifieke seisoene. ’n Mens kry byvoorbeeld meestal laat in die somer druiwe, en baie soorte appels raak in die winter ryp. Deur dié vrugte te verwerk kan ons dit selfs buite die gewone seisoen geniet. 

Preservering:

Kossoorte word dikwels verwerk om dit te preserveer (bewaar), soos wanneer ons van vars vrugte konfyt kook. Dit beteken die kos het dan ’n langer rakleeftyd. 

Gerief:

Dit is baie geriefliker en makliker om verwerkte kos in die supermark te koop as om dit regstreeks by die oorsprong te gaan kry.

Vyf belangrike vereistes in enige voedselverwerkingsmetode

  • Higiëniese praktyke
  • Energiebesparing
  • So min moontlik vermorsing
  • Arbeidsdoeltreffendheid
  • So min moontlik fabrieksluitings

ALGEMENE VOEDSELVERWERKINGSMETODES

Die verwydering van buitelae, byvoorbeeld om aartappels te skil.
Son­droging, soos by gedroogde vrugte.
Pasteurisering.
Die gebruik van sout en speserye om vleis te preserveer.
Gisting van suiwel­produkte tot jogurt of kaas.
Die byvoeging van suiker om vrugte in te lê.
Bevriesing of verkoeling.
Gaarmaak-metodes soos kook, braai, rooster, bak of stoom.

VLAKKE VAN VOEDSELVERWERKING

Enige kos wat van sy natuurlike, heel toestand verander is, is in ’n mate verwerk. Sodra dit op enige manier verander (verwerk) is, met ander woorde nie meer heel, rou en vars is nie, begin dit van sy voedingstowwe verloor.

Minimaal verwerkte voedsel:

Vars vrugte en groente, neute, vleis en melk word baie min verwerk van waar dit in hul natuurlike omgewing was tot waar dit in jou bord ­beland. Tog moet dit geoes en gewas word, en daarna word dit geskil, gesny of versap.

Verwerkte voedsel­bestand­dele:

Die oorspronklike produk is soveel verander dat die eindproduk nie meer soos die oorspronklike boon, graan of plantdeel lyk nie. Dit sluit in bestanddele soos meel, olies, suiker, stroop en vette soos margarien.

Hoogs verwerkte voedsel:

Aartappel­skyfies, sjokolade, koek, pasteie en gaskoeldrank is alles hoogs verwerkte voedsel. Die eindproduk lyk glad nie soos die oorspronklike nie en is dikwels met ander dinge gemeng om ’n heel nuwe kossoort te maak. 

’n Gebalanseerde dieet

Vir ’n gesonde leefstyl is dit belangrik om nie te veel hoogs verwerkte kossoorte te eet nie. Maak seker jy eet elke dag minstens vyf groentes en vrugte en dat jy genoeg water drink. Hou verwerkte lekkertes soos sjokolade, koek, gaskoeldrank en aartappelskyfies vir spesiale geleenthede.

BRONNE: Brittanica.com, Dairygoodness.ca, Thunderboltkids.co.za, Newworldencyclopedia.org, Mindfuleats.com, Wiki.kidzsearch.com, Animalsmart.org