Kyk ’n mens na ’n kaart van Afrika, merk jy die groot eiland aan die suidooskus van die vasteland op. Dit is Madagaskar, die vierde grootste eiland ter wêreld ná Groenland, Nieu-­Guinee en Borneo. Dis ’n land met ’n buitengewone plante- en diereryk.

Die mense is ook uniek; hulle stam af van seevaarders uit Asië en Afrika.

Isolasie

Madagaskar lê 400 km van Afrika se suidooskus. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Nadat Madagaskar miljoene jare gelede van ander wêrelddele geskei geraak het, het die eiland en sy natuurlewe hul eie gang gegaan. 

Die Mosambiek­kanaal skei die eiland van Afrika. Die inheemse plante en diere het dus taamlik afgesonder verder ontwikkel.

Gevolglik is die grootste deel van die natuurlewe uniek. Dit beteken dit kom nêrens anders op aarde voor nie.

Kort geskiedenis

Vanielje kom van ’n orgidee. Die vanielje-orgidee is ’n rankplant wat in bome rank. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die naam Madagaskar is vir die eerste keer in die Middeleeue in Europa aan­geteken.

Die eerste mense wat hulle hier gevestig het, was Indonesiese seevaarders in omstreeks 700 n.C.

Later het mense van Afrika gekom en mettertyd het hulle vermeng geraak. Arabiese handelaars het in die 10de eeu handelsposte gevestig.

Die Portugese het in die 1500’s ook aan wal gestap en in die 1600’s het die Franse handelsposte gevestig.

’n Leier van die Merina-­stam het die grootste deel van die eiland in die 1790’s in ’n koninkryk verenig. Frankryk het die eiland in die 1890’s verower en in 1897 tot kolonie verklaar.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Madagaskar se inwoners op vryheid van koloniale beheer aangedring en in 1960 het die eiland eindelik ’n onafhank­like staat geword.

Geografie

Geërodeerde rotse langs die Irodo- rivier in die noorde van Madagaskar. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Die kusgebiede is gewilde toeristebestemmings. Foto: Gallo Images/ Getty Images
’n Tropiese reënwoud aan die ooskus. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Madagaskar bestaan uit drie onderskei­bare gebiede: die sentrale plato, die kusstrook in die ooste, en die lae plato’s en pleine in die weste.

Die hoogste plek op die eiland is die 2 876 m hoë piek van die berg Maromokotro in die noorde.

Die sentrale plato bevat hoofsaaklik gneis, graniet, kwarts en ander kristal­agtige rotsformasies.

Die gesteentes breek onder meer af tot rooi klei en vrugbare rooi grond.

Die vrugbare grond in die valleie maak intensiewe landbou moontlik.

Daar word veral met koffie, vanielje, suikerriet, naeltjies, kakao, rys, kassawa (broodwortel), bone, piesangs en grondboontjies geboer.

Die kleur van die grond het tot Madagaskar se bynaam, Groot Rooi Eiland, gelei.

Planteryk

Tradisionele riksjas onder ’n flambojantboom. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die eiland se plante is uit­sonderlik.

Sowat 80% van die ­blomdraende plante kom nêrens anders voor nie.

Sowat 90% van die 14 000 plantspesies is uniek aan die eiland.

’n Mens sal driekwart van die eiland se 860 orgideespesies net daar vind.

Die flambojant (Delonix regia) met sy helderrooi of geel blomme is die nasionale boom.

Hulle groei ook in Suid-­Afrika en ander dele van die wêreld, maar oorspronklik sou jy hulle net in Madagaskar kry.

Ses van die wêreld se nege kremetartboomspesies kom net hier voor.

Diereryk

’n Gestreepte tenrek. Foto: Matthijs Kuijpers/Dreamstime.com

Vanweë die eiland se afgesonderdheid is die meeste soogdiere en die helfte van die voëls nêrens anders op aarde te kry nie.

Madagaskar het minstens 141 soogdierspesies.

Een van die eiland se ongewone soogdiere is die lemur. Altesaam 28 spesies en tientalle subspesies van dié primaat (soort aap) kom voor en heelwat word bedreig en kan dalk uitsterf.

Die lemur is ’n pelsdier wat van boom tot boom hop.

Een soort lemur, die ringstert, is hul nasionale dier.

Madagaskar se grootste soogdier is die fossa (Cryptoprocta ferox) oftewel fretkat. Dis ’n katagtige, vleisvretende dier wat veral lemurs en voëls jag.

’n Fossa. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die gestreepte tenrek (Hemicentetes semispinosus) is ’n eienaardige, stertlose soogdiertjie wat in die reënwoud voorkom en hoofsaaklik wurms eet.

Die eiland spog ook met 32 spesies verkleurmannetjies.

Daar is ook 172 voëlspesies, waarvan 105 nêrens anders in die wêreld voorkom nie. Meer as 95% van Madagaskar se reptiele sal ’n mens ook net daar vind.

Terloops, die slange is nie giftig nie.

Madagaskar se sissende kakkerlak sal jou dalk laat gril. Dié gogga kan tot 8 cm lank word.

Die Groot Rooi Eiland het boonop die derde grootste koraalrifstelsel ter wêreld. Die Toliara-koraalrif is aan die suidweskus van die eiland geleë.

Bevolking

Antananarivo, die hoofstad, met die Anosymeer in die middel. Foto: Gallo Images/ Getty Images
’n Vrou in ’n tradisionele uitrus­ting en met gesigsversiering in Antsanitia. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hoewel die eiland net sowat 400 km van die Afrika-vasteland is, behoort sy taal, Malgassies, tot ’n groep tale wat in Indonesië, ’n land 5 000 km oos daarvan, gepraat word.

Genetiese toetsing het getoon die Malgasse is afstammelinge van sowel Afrika as Asië.

Die mense het hulle aanvanklik afsonderlik in nedersettings op die eiland gevestig en later vermeng geraak.

Madagaskar is vandag nogal ’n arm land en die meeste mense leef onder die broodlyn.

Klimaat en omgewing

Ryslande lê in terrasse in die sentrale hoogland van Madagaskar. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Madagaskar het ’n tropiese klimaat aan die kus, ’n ma­tige binneland en ’n dorre suidelike streek.

Net twee seisoene heers – die reën­seisoen (Desember tot April) en droë seisoen (Mei tot November).

Die eiland word gereeld aan tropiese siklone blootgestel wat stortreën en oorstromings meebring.

Oorbeweiding deur vee en ontbossing lei tot erosie. Erosie beteken die water spoel al die vrugbare grond weg.

Boere brand hul landerye ná ’n oes af en dit beskadig die omliggende woude.

Teen 1994 was 75% van die eiland se woude vernietig en in 2000 het net sowat 20% van die woude nog bestaan. Steeds hou die vernietiging nie op nie.

Tog is daar nog groot dele van die eiland wat uit ongerepte natuurskoon bestaan en dit lok ekotoeriste.

In 'n neutedop
  • Amptelike naam: die Republiek van Madagaskar
  • Grootte: 587 041 km²
  • Bevolking: sowat 25 miljoen 
  • Hoofstad: Antananarivo, met byna 2 miljoen inwoners
  • Amptelike tale: Malgassies en Frans
  • Nasionale sport: rugby

Kyk gerus na dié video om nog te leer oor die natuurlewe van Madagaskar:

Bronne: sciencekids.co.nz, atozkidsstuff.com, phys.org, britannica.com, ducksters.com, encyclopedia.com, wikipedia.org