Tot vandag toe word geglo sy was een van antieke Egipte se groot skoonhede – selfs haar naam beteken “die beeldskone vrou het gekom”, en sy is as ’n lewende godin aanbid. 

Maar daar is soveel meer aan Nefertiti as net ’n mooi gesig. Ons leer jou wie sy was en hoekom sy so belangrik in Egipte se geskiedenis is. 

Wie was sy?

Nie veel is oor Nefertiti se opvoeding bekend nie.

Party historici meen sy is in Thebe in Egipte gebore, terwyl ander glo sy het dalk van ’n ander land, soos Sirië, gekom.

Sy het vermoedelik met haar koning, Amenhotep IV, getrou toe sy net 15 jaar oud was.

As die sogenaamde Groot Koninklike Vrou het Nefertiti saam met haar man regeer ty-dens sy bewind van 1353 tot 1336 v.C. Hulle het ses dogters en ’n seun gehad.

Een van haar dogters, Anchesenamen, het met die beroemde Egiptiese heerser Toetankamen – een van Amenhotep se seuns by ’n ander vrou – getrou. Jy ken hom waarskynlik as koning Toet. 

Hervorm 'n koninkryk 

Egiptenare het vele gode en godinne aanbid – party het Nefertiti selfs as ’n lewende godin beskou en haar aanbid.

Maar sy en haar man het dit die belangrikste gemaak om die songod, Aten, te aanbid. 

Hulle het die kultus van Aten gevestig en die rol van priesters aangeneem wat gewone mense sou help om nader aan die songod te kom.

Nefertiti het selfs haar naam verander na Nefer­neferoeaten-Nefertiti, wat “beeldskoon is die skoonhede van Aten; ’n beeldskone vrou het gekom” beteken – wat ’n tongknoper!

Nefertiti en Amenhotep (later bekend as Achenaten) het ’n hele stad met die naam Achetaten, wat Horison van Aten beteken, 312 km suid van die hedendaagse Kaïro vir die songod gebou.

Hulle het hul hele hoofstad van Thebe na Achetaten verskuif.

Die beroemde borsbeeld

’n Span Duitse argeoloë het die beeldsnywerk van Nefertiti se kop en skouers meer as ’n eeu gelede in 1912 gevind. Die pragtige beeld is meer as 3 300 jaar gelede gekerf.

Dit is in die ruïnes van die werk­winkel van die beeldhouer Toet­moses gekry. Die borsbeeld is al dekades lank in die Neues Museum in Berlyn, maar daar is ’n groot debat oor of dit aan Egipte teruggegee moet word en of dit behoort aan die argeoloë wat dit gevind het. 

Die vroulike farao

Op baie argeologiese terreine word Nefertiti op ’n gelyke stand as dié van ’n koning uitgebeeld.

Teen die mure van die graftombes en tempels wat tydens Achenaten se bewind gebou is, word sy langs haar man uitgebeeld – besig met rituele en offers aan die son. 

Maar Nefertiti se naam verdwyn in ongeveer die 12de jaar van Achenaten se bewind van 17 jaar uit historiese rekords.

Dit is moontlik dat sy op daardie punt dood is, maar party historici meen sy het ­onder haar nuwe naam, Neferneferoeaten, haar man se medeheerser geword.

Daar is ook bespiegeling dat sy ná haar man se dood onder die naam Smenchkare, wat historici meen ’n ander naam vir Nefertiti kon wees, as farao regeer het. 

Blitsfeite

Kobra 

Die kobra wat bakkop maak, was ’n simbool van koningskap en goddelike gesag in antieke Egipte.

Kroon

Die kenmerkende kroon wat Nefertiti dra, dien as ’n bewys dat dit wel haar borsbeeld is. 

Linkeroog

Dis nie duidelik of Nefertiti se linkeroog weggeraak het en of die kunstenaar die stuk bloot nie voltooi het nie.

Party historici dink Nefertiti het dalk aan ’n ooginfeksie gely en gevolglik haar linkeroog verloor. 

Borsbeeld

Die borsbeeld is uit kalksteen gekerf en toe met pleisterkalk bedek en geverf.