Vanaf sy ontdekking in 1930 tot in 2006 is Pluto as die negende planeet in ons sonnestelsel beskou.

Dertien jaar gelede het die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) egter 'n nuwe definisie vir ’n planeet aanvaar en daarvolgens kwalifiseer Pluto nie meer as planeet nie. 

Ons voormalige negende planeet word nou as 'n dwergplaneet beskou. Baie wetenskaplikes stem nie hiermee saam nie. Ons leer jou meer oor dwergplanete en die omstredenheid rondom Pluto.

Pluto is kleiner as die Aarde se maan. Illustrasie
Pluto is kleiner as die Aarde se maan. Illustrasie: Gallo Images/ Getty Images

Pluto se ontdekking

Die Amerikaanse sterrekundige Percival Lowell het in 1905 oortuig geraak van die bestaan van 'n negende planeet. 

Hy het afwykings in die wentelbaan van Neptunus en Uranus waargeneem en gedink daar moet iets aan die verste ent van ons sonnestelsel wees wat dié uitwerking het. Percival is in 1916 oorlede. 

Ons weet nou Pluto is te klein om ’n invloed op dié twee planete te hê. Daar was geen afwyking in hul wentelbane nie; hul massa is bloot verkeerd bereken.

Clyde Tombaugh het Pluto eindelik in 1930 by die Lowell-sterrewag in Arizona ontdek, heel toevallig naby die wentelbaan wat Percival vir sy ontwykende planeet voorspel het.

Hemelwaarts In 2006 is die ruimtetuig New Horizons
Hemelwaarts In 2006 is die ruimtetuig New Horizons op ’n sending na die buitewyke van ons sonnestelsel gelanseer. Die tuig het ná ’n reis van nege jaar in 2015 verby die dwergplaneet Pluto gevlieg. New Horizons het foto’s van Pluto en sy mane geneem en allerhande metings uitgevoer. Dit het ons kennis van Pluto aansienlik uitgebrei. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Wat is 'n planeet?

Om as 'n planeet gereken te word, moet 'n hemelliggaam volgens die IAU aan drie voorwaardes voldoen:

  • Hy moet in 'n baan om 'n ster (soos die son) wentel.
  • Hy moet (danksy sy swaartekrag) naastenby bolvormig wees.
  • Hy moes sy wentelbaan skoongevee het van ander voorwerpe. 
Venetia Burney het in 1930 as 11-jarige meisie met Pluto se naam vorendag gekom. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Clyde Tombaugh is op 17 Januarie 1997 in sy huis i
Clyde Tombaugh is op 17 Januarie 1997 in sy huis in Las Cruces, Nieu-Mexiko, oorlede. Voor sy dood het hy gesê hy wil hê sy as moet in die ruimte ingestuur word. ’n Houertjie met ’n bietjie van sy as in en sy naam daarop is aan die onderkant van New Horizons vasgemaak en saam Pluto toe gestuur. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hoekom kwalifiseer Pluto nie?

Pluto voldoen wel aan die eerste twee voorwaardes, maar die derde voorwaarde is die breekpunt vir Pluto as planeet. Pluto bevind hom in die Kuipergordel en is ongelukkig nie groot genoeg om die omgewing van sy eie baan te kon skoonvee nie. 

Die Kuipergordel, wat anderkant die planete aan die buitekant van ons sonnestelsel voorkom, bestaan uit ontelbare klein voorwerpe – oorblyfsels van die tyd toe die sonnestelsel gevorm het. 

Die voorwerpe in die Kuipergordel bestaan grootliks uit bevrore metaan, ammoniak en water.

Dwergplanete

Amper maar nie stamper nie – dit is die lot van dwergplanete.

Sulke ruimtevoorwerpe wat aan twee van die drie bo­genoemde voorwaardes vir 'n planeet voldoen, word dwergplanete genoem. Daar is tans vyf bekende dwergplanete in ons sonnestelsel: Pluto, Ceres, Eris, Makemake en Haumea. 

Pluto is te klein om as 'n volwaardige planeet beskou te word, maar hy is ook te groot om in kleiner kategorieë ingedeel te word. 

Sterrekundiges skat daar kan meer as 200 dwergplanete in ons sonnestelsel en in die Kuipergordel wees. 

Die verskil tussen planete en dwergplanete is nie altyd duidelik nie, en dit is hoekom die slimkoppe so oor Pluto vassit.   

’n Kunstenaarsvoorstelling van die New Horizons-se
’n Kunstenaarsvoorstelling van die New Horizons-sending. Illustrasie: Gallo Images/ Getty Images

Hoe lyk Pluto?

Pluto bestaan veral uit ys en rots en het 'n deursnee van sowat 2 380 km. Dis 'n koue wêreld in die verste, donkerste uithoeke van ons sonnestelsel. 

Die temperatuur op Pluto is nagenoeg -230 °C en die afstand van Pluto tot by die son is tussen 4,5 en 7,3 miljard km, afhangend van waar hy in sy wentelbaan is. 

'n Jaar op Pluto duur 248 aardjare. 'n Dag duur so 153 uur, ses aardse dae. Pluto is die grootste dwerg­planeet in ons sonnestelsel wat volume betref, maar Eris het 'n groter massa.

Pluto het 'n atmosfeer met verskeie lae, organiese verbindings, weerstoestande en mane. Daar is landskappe soos rotsagtige bergreekse en vlaktes. Daar is sneeu en sneeustortings, skuddings en moontlik selfs oseane.

Pluto het vyf bekende mane. Die grootste een is Charon, waarvan die deursnee sowat die helfte van Pluto s’n is.

Die vier ander mane is baie kleiner en staan bekend as Nix, Hidra, Kerberos en Styx. Die laaste twee is in 2011 en 2012 met behulp van die Hubble-ruimtetele­skoop ontdek.

Die teoretiese struktuur van Pluto. Illustrasie: G
Die teoretiese struktuur van Pluto. Illustrasie: Gallo Images/ Getty Images

Nuwe definisie

Planetêre wetenskaplikes soos Alan Stern van Nasa meen die New Horizons-sending het bewys ons moet ’n beter definisie vir 'n planeet en Pluto se stand in ons sonnestelsel vind. 

Hy en baie ander sterrekundiges voer aan dat ons nou weet Pluto bestaan uit valleie en ook komplekse strukture soos waterys. 

Daar is boonop ander geologiese eienskappe wat meer tipies van 'n planeet as 'n dwergplaneet is.

Sekere Nasa-wetenskaplikes stel voor die definisie vir 'n planeet moet net twee voorwaardes behels:

  • Die hemelliggaam moenie 'n ster of voormalige ster wees nie;
  • Hy moet nagenoeg bolvormig wees.
  • Volgens hierdie definisie sal 'n groot aantal dwergplanete en mane in ons sonnestelsel, ook ons eie maan, as planete kwalifiseer. Jy sien dus dat dit nie so maklik is om met 'n bevredigende definisie ­vorendag te kom nie. 
Bronne: hln.be, sciencealert.com, wibnet.nl, space.com, solarysystem.nasa.gov, wikipedia.org
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.