Victoria-waterval, Zambië en Zimbabwe

Die Victoria-waterval is in die Zambezirivier tussen Zambië en Zimbabwe. Dit is nie die breedste of hoogste waterval ter wêreld nie (sien die kassie heel regs), maar word die grootste waterval ter wêreld genoem omdat dit die grootste is as jy die maksimum hoogte (108 m) met die breedte (sowat 1 700 m, uitgesprei) vermenigvuldig.

’n Toeris swem in Devil’s Pool aan die rand van dié waterval.

Dit is net in die nat seisoen ná die somerreën dat die Zambezi op sy volste is (Februarie tot Mei). In die droë seisoen is die waterval heelwat kleiner. Die waterval het sy naam by die Britse ontdekkingsreisiger David Livingstone gekry. Hy was waarskynlik die eerste Europeër wat die waterval gesien het.

Dit was op sy ontdekkingsreis in 1855 en hy het dit na koningin Victoria genoem, wat toe die monarg van Brittanje was. ’n Standbeeld van Livingstone is aan die Zimbabwiese kant van die waterval opgerig. Die plaaslike naam is Mosi-oa-Tunya, wat baie meer beskrywend is. Dit beteken “die rook wat donder” en verwys na die mis of sproei van die waterval en die harde geraas wat dit maak, veral wanneer die rivier vol is.

Die Victoria-waterval is ’n bekende toeristeaantreklikheid. In die reënseisoen trek besoekers reënjasse aan wanneer hulle naby die waterval stap om dit te sien, want die sproei maak jou papnat, asof dit reën. ’n Mens kan ook in ’n vliegtuigie oor die waterval vlieg om dit mooi van bo af te sien en jy kan van ’n brug daar naby rekspronge doen. Dapper toeriste swem aan die Zambiese kant in Devil’s Pool, ’n poel aan die boonste rand van die waterval. Dit is net toeganklik wanneer die rivier nie vol is nie.

Augrabies-waterval, Suid-Afrika

Augrabies-waterval

Die Augrabies-waterval in die Noord-Kaap is een van die wêreld se grootste katarakwatervalle. ’n Katarakwaterval ontstaan wanneer ’n groot klomp water oor ’n krans stort. Dit is ’n tamaai, kragtige waterval, nie ’n enkele stroom wat oor die afgrond stort nie. Die Augrabies-waterval- Nasionale Park is sowat 120 km wes van Upington en sowat 40 km noord van Kakamas.

Die Oranjerivier het hier deur die loop van baie jare ’n diep kloof in die granietrotse gemaak. Dis ’n goeie voorbeeld van watererosie. Die hoofwaterval stort 56 m na benede in ’n 18 km lange kloof met steil, gladde wande. Wanneer die Oranjerivier vol is, is dit indrukwekkend om dié waterval te sien. So ’n groot klomp water maak nogal ’n geraas. Dis ook waar die waterval sy naam kry.

Die Khoi-mense het dit “Aukoerebis” genoem, wat “die plek van groot geraas” beteken. Besoekers kan op ’n paar uitkykpunte op ’n houtdek staan om die waterval te aanskou. Die park het talle diere, onder meer kameelperde, springbokke, gemsbokke, koedoes en klipspringers. Onder die roofdiere is luiperds, rooikatte en jakkalse. Otters woon in die rivier. ’n Mens kan in die park kampeer of in huisies bly.

’n Blyplek is by een van die uitkykpunte oor die waterval gebou van waar ’n mens die waterval mooi kan sien wanneer jy soggens wakker word. ’n Ander opsie is om net vir die dag te gaan piekniek hou of iets by die restaurant daar te gaan eet.

Maletsunyane-waterval, Lesotho

Maletsunyane-waterval in Lesotho.

Die Maletsunyane-waterval in Lesotho is een van ons buurland se grootste toeriste-aantreklikhede. Dié waterval is 192 m hoog en een van die watervalle met die hoogste enkele val in die Suidelike Halfrond. Die waterstroompie onder die waterval loop tot in die Senqurivier. Dit is die Basotho se naam vir die Oranjerivier. Die naaste dorpie aan die waterval is Semonkong, wat Sotho is vir “plek van rook”.

Dit verwys na die watersproei of mis wat van onder die waterval af opstyg en soos rook lyk. Semonkong is sowat 130 km van die Maseru-grenspos met Suid-Afrika. ’n Mens kan langs die waterval abseil as jy nie hoogtevrees kry nie. Dié abseil-avontuur is 204 m van bo tot onder en hou die Guinness-wêreldrekord vir die hoogste kommersiële abseil (waar ’n mens betaal).

Toeriste doen ook bergfiets- en ponieritte in die omgewing of gaan stap in die berg. Lesotho is immers die bergkoninkryk.

INTERNASIONALE WATERVALLE

Niagara-waterval

Die Niagara-waterval.

Dié waterval in Noord-Amerika is een van die bekendste watervalle ter wêreld. Dit kry jaarliks sowat 12 miljoen besoekers. Die waterval is tussen die Kanadese provinsie Ontario en die Amerikaanse staat New York. Dit bestaan eintlik uit drie afsonderlike watervalle: die Horseshoe, American en Bridal Veil.

Angel-waterval

Angel-waterval in Venezuela.

Die Angel-waterval (bo) in Venezuela is die hoogste ononderbroke waterval ter wêreld. Dit is 979 m hoog. Dit is genoem na Jimmie Angel, ’n Amerikaanse vlieënier en die eerste mens wat oor die waterval gevlieg het, in 1933.

Dit word ook Kerepakupai Vená genoem, wat “waterval van die diepste plek” beteken. Die Tugela-waterval in die Drakensberge in Suid-Afrika is die naashoogste waterval ter wêreld, maar sy 948 m bestaan uit vyf verskillende watervalle.

7 WONDERS

In 1997 het die Amerikaanse TV-stasie CNN ’n lys van die Sewe Natuurwonders van die Wêreld saamgestel:

  • Victoria- waterval 
  • Die Grand Canyon 
  • Berg Everest 
  • Die Noorderligte 
  • Die Groot Koraalrif 
  • Baai van Rio de Janeiro 
  • Paricutín-vulkaan