Die eerste haaie het al voor die dinosourusse hul verskyning op aarde gemaak. Sedertdien het hulle in van ons planeet se toproofdiere ontwikkel – van die gevreesde grootwithaai tot die selfs blitsiger makohaai. Sowat 100 soorte haaie kom aan die Suid-Afrikaanse kus voor.

10 Bekende haaie in Suid-Afrikaanse waters 

1. Vaalhaai

vaalhaai,haai,see
Vaalhaai. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Lengte: Tot 3,7 m 

Gewig: Tot 180 kg

Waar: Veral in die dieper water aan die kus van Mosambiek tot die Suid-Kaap. Hoe algemeen? “Kwesbaar” op die IUBN-rooilys*. 

Kos: Kleiner visse, veral sardiens, tjokka en pyl­sterte.

Kitsfeit: Dié swerwers lê togte van digby 4 000 km af, byvoorbeeld na die Poolstreke in die somer.

2. Tierhaai 

haai,see
Tierhaai. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Lengte: Tot 5 m 

Gewig: Tot byna 900 kg

Waar: Meestal aan die KwaZulu-Natalse suidkus, maar ook in Kaapse waters. Hoe algemeen? “Amper ­bedreig” op die rooilys. 

Kos: Omtrent enigiets, insluitend ander haaie, see­soogdiere, -skilpaaie, -voëls en -slange en vullis. 

Kitsfeit: Van blikkies en klere tot nommerplate en buitebande is al in hul pense gevind.

3. Grootwithaai

see,haai
Grootwithaai. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Lengte: Tot 6 m 

Gewig: Tot 2,5 ton

Waar: Aan die hele Suid-­Afrikaanse kus. Hoe algemeen? “Kwesbaar” op die rooilys.

Kos: Robbe, seeleeus, klein walvisse, ander haaie en seeskilpaaie.

Kitsfeit: Die ster van die Jaws-flieks is die gevaarlikste haai, maar die meeste van hul aanvalle op mense is nie nood­lottig nie.

4. Groot hamerkophaai

haai,see
Groot hamerkophaai. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Lengte: Tot byna 6 m 

Gewig: Tot meer as 450 kg

Waar: Meestal aan die KwaZulu-Natalse kus.

Hoe algemeen? “Bedreig” op die rooilys. 

Kos: Rog-, viool- en tong­visse, pylsterte en seekatte.

Kitsfeit: Met sy verspreide elektro-reseptors kan hy sy omgewing goed fynkam vir prooidiere se elektriese impulse. Pyl­sterte skuil dus verniet ­onder seebodem­sand.

5. Walvishaai 

see,haai
Walvishaai. Foto: Shutterstock

Lengte: Tot meer as 12 m 

Gewig: Tot meer as 20 ton

Waar: Veral naby KwaZulu-­Natal se noordkus. 

Hoe algemeen? “Bedreig” op die rooilys. 

Kos: Plankton, kleinerige visse en weekdiere soos sardiens en ansjovis.

Kitsfeit: Die grootste vis in die see is grootliks on­skadelik. Walvishaaie swem baie stadig en laat duikers soms saamry deur aan hul rugvin vas te hou.

6. Swarttiphaai

see,haai
Swarttiphaai. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Lengte: Tot 2,4 m 

Gewig: Tot meer as 100 kg

Waar: Hoofsaaklik in die warm kuswater van KwaZulu-Natal en Mosambiek. 

Hoe algemeen? “Amper bedreig” op die rooilys. 

Kos: Rôe, pylsterte, sardiens en kleiner haaie, asook inkvis en kreef.

Kitsfeit: Die haai, genoem na die swart punte van sy vinne, skiet dikwels bo die water uit in “sluipaanvalle” op visse op die oppervlak.

7. Skeurtandhaai 

Skeurtandhaai
Skeurtandhaai. Foto: Shutterstock

Lengte: Tot 3,2 m 

Gewig: Tot 160 kg

Waar: Veral aan Suid-­Afrika se oos- en suidkus.

Hoe algemeen? “Kwesbaar” op die rooilys.Kos: Klein visse, skaal­diere en tjokka. In groepe volg hulle vissersbote om op die visse te aas wat uit die nette ontsnap.

Kitsfeit: Hul haakvormige tande wat alle kante toe staan, is ontwerp om prooi te gryp en heel in te sluk.

8. Kortvin-makohaai

haai,see
Kortvin-makohaai. Foto: Shutterstock

Lengte: Tot 4 m 

Gewig: Tot 600 kg

Waar: In die meeste Suid-­Afrikaanse waters, maar kom nie naby die kus nie. 

Hoe algemeen? “Bedreig” op die rooilys. Kos: Van die vinnigste visse, soos tuna en swaardvis, asook tjokka.

Kitsfeit: Die Usain Bolt van die see. Teen tot 56 km/h, ’n raps vinniger as “Jaws” se 40-50 km/h, is dit die vinnigste haai.

9. Bulhaai

haai,see
Sewekieue-koeihaai. Foto: Shutterstock

Lengte: Tot 3,5 m 

Gewig: Tot 230 kg

Waar: Naby die kus van KZN en Mosambiek. 

Hoe algemeen? “Amper ­bedreig” op die rooilys.

Kos: ’n Groot verskeidenheid vis, insluitend ander haaie, asook dolfyne. 

Kitsfeit: Hulle word so genoem oor hul kort, stomp snoet, aggressiewe gedrag en geneigdheid om hul prooi met die kop te stamp voor hulle aanval.

10. Sewekieue-koeihaai

haai,see
Bulhaai. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Lengte: Tot 3 m 

Gewig: Tot 300 kg

Waar: Veral naby die Kaapse Skiereiland en in Valsbaai in die besonder. 

Hoe algemeen? Dis onbekend hoe bedreig hulle is. 

Kos: Kaapse pelsrobbe en ’n verskeidenheid vis, insluitend kleiner haaie.

Kitsfeit: Hulle sal soms uit nuuskierigheid op duikers afswem, maar gewoonlik omdraai en wegswem wanneer dié reageer. 

*Rooilys: Die internasionale unie vir die bewaring van die natuur (IUBN) se rooilys van spesies se beskermingstatus het dié kategorieë: “minste kommer”, “amper ­bedreig”, “kwesbaar”, “bedreig”, “kritiek bedreig”, “uitgesterf in die natuur” en “uitgesterf”.

Hoe gemaak as jy 'n haai gewaar?
  • Moenie wild skop en spartel nie. Dit skep vibrasies in die water wat vir ’n haai na die onreëlmatige bewegings van gewonde prooidiere kan lyk. 
  • Probeer kalm bly en die water so vinnig moontlik verlaat. Haaie eet hoofsaaklik ander visse en skaaldiere en val mense net aan wanneer hulle hulle vir iets anders aansien of as mense hulle teister.

Bronne: KwaZulu-Natal Sharks Board, Two Oceans Aquarium, nationalgeographic.com, britannica.comiucnredlist.org, iucn.org, oceansafrica.com, floridamuseum.ufl.edu, discovery.com, animaldiversity.org, ocean.si.edu

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.