As jy om jou rondkyk, sal jy allerhande voorwerpe met spesifieke vorms sien. Ons noem dit strukture.

Strukture is van verskillende soorte materiaal gemaak, op ’n spesifieke manier saamgestel en het gewoonlik verskillende onderdele, maar vorm ’n voltooide geheel wat sterk en stabiel is. Ons leer jou meer oor strukture.

Indeling

Daar is twee hoofsoorte strukture en elke struktuur dien ’n doel. Ons kry natuurlike strukture soos bome, rotse en grotte. Dan is daar ook mensgemaakte strukture soos huise, vliegtuie, bakstene en rugbyballe. Ons kan hierdie strukture in drie kategorieë verdeel:

  • Soliede strukture
  • Dopstrukture
  • Raamstrukture

’n Mens kan ook twee of drie van hierdie basiese strukture saam in een voorwerp gebruik sodat dit nuttiger sal wees. Ons noem dit ’n kombinasiestruktuur.

Dié tonnel by Kalkbaai in die Wes-Kaap is ’n dopst
Dié tonnel by Kalkbaai in die Wes-Kaap is ’n dopstruktuur.

Solied

’n Soliede struktuur is taamlik dig met min of geen oop ruimtes tussenin nie. Dit is dus baie stewig en sterk en sal nie sommer van vorm verander as ’n swaar las daarop gelaai word nie.

Voorbeelde van hierdie strukture is ’n damwal van beton, ’n marmerstandbeeld en ’n telefoonpaal van hout. Dit is moontlik om soliede strukture selfs stewiger te maak.

’n Mens kan byvoorbeeld staalpenne binne-in die beton van ’n damwal aanbring sodat die wal selfs meer druk kan weerstaan van die watermassa wat teen hom opstu.

Dop

’n Dopstruktuur hou of beskerm gewoonlik iets binne-in die struktuur. Dit is sterk, maar hol en lig vir sy grootte. ’n Krom oppervlak maak die dopstruktuur sterker omdat dit die materiaal saampers.

Skilpaaie het ’n raam- sowel as ’n dopstruktuur.
Skilpaaie het ’n raam- sowel as ’n dopstruktuur.

Maar ’n dop met ’n plat oppervlak kan uitrek of breek as ’n te sterk las daarop druk. ’n Natuurlike dopstruktuur soos ’n eier is vanweë sy krom ovaalvorm nogal sterk, al is die dop so dun.

Ander voorbeelde van dopstrukture is ’n koekblik, ’n skilpaddop en ’n valhelm. Elkeen hou iets veilig binne.

Raam

Raamstrukture is strukture met ’n “geraamte”. Hulle kom tot stand wanneer ’n mens verskillende stukke materiaal (strukturele komponente) saamvoeg om ’n raamwerk te vorm.

Die doel van die verskillende dele van die raamstruktuur is om ’n las te ondersteun. ’n Fiets is stewig genoeg om ’n vrag – die fietsryer – te dra. Die skelet van bene in jou lyf ondersteun die vrag van al jou ander liggaamsdele.

Sonder jou geraamte sou jy net ’n bobbel gewees het wat nie kon loop of staan nie. Jou geraamte beskerm ook die organe waarom dit ’n raamwerk vorm; jou ribbes beskerm byvoorbeeld jou longe. Ander voorbeelde van raamstrukture is wolkekrabbers en baie soorte brûe.

Die geraamtes van mense en diere is voorbeelde van
Die geraamtes van mense en diere is voorbeelde van natuurlike raamstrukture.

’n Raamwerk kan sterker of swakker wees na gelang van die materiaal, vorms en versterkings wat in die bouproses gebruik word. Jou fietsraam se driehoekige vorm en ronde buispype is heelwat sterker as wat ’n vierkantige vorm en plat pypies sou wees.

Die metaal verseker ook ’n veilige rit – anders as wat dit sou wees as jou fiets van hout gemaak was. Met die eerste stampie sou ’n stuk hout mos kon afbreek!

Kombinasie

Baie voorwerpe kan as kombinasiestrukture beskou word omdat ons meer as een soort struktuur – soliede, dop- en raamstrukture – gebruik om dit te maak.

As ’n timmerman ’n houthuis bou, is allerhande soliede strukture ter sprake, soos die houtpale, -panele, sementfondament en selfs die spykers.

Met die pale wat in die fondament geanker is, bou die timmerman ’n raamwerk. Die panele wat op hierdie raamstruktuur vasgekap word, vorm mure wat saam met die dak die beskermende dop van die huis vorm.

Hierdie hout­huis is nog ’n voorbeeld van ’n kombi
Hierdie hout­huis is nog ’n voorbeeld van ’n kombinasie-­struktuur.

Ons kan so ’n huis dus as ’n kombinasiestruktuur beskou.

Funksie

Ons kan strukture ook indeel na aanleiding van die funksie wat dit vervul. Sommige strukture se doel is om iets binne te hou of te beskerm, ander strukture ondersteun iets wat bo-op hulle rus en gee terselfdertyd stabiliteit, terwyl ander – soos ’n brug oor ’n kloof – gebruik word om ’n ruimte of afstand te oorspan.

As erosie teen ’n helling langs ’n stuk pad veroorsaak dat klippe en modder oor die pad spoel wanneer dit reën, kan die siviele ingenieur wat aan die padbouprojek werk, besluit om ’n keermuur (’n soliede struktuur) te bou om die modder en klippe binne te hou – weg van die pad af.

Nog ’n voorbeeld van ’n struktuur wat iets binnehou, is ’n bal wat lug binnehou sodat dit kan bons en jy daarmee kan speel. Strukture kan ook inhoud beskerm, byvoorbeeld ’n valhelm wat jou kop beskerm as jy op ’n fiets ry.

So kan jy ook ’n trapleertjie (’n raamstruktuur) gebruik wat sterk genoeg is om jou gewig te dra as jy te kort is om bo in die koskas by die koekieblik uit te kom.

Nog voorbeelde van ondersteuningstrukture is pilare wat ’n swaar stoepdak ondersteun en ’n fondament wat ’n huis stabiliteit gee. 

Die Taipei 101-gebou
Die Taipei 101-gebou
Het jy geweet?

Buigsame strukture kan onvoorspelbare stukragte beter weerstaan as stewige, rigiede strukture.

Die Taipei 101-gebou, een van die wêreld se hoogste wolkekrabbers, is gebou op skokbrekers wat keer dat die gebou tydens ’n aardbewing inmekaartuimel.

Kopie: Cum Laude Media;

Bronne: prezi.com, titanweb.co.za, petervaldivia.com, teachers.wrdsb.ca, livescience.com, msfriess.weebly.com, wikipedia.org

Foto's: Gallo Images/Getty Images