Op 2 Mei 1952 het die wêreld se heel eerste kommersiële straler met 36 passasiers aan boord in Londen opgestyg onderweg na Johannesburg. Die vlug van die De Havilland DH 106 Comet moes vyf keer op dié roete stop – in Rome, Beiroet, Khartoem, Entebbe en Livingstone – om sy brandstof aan te vul.

Die vlug het sowat 23 uur geduur, ongeveer dubbel die sowat 11 uur wat dit vandag duur om dieselfde roete af te lê. Dié vlug het die begin van die straler-era ingelui. Die vliegtuie het intussen in supersnelle vervoermiddels ontwikkel.

Stralers in Suid-Afrika

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het van 1952 De Havilland Comets van die Britse lugdiens BOAC gehuur en sy eerste eie straler, die Amerikaans vervaardigde Boeing 707, in 1958 aangeskaf nadat die Comets in lugrampe betrokke was.

Die SAL se eerste 707 het in Oktober 1960 in Europa geland. In 1962 het die SAL se stralers die eerste ononderbroke vlugte tussen Suid-Afrika en Brittanje, sowel as ander plekke in Europa, aangebied.

Die lugdiens se eerste Boeing 747-400, met die naam Durban, het op 19 Januarie 1991 in Suid-Afrika geland.

Voor stralers

Vroeër was dit glad nie glansryk om per vliegtuig te reis nie. Die onophoudelike geraas en vibrasie van die vliegtuie se enjins het lang vlugte selfs meer uitputtend gemaak. Die meeste vliegtuie kon ook nie hoog genoeg vlieg om slegte weer te vermy nie; dus was die vlugte gewoonlik maar baie stamperig.

Die De Havilland DH 106 Comet verlaat ­Londen op sy heel eerste vlug onderweg na Johannesburg. Van die passasiers op die eerste vlug was ’n joernalis, tandarts, polisievrou, komponis en ’n aantal ingenieurs en sakelui.
Suid-Afrika se eerste Boeing 747 hier op sy laaste vlug op 5 Maart 2004.
’n Ingenieur gaan ’n straalenjin na om te verseker dit is in ’n werkende toestand.

Die Britse lugmagoffisier Frank Whittle het die aandrywing van vliegtuie in gedagte gehad toe hy die straalenjin uitvind. Whittle se enjin is in 1941 die eerste keer in ’n vliegtuig gebruik, maar die meeste straalvliegtuie is aanvanklik vir militêre doeleindes aangewend en het eers later passasiers begin vervoer.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Brittanje die wêreld se eerste passasierstraler bekendgestel. Die De Havilland Comet was vaartbelyn en stil en kon hoër en vinniger as enige ander vliegtuig vlieg.

Hoe werk ’n straalenjin?

’n Straalenjin is ’n masjien wat brandstof in dryfkrag omskep. Die dryfkrag van een of meer enjins “stoot” ’n vliegtuig vorentoe om lug oor sy vlerke te laat beweeg en ’n opwaartse druk te skep wat die vliegtuig in die lug hou.

’n Tegnies meer korrekte naam vir ’n straalenjin is ’n gasturbine. Dit is ’n beter beskrywing van hoe dié soort enjin werk. ’n Straalenjin werk deur brandstof in die lug te verbrand om warm uitlaatgasse vry te stel.

Dié gasse word dan verby ’n windmeulagtige wiel (oftewel ’n turbine) gestoot, wat daartoe lei dat die wiel draai. Dit is waarom dit ook ’n gasturbine genoem kan word.

’n Lang geskiedenis

Soos die meeste wetenskaplike uitvindsels is die straalenjin die resultaat van baie jare se denkprosesse en wetenskaplike eksperimente. Reeds sowat 2000 jaar gelede het die Griekse wiskundige Hero van Alexandrië die idee gehad om beweging te skep deur ’n straal vloeistof in die teenoorgestelde rigting te dryf.

Hy het toe al ’n stoomaangedrewe toestel beskryf wat soos ’n primitiewe straler sou werk. Daarna het die teorieë van Leonardo da Vinci, Isaac Newton en talle ander wetenskaplikes die weg gebaan vir die ontwikkeling van die straalenjin. In 1791 is die eerste patent vir ’n eenvoudige gasturbine aan John Barber toegeken.

Frank Whittle

Meer as 130 jaar later, in 1922, is ’n patent vir ’n eenvoudige straalenjin aan die Franse ingenieur Maxime Guillaume toegestaan. Hoewel dié enjin nooit gebou is nie, het dit die regte idee gehad. Dit het bestaan uit ’n reeks turbines wat lug saamdruk wat dan met brandstof gemeng is en aan die brand gesteek sou word.

In die 1930’s het Frank Whittle die eerste straalenjin ontwerp. Hy het al in 1929 verklaar net ’n straalenjin sou genoeg krag kon genereer om ’n vliegtuig op hoër hoogtes aan te dryf. Maar die Britse lugmag was voor die Tweede Wêreldoorlog nog nie oortuig nie.

Die Concorde

Whittle het toe sy eie maatskappy gestig wat teen 1937 die eerste werkende enjin vervaardig het. Teen dié tyd het die Duitse fisikus Hans von Ohain ’n soortgelyke ontwerp gehad en kon hy die eerste stralervlug met die Heinkel He 178-vliegtuig in Augustus 1939 aanpak.

Teen 1947 was die tegnologie van straalenjins al so goed ontwikkel dat die F-86-turbostraler deur die klankgrens kon breek, amper op dieselfde tyd as wat die klankgrens vir die eerste keer deur ’n vuurpylgedrewe vliegtuig gebreek is. In 1958 is die Comet 4 en die Amerikaanse Boeing 707 ingespan vir gereelde stralervlugte oor die Atlantiese Oseaan tussen Europa en Amerika.

Die vlieënier van ’n Blackbird lyk amper soos ’n ruimtevaarder.

Die Concorde was die eerste kommersiële straler wat vinniger as klank kon vlieg. Dit het in 1976 gereelde vlugte tussen Europa en Amerika onderneem. Die Concorde is nie vir vlugte oor land gebruik nie weens die soniese knal wat gehoor word wanneer vliegtuie vinniger as klank vlieg. In 2003 is die duur Concorde-vlugte gestaak.

Bronne: historypod.net, mieliestronk.com, sciencefocus.com, explainthatstuff.com, livescience.com

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/BEELD JAN HAMMAN, MAGAZINE FEATURES