Klassieke musiek verwys gewoonlik na die aaneenlopende musikale erfenis van die Westerse beskawing wat sy wortels in die ou beskawings van Mesopotamië, Egipte, antieke Griekeland en die Romeinse Ryk het.

Dit gaan so ver terug dat ons nie eens meer weet hoe dit doerie tyd geklink het nie.

Instrumente wat uit destydse stryk-, tokkel-, blaas- en slaginstrumente ontwikkel het, lyk nou baie anders. Musiek is ’n kuns wat uit ’n baie ou tradisie put, maar voortdurend vernuwe en ontwikkel.

Ons gee jou ’n vlugtige oorsig oor honderde jare se musiekstromings. Ons kyk na die periodes sedert 1600 – ná die vroeë periodes van die Middeleeue (500-1400) en die Renaissance (1400-1600).

Die barokperiode

(1600-1750)

Die woord “barok” verwys moontlik na ’n groot oneweredige pêrel (barocco in Portugees), en dit dui op ’n kunsstyl van oordadige versiering. Barokmusiek is welluidend en hoogs georganiseerd met ingewikkelde patrone.

Die melodieë is fyn uitgewerk en versier. Daar is gewoonlik kontras en konflik tussen die dele in ’n stuk musiek en tussen die instrumente. Die musiek kan ook taamlik dramaties wees. Voorbeelde van komponiste uit hierdie periode is Johann Sebastian Bach, Antonio Vivaldi, Domenico Scarlatti, Georg Philipp Telemann en Georg Friedrich Händel.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die wonderkind Amadeus Mozart bespeel die klavier terwyl sy pa, Leopold, die viool bespeel en sy ma, Maria Anna, sing. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die grondslag vir die musikale uitdrukking in die volgende eeue is in die barokperiode gelê. Die idee van die moderne orkes het sy beslag gekry. Die opera (insluitend die overture, prelude, aria, resitatief en koraal), die concerto, sonata en moderne cantata het ook tot hul reg gekom.

In dié periode verskyn die viool en tjello met hul helder klanke uit die eenvoudiger violas. Die klavesimbel is ook in die barokperiode uitgevind.

Ouer musikale stelsels is aanvanklik soms nog ingespan, maar teen die begin van die 18de eeu het die moderne harmoniese stelsel met sy toonsoorte van mineur en majeur dwarsoor Europa die standaard geword. Hierdie soort musiek het in die verfynde samelewing inslag gevind by geleenthede soos buitemuurse dinees of as ’n skouspel soos die opera.

Welgestelde dames het ’n spinet (’n klein klavesimbel) gehad om te bespeel. Die rykes het musici gehad om tydens etes musiek te maak, soos die Duitse “tafelmusik”, waarvan Telemann ’n groot komponis was.

Periode van die klassisisme

(1750-1830)

Die musiekgenres wat in die baroktydperk tot stand gekom het, het baie jare lank ’n houvas op die aard van komposisies gehad. In die tydperk van die klassisisme het ’n musiekvorm opgang gemaak wat instrumentale komposisies tot vandag toe oorheers – die sonata.

Daarmee saam het die verdere ontwikkeling van die moderne concerto, simfonie, trio en kwartet tot ’n nuwe hoogtepunt van verfynde uitdrukking en struktuur gevolg. Die musiek van hierdie periode is ordelik, gebalanseerd en helder. Die vorm is net so belangrik soos die harmonie en tonaliteit, oftewel die musikale sleutel waarin ’n stuk gekomponeer is.

Op ’n suiwer musikale vlak was daar nou meer om oor te neurie. Melodieë en lekker wysies het koning gekraai bo die ingewikkelde polifonie (waar alles gelyktydig speel), en komponiste soos Mozart, Haydn en Beethoven het floreer omdat hulle so vaardig was om sulke mooi musiek te komponeer.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Chopin speel vir die Radziwills, 1829 (tekening deur Henryk Siemiradzki, 1887). Foto: Gallo Images/Getty Images

Nuwe instrumente het hul taak soveel makliker gemaak. Die grootste ontwikkeling in hierdie periode was die klavier. Voor die klavier sy verskyning gemaak het, was die klavesimbel met sy twêngerige klank die hoofinstrument van die barokperiode.

Maar die klavier is tot sagte en subtiele klanke in staat, wat ’n groot verbetering is. Die orkes het ook in die periode van die klassisme uitgebrei. Barokorkeste het gewoonlik net uit snaarinstrumente, soms met houtblaasbegeleiding, en ’n klavesimbel bestaan. In die tyd van die klassisme het houtblaasinstrumente (soos die klarinet, fluit, horings en hobo) in so ’n mate verbeter dat hulle hul eie afdeling in ’n standaardorkes gekry het.

Orkeste het begin lyk soos dié wat ons ken. In hierdie tyd het die strykkwartet ook tot stand gekom.

Die romantiese periode

(1820-1900)

Die periode van die romantiek aan die begin van die 19de eeu was ’n goue era van die virtuoos (uiters vaardige voordragkunstenaar). Hulle het baie moeilike musiek met klaarblyklike gemak uitgevoer voor ’n gehoor vol bewondering.

Die emosionele reikwydte van die musiek en die getal instrumente wat ingespan kon word, is in die romantiek vergroot. Houtblaasinstrumente soos die kontrafagot, basklarinet en die klein dwarsfluit het in orkeste opgeduik om musikale kleur te verskaf.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Voor die klavier met sy moduleerbare klanke sy verskyning gemaak het, het die klavesimbel met sy twêngerige klanke koning gekraai. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die slagwerkafdeling het ook in grootte uitgebrei met die verskyning van xilofone, tromme, celestas, harpe, klokke en driehoeke. Die musiek van hierdie era klink ongebonde en vry van enige beperkings op die vorm daarvan.

Baie van die musiek is programmaties. Dit beteken daar is ’n storielyn wat iets beskryf soos ’n gevoel (soos liefde of treurigheid) of ’n natuurtoneel. Die musiek boots byvoorbeeld riviere na of perde wat galop. Frédéric Chopin, Felix Mendelssohn, Pjotr Tsjaikofski, Franz Schubert en Robert Schumann is die groot komponiste van die romantiek.

Moderne periode

(1900 tot vandag)

Die moderne klassieke musiek is dikwels maklik om te omskryf, maar nie altyd so maklik om na te luister nie. Die grootste reël vir hierdie periode is dat daar geen reëls is nie. Die hoofgedagte van komponiste in hierdie periode is om die reëls te verbreek en anders te wees.

Die chaos en trauma van die twee wêreldoorloë het veral bygedra tot die verbystering wat komponiste in oënskynlik verskillende rigtings laat trek het. Sergei Prokofiëf, Igor Stravinsky, Aaron Copland en ander onlangse komponiste is die skeppers van die klassieke musiek van die 20ste eeu.

Moderne musiek gee komponiste die geleentheid om tradisionele musiek-idees na te boots en dit met hul eie kreatiewe benadering en algehele vryheid in iets nuuts te omskep. Moderne musiek is ’n ontdekkingsreis. Die luisteraar sal sekere komposisies afkeur en weer by ander aanklank vind.

Die verskeidenheid is baie groot. Jy dink miskien musiek moet ’n wysie hê, maar daar is baie moderne klassieke musiek wat wysie- loos of van wysie af is!

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die vedel, ’n voorloper van die viool. Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy dink musiek móét op ’n musiekinstrument gespeel word, sal jy verbaas wees. Die Amerikaanse komponis Leroy Anderson het in 1950 “The Typewriter” gekomponeer waarin ’n tikmasjien as slaginstrument diens doen. ’n Ander ekstreme voorbeeld is die komposisie 4’33” – ’n stuk in drie bewegings deur die Amerikaanse eksperimentele komponis John Cage.

Dis in 1952 gekomponeer en die notering dui aan die musici moenie hul instrumente bespeel nie. Die stuk behels vier minute 33 sekondes van stilte!

’n Meer onlangse ontwikkeling in klassieke musiek is die postmoderne en kontemporêre. Minimalisme word gewoonlik as die eerste postmoderne styl beskou.

Dit was deels ’n reaksie teen die sogenaamde ontoeganklikheid en steriliteit van die musiek van modernistiese komponiste soos Arnold Schönberg, Pierre Boulez en die vroeë John Cage. Inderdaad, wat kan ’n mens doen om vier minute 33 sekondes van stilte te oortref?

Vroeë minimalistiese komponiste sluit in La Monte Young en Terry Riley, wat beïnvloed is deur die herhalende aard van Indiese en rockmusiek. Philip Glass word as een van die invloedrykste kontemporêre komponiste beskou.

Hy beskryf homself as ’n komponis van “musiek met herhalende strukture”. Mense vind sy musiek betowerend en byna hipnoties. Sy komposisies word ook as fliekmusiek gebruik in rolprente soos The Truman Show, Kundun en The Hours. Dalk het jy dit al gehoor? S

Wat is klassieke musiek?

Wanneer ons van klassieke musiek praat, dink ons veral aan musiek wat gekomponeer is om in konsertsale en operahuise deur orkeste, sangers, kore, kamermusiekensembles en solo- instrumentaliste uitgevoer te word.

Nog ’n eienskap van hierdie tradisie is dat komponiste aangetrokke voel tot musiek met ’n groter, gestruktureerde vorm.

Teks: Cum Laude Media; Bronne: wikipedia.org, classicsforkids, kristihillmusic.com, naxos.com, kidsmusiccorner.co.uk, nytimes