Die San is die vroegste inwoners van Suider-Afrika, en sommige leef steeds soos hul voorouers as jagter-versamelaars. Dit beteken hulle jag diere en versamel veldkos om te oorleef. Hul kultuur en kennis van die veld word al duisende jare lank van geslag tot geslag oorgelewer.

Wie is die Khoisan?

Die woord San is afgelei van ’n Khoi-Khoi-woord met die betekenis “mense wat wilde kos versamel” of “mense sonder vee”. Ons gebruik die benaming San deesdae om die inheemse mense van Suider-Afrika te omskryf wat van jag en versameling leef of vroeër so geleef het.

Die Khoi oftewel Khoi-Khoi (“mense van mense”) is ’n verwante bevolkingsgroep wat dieselfde genetiese oorsprong as die San het, maar ’n eie kultuur en tale ontwikkel het. Die Khoi het ’n paar duisend jaar gelede veeboere geword, terwyl die San hul jagter-versamelaarsbestaan voortgesit het.

Die San
Sangesinne en -vriende hou saans vergadering by kampvuur. Hulle bespreek gemeenskapskwessies, sing, dans, vertel stories en deel tradisionele verhale nes duisende jare tevore. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Lang geskiedenis

In nuwe argeologiese ontdekkings in die Tsodiloheuwels in die noordweste van Botswana is bewys die San het 70 000 jaar gelede al rituele daar beoefen.

In die Wes-Kaap dui “Eva se voetspore” naby Langebaan (die oudste bekende voetspore van ’n anatomies moderne mens) en opgrawings in onder meer die Blombosgrot aan dat die San minstens 117 000 jaar gelede al in Suider-Afrika teenwoordig was.

Kan jy jou indink hoe lank gelede dit is? Namate Nguni- en Sothosprekende groepe suidwaarts tot in Suid-Afrika getrek het, is die San verdring, oorwin of deur ander kulture geabsorbeer.

Europeërs het in die 17de eeu van Kaapstad na die binneland versprei en het die San ook verdring. Die San het langer in afgeleë streke soos die Drakensberge oorleef, maar vandag vind ons die meeste San in die Kalahari en ander woestyngebiede.

Die San
Die Tsodiloheuwels in Botswana bevat baie rotskuns en argeologiese bewyse dat die San 70 000 jaar gelede al rituele seremonies gehou het. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Leefwyse

Die San leef saam in klein groepe wat maklik kan rondbeweeg – gemiddeld 25 mans, vroue en kinders. In sekere tye van die jaar kan ander groepe by hulle aansluit om geskenke en nuus uit te ruil, troues te reël of vir ander sosiale geleenthede.

Hulle maak staat op ou kennis en leef in harmonie met die omgewing deur nie meer veldkos te pluk as wat nodig is nie. Hulle weet watter plante om te eet en watter om vir medisyne te gebruik.

Die Sangroepe volg ook die migrasie van bokke wat hulle vir kos moet jag. Sanmans is bekend vir hul talent om spoor te sny.

Die San het nie gesagsfigure of hoofmans nie, maar regeer hulself deur groepskonsensus. Dit beteken die hele groep moet saamstem oor dinge. Hulle hou lang gesprekke om probleme te bespreek, en elkeen kry ’n kans om iets te sê tot konsensus bereik word.

Die San
So maak die San vuur met ’n stokkie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Geloof en gebruike

Die San het ’n baie sterk tradisie van mondelingse oorvertellings. Dit bestaan uit stories oor die gode en dien as opvoeding vir veral jong luisteraars, met lesse oor wat die San as goeie en morele gedrag beskou.

Hulle hou ook inisiasieseremonies wanneer seuns en meisies grootmense word. Seuns leer jag en leer ook godsdienstige geheime. Meisies word dans en voedselbereiding-en-versameltegnieke geleer.

Ná hul inisiasie word die seuns en meisies as volwassenes beskou wat gereed is om te trou.

Hul geloofstelsel is politeïsties, wat beteken hulle glo in baie gode. In hul godsdiens aanbid die San ’n hoofgod en kleiner gode wat voorgestel word deur natuurelemente soos weerlig, water, vuur en diere.

Die eland is ’n belangrike dier in hul gedagtewêreld. Sommige groepe huldig ook die maan en die geeste van afgestorwenes. Die San glo dit druis in teen die gode se wêreldorde as ’n mens die grond bewerk. Dis hoekom hulle so lank aan hul leefwyse bly vasklou.

Die San
Sanrotstekeninge in die Drakensberge. Die eland is ’n belangrike dier in die San se godsdiens. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Eetgoed

Die San is baie goeie jagters wat hul eie pyle en boë maak. Die pyle is giftig en word in ’n koker gebêre wat gemaak word van die bas van die akasiaboom se wortels. Die Sanmans gebruik dodelike kewerlarwes as gif. Wanneer hulle ’n dier skiet, breek die pylpunt af en vergiftig die dier tot hy vrek.

Die boog van buigsame hout is sowat ’n meter lank en het ’n snaar van koedoe- of gemsboksening.

Hulle jag gewoonlik bokke, sebras, wildehase, leeus en kameelperde. Hulle eet ook graag skilpaaie, ystervarke, vis, goggas, slange, eiers en wilde heuning. Vleis word gekook of oor ’n vuur gebraai. Die San mors nie kos nie, en elke deel van die dier word gebruik.

In die woestyne waar die San vandag leef, is water baie skaars. Hulle het geleer om in die somer sekere wortels te skraap en die vog uit te druk. Die San dra hul water in volstruiseierdoppe. Terwyl die mans jag, versamel die vroue kos soos eetbare sampioene, neute, bolle, bessies en tsammas (woestynwaatlemoene).

Die San
Hulle vul volstruiseiers met water of die sap van ondergrondse knolle deur ’n hol rietjie te gebruik. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Die San
Foto: Gallo Images/Getty Images.

Kleredrag

Die San dra dierevelle. Mans kan gemaklik in ’n driehoekige lendekleed beweeg. In koue weer dra hulle ’n skouerkleed. Vroue dra ’n voorskoot van vel wat hulle met volstruiseierkrale, stukkies been of skulpies versier.

Ouer vroue klee hulself met ’n sjaal van vel. Kinders dra klein lendekleedjies of voorskootjies. Krale aan ’n sening kan as juweliersware gedra word.

Probleme

Sommige politici beskou hul leefwyse as “primitief” en probeer hulle dwing om te verander. Sonder hul jagvelde krepeer hulle. Dis moeilik vir die moderne San om die jagter-versamelaarsleefwyse voort te sit.

Hulle ervaar diskriminasie en leef in armoede, wat tot maatskaplike probleme en wanhoop lei. Die regering van Botswana het so onlangs as 2002 die laaste jagter-versamelaars gedwing om uit die Sentraal-Kalahari-wildreservaat te skuif om plek te maak vir diamantmyne.

Die Sanbevolking bestaan vandag uit byna 100 000 mense. Hulle is versprei oor Botswana (sowat 55 000), Namibië (sowat 27 000), Suid-Afrika (sowat 10 000), Angola (minder as 5 000) en Zimbabwe (sowat 1 200).

Rotskuns

Ons weet vandag die San was vroeër oor Suider-Afrika versprei. Hul rotstekeninge kan steeds gesien word in Angola, Namibië, Botswana, Zimbabwe, Mosambiek, Swaziland, Suid-Afrika en Lesotho.

Die kunswerke is gewoonlik uitbeeldings van diere of jagtonele. Die tekeninge is vol beweging en word op plekke gevind waar rituele plaasgevind het. Die Suid-Afrikaanse Digitale Rotskunsargief bevat meer as 250 000 afbeeldings, natreksels en historiese dokumente van Sanrotskuns.

Hierdie projek maak Sankuns toeganklik vir almal en bewaar die werklike kunsplekke teen skade weens besoekers wat dalk daaraan wil vat.