Gewoonlik wanneer ons leer van die aarde se biome – streke met ’n soortgelyke klimaat en geografie – word daar op biome op land gefokus. Die toestande in hierdie biome bepaal watter soorte plantegroei en dierelewe jy daar sal aantref. Die versameling plante, diere en ander organismes wat daar voorkom, vorm saam ’n ekostelsel.

Biome wat akwaties van aard is, word ook aangetref. Dit beteken hulle het met water te make. Akwatiese biome kan in varswater- en mariene biome onderverdeel word. Ons leer jou meer oormariene biome. “Mariene” verwys na die see; ons maak dus kennis met die see en seelewe.

Bron van lewe

Ons kan die mariene bioom as die wêreld se grootste bioom beskou omdat die see met sy soutwater sowat 70% van die aardoppervlak bedek. Die see bestaan uit vyf hoofoseane, die Stille, Atlantiese, Indiese, Arktiese (Noordpool-) en Antarktiese (Suidelike) Oseaan. Daar is ook verskeie kleiner seë en baaie.

Hierdie seewater bevat gemiddeld 35 gram sout in elke liter. Maar jy moenie dink dis te sout vir plante en diere nie. Die see wemel van allerhande lewensvorme. Dit vervaardig 70% van ons suurstof en voorsien kos aan meer as ’n miljard mense per jaar. Dis voorwaar ’n bron van lewe.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Koraalriwwe kom aan Suid-­Afrika se Ooskus voor. Foto: Gallo Images/Getty Images

Plante en diere

Ons het al meer as ’n miljoen plant- en dierespesies in die oseane ontdek, en wetenskaplikes reken daar kan nog ’n miljoen wees wat wag om ontdek te word. Dis veral alge en fitoplankton, maar ook groter plante soos kelp (seebamboes) in die see wat suurstof vervaardig en giftige koolsuurgas uit die atmosfeer onttrek.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Walvisse pronk in Hermanus. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die piepklein fitoplankton dien boonop as kos vir seediere wat wissel van klein vissies tot groot walvisse. Seeplante leef net in die sone waar genoeg sonlig hulle kan bereik om energie vir fotosintese te verskaf. Baie diere leef in die oseane, insluitend weekdiere, visse, walvisse, skaaldiere, bakterieë, swamme en seeanemone. Hulle het by die soutwater en koue aangepas. Mariene soogdiere het gewoonlik speklae (vet) om hulle teen die ysige koue te beskerm.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Besoedeling rig ernstige skade aan die oseaan en die plant- en dierelewe daarin aan. Onder kan ’n Kaapse pelsrob (Arctocephalus pusillus) gesien word met plastiek om sy liggaam wat die gevaar van besoe­deling vir diere demonstreer. Foto: Gallo Images/Getty Images

Rondom Suid-Afrika

In dié artikel fokus ons op die mariene ekostreke wat rondom ons eie land voorkom. Ons land se kuslyn is sowat 3 000 km lank. Waar die see en land saamval, kry ons rotsagtige en sanderige kusstreke, duine, strande, strandmere en koraalriwwe. Aan die Weskus groei kelp waarin visse, krewe en perlemoen leef.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Oorbevissing: Beskermde mariene gebiede kan help om dié bedreiging teen te werk. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bewaring

Ons mariene omgewing is vir Suid-Afrika van groot waarde. Dit is ’n aantrekkingskrag vir toeriste en verskaf werk, voedsel, medisyne, olie en ander hulpbronne. Die groot aanvraag na produkte, byvoorbeeld vis uit die see, kan tot onvolhoubare plundering lei. Treknette kan die seelewe groot skade berokken, en die mariene ekostelsel ly enorme skade weens voortgesette besoedeling deur die mens.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Kreef kom in baie SA waters voor. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ons moet die see met respek behandel en dit bewaar. Die Suid-Afrikaanse regering probeer sy deel doen om die oseaan te bewaar met die daarstelling van beskermde mariene gebiede – stukke kuslyn of oseaan wat volgens wet beskerm word sodat die omgewing daarby kan baat vind, sowel as die mense wat daar woon en dit gebruik.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die mariene ekostreke in SA waters.

Die seelewe kan in hierdie areas herstel en die druk op aangrensende onbeskermde gebiede verlig. Ons land het byna 50 beskermde mariene gebiede wat sowat 5% van ons waters bewaar. Die doelwit is om later 10% te beskerm. 

Ekostreke

1. Aan die Weskus van Suid-Afrika kry ons die Benguela-ekostreek.

Kenmerkend van dié streek is die koue water vanweë die koue Benguela-seestroom wat noordwaarts vloei. Die koue en voedingryke water wemel van visse soos Kaapse stokvis, ansjovis en sardyne en dit ondersteun dus heelwat visserybedrywighede.

2. Aan die Suidkus kom die Agulhas-ekostreek van Kaappunt tot by die Mbasherivier in die Oos-Kaap voor.

Die kontinentale bank is hier op sy breedste en huisves talle inheemse seediere soos seekatte, maasbankers, haaie en kreef. Dié gebied is warmer en gematig, maar in die suide meng die water van die warm en koue seestrome.

3. Aan die Ooskus kry ons die Natal-ekostreek, wat geleë is op ’n nou kontinentale bank waar baie riviere in die see uitmond, soos die Thukelarivier.

Hier tref ons jaarliks van Mei tot Julie die sardientjieloop aan wanneer miljarde sardientjies noordwaarts beweeg en verwoede vreetsessies onder roofvisse en -voëls ontketen. Die streek ondersteun onder meer garnaalvissery.

4. Die Delagoa-ekostreek van Kaap Vidal tot Mosambiek word sterk beïnvloed deur die warm Agulhas-seestroom wat suidwaarts vloei.

Koraalriwwe kom hier voor. Leer- en karetskilpaaie uit die see kom broei jaarliks hier op die strande.

5 & 6. Verder see-in kry ons nog aflandige ekostreke, die Suidoos-Atlantiese (5) en Suidwes-Indiese (6) ekostreek.

7. Suid-Afrika besit ook die Prins Edward-eilandgroep in die subantarktiese gebied, sowat 1 770 km suidoos van Port Elizabeth. Die eilandgroep is ’n ekostreek bekend as die Suidelike Indiese Oseaan-eilandtoendra en is in 2003 as ’n spesiale natuurreservaat geproklameer.

In dié yskoue klimaat groei grasse, mosse en kelp, terwyl albatrosse, pikkewyne en ander seevoëls op die eilande broei. Robbe en walvisse kom ook in dié waters voor. In 2013 is 180 000 km² van die oseaan rondom die eilande tot beskermde mariene gebied verklaar.

Dit behoort die bedreiging van oorbevissing hier van veral die Patagoniese tandvis te verhoed.

Het jy geweet?

Lewende koraal vorm koraalriwwe deur die afsetting van kalksteen.

In Suid-Afrika kom dit hoofsaaklik in die warm Ooskuswater in die groter St. Lucia-gebied, by Kosibaai, Sodwanabaai en Leadsman Shoal voor.

Teks: Cum Laude Media; Bronne: wikipedia.org, adventureincluded.co.za, academia.edu, marineprotectedareas.org.za, siyavula.com, kids.nceas.ucsb.edu, sciencedaily.com, planet.botany.uwc.ac.za