Het jy geweet sowat 2 500 jaar gelede het een mens oor die hele Midde-Oosterse streek geheers? Hierdie man se naam was Darius die Grote en hy was een van die belangrikste heersers van die Persiese Ryk.

Darius het oor die Persiese Ryk geheers toe dit op sy grootste en magtigste was. Dit het hom een van die invloedrykste leiers van die antieke wêreld gemaak.

Sy ryk

Darius was die derde of vierde koning van die Persiese Achaemenidiese Ryk en het 35 jaar lank tussen 522 v.C. en 486 v.C. regeer.

Onder sy leierskap het die ryk ooswaats uitgebrei en gebiede in die noorde van Indië ingeneem en beheer. Hy het ook sy visier op Griekeland gehad, maar sy twee invalle daar was onsuksesvol. Hy het ’n ryk opgebou wat destyds as die grootste ter wêreld bekend was.

Sy opgang

Darius was die seun van die provinsiale goewerneur van Baktrië en Persis. Hy is in 550 v.C. gebore, tydens die bewinde van die Persiese heerser Cirus II en sy seun, Kambuses II. Ná Kambuses se dood in 522 v.C. was daar geen aanspraakmaker op die troon nie en Darius, wat Kambuses se verlangse neef was, het besluit om die bewind oor te neem.

Maar ’n man met die naam Bardija, wat beweer het hy is Kambuses se broer, het toe reeds presies dit gedoen. Darius het gesê Bardija is ’n bedrieër en hom vermoor. Sy stryd om die troon het egter nie daar geëindig nie – hy moes ’n aantal rebellies en opstande onderdruk voor hy as heerser aanvaar is.

Darius die Grote
‘n Beeldsnywerk van Darius in Persepolis. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Sy heerskappy

In Darius se bewind het die Persiese Ryk baie veranderings beleef. Hy het ’n nuwe vorm van regering gevestig, ’n proses wat deur Sirus die Grote begin is, deur 20 verskillende provinsies te stig. Elke provinsie is ’n satrapie genoem en het onder die leiding van ’n satraap gestaan.

Die satraap se werk was om belasting in te vorder en te sorg daar is wet en orde in die streek. Darius het ook mates en gewigte gestandaardiseer, een geldeenheid ingestel en handelsroetes oor land en see ontwikkel.

Darius die Grote
Darius se paleis in Persepolis. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Sy netwerke

Om sy tamaai ryk te beheer, het Darius ’n reuse-koninklike padnetwerk laat bou. Dit het die Koninklike Pad ingesluit wat oor 2 400 km van Susa tot Sardis gestrek het.

Darius het ook ’n stelsel ontwikkel wat dalk die eerste posstelsel was – om met al sy satrape te kommunikeer. Op elke pad was posstasies waar koeriers perde geruil het namate die briewe hul weg tot by die koning gevind het.

Darius die Grote
Sy paleis in Susa. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Sy paleis in Susa

Darius het ’n reusepaleis laat bou in Susa, sy gunstelinghoofstad van die Achaemenidiese Ryk. Dit is op ’n 15 m hoë platform gebou en die hele koninklike kompleks het 100 ha beslaan. Vandag is nie veel van die manjifieke paleis oor nie en kan argeoloë maar net raai hoe dit gelyk het.

Dele van die pilare, beeldhoukuns en reliëfs wat behoue gebly het, kan in museums oral in die wêreld besigtig word (soos Die Fries van Boogskutters op die foto, wat in die Louvre in Parys, Frankryk, uitgestal word).

Dit gee ons ’n idee van hoe deftig die paleis was.

Darius die Grote
Die Fries van Boog­skutters word in die Louvre in Parys, Frankryk, uitgestal. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Sy paleis in Persepolis

Darius was die grootste koninklike argitek van sy geslag en sy stad Persepolis was een van sy grootste prestasies. Dit het uit ’n terras van 125 000 m² bestaan waarop ’n paar enorme geboue opgerig is, onder meer ‘n oudiënsiesaal met kolossale pilare en die taçara, of “winterpaleis”.

Die bouwerk aan die paleis is tydens Darius se bewind begin, maar eers ná sy dood tydens die bewind van sy seun Xerxes voltooi. Die paleis is van donkergrys klip gebou en die oppervlak is gepoleer sodat dit in die sonlig geblink het.

Anders as die paleis by Susa het dele van die winterpaleis behoue gebly. Die ruïnes kan vandag sowat 30 km noordoos van Shiraz in Iran gesien word.

Sy dood

Darius die Grote
Darius het sy reusegraftombe in die kranse by Naqsh-e Rustam, noordwes van Persepolis, laat uitkerf. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Darius het vir ’n inval in Griekeland voorberei toe ’n rebellie in Egipte uitbreek. Sy gesondheid was reeds swak en die spanning van die situasie in Egipte het hom verder laat agteruitgaan. Hy is in 486 v.C. dood terwyl hy vir oorlog voorberei het.

Bronne: thoughtco.com, biography.com, livius.org, historyforkids.net