Elke land op aarde het sy eie unieke natuurlewe. Die meeste lande het ook ’n nasionale dier, soos Suid-Afrika se springbok.

Ons leer jou oor nog nasionale diere, naamlik die wolf, bison en panda.

Hier is ook twee ongewone diere met ’n vreemde voorkoms wat nie hul land se nasionale dier is nie, maar tog baie fassinerend is.

Suid-Afrika: Aardvark

Jy weet mos ons land het interessante diere soos die seekoei wat sy bek so groot kan ooprek en die kameelperd met sy lang nek. Die vlugvoetige springbok is natuurlik ons nasionale dier.

Dan is daar die Groot Vyf, waarna die toeriste so graag gaan kyk – die olifant, buffel, leeu, luiperd en renoster. Maar ’n dier waaraan jy nie aldag dink nie, is die aardvark.

Die aardvark (Orycteropus afer), wat met sy lang snoet soos ’n vreemde vark lyk al is dit nie aan varke verwant nie, kom taamlik volop in die grasvelde en savanna van Afrika en Suid-Afrika voor.

Die aardvark (Orycteropus afer), wat met sy lang s
Die aardvark (Orycteropus afer), wat met sy lang snoet soos ’n vreemde vark lyk al is dit nie aan varke verwant nie, kom taamlik volop in die grasvelde en savanna van Afrika en Suid-Afrika voor. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die dier staan ook as ’n miervreter bekend en leef in tonnels. Hulle slaap hoofsaaklik bedags en is saans aktief op soek na kos.

’n Aardvark kan tussen 60 en 80 kg weeg en het byna geen hare aan sy lyf nie.

Hulle het wel baie sterk pote en kloue waarmee hulle vir kos grawe en wat hulle gebruik om as hulle bedreig word binne sekondes gate te grawe waarin hulle kan bly. Hul lang tonge (tot 30 cm lank) is amper vreemder as die lang snoet, want dis lank en klewerig sodat hulle ’n klomp termiete en miere op een slag kan vang. Die wyfies skenk die lewe aan een baba op ’n slag. Die aardvark is nie ’n bedreigde spesie nie.

Amerika: Bison

Die VSA is ’n reuseland met honderde soorte diere soos muishonde, bewers, voskatte en grysbere.

Die bison is egter hul baie indrukwekkende nasionale soogdier. Dis die swaarste landdier in Noord-Amerika.

’n Bisonbul kan tot 1 000 kg weeg. Foto: Getty Ima
’n Bisonbul kan tot 1 000 kg weeg. Foto: Getty Images/Gallo Images

Bisons kan tot 2 m hoog word en meer as ’n ton weeg. Die bison word met die prêrie en die vlaktes van die sentrale deel van die land vereenselwig.

Daar wei hulle aan gras, bossies en takkies. Hierdie herkouers hou gewoonlik in klein groepe, maar kom in die somerpaarseisoen in groot troppe bymekaar.

Die bulle baklei met mekaar om toegang tot die koeie te verseker.

Die koeie is nege maande dragtig en skenk die lewe aan een kalfie.

Pasgebore bisons word “rooi honde” genoem.Foto: Ge
Pasgebore bisons word “rooi honde” genoem.Foto: Getty Images/Gallo Images

Die bison is belangrik in die kultuur van die inheemse Amerikaanse stamme. In die 19de eeu het setlaars sowat 50 miljoen bisons doodgeskiet vir kos en vir die pret.

Teelprogramme en vleisboerdery het in onlangse jare gehelp om die getal bisons tot sowat 500 000 op te stoot.

Pasgebore bisons word “rooi honde” genoem.

China: Reusepanda

Pandas gebruik hul vergrote polsbene soos duime. F
Pandas gebruik hul vergrote polsbene soos duime. Foto: Getty Images/Gallo Images

Daar is geen tekort aan interessante diere in China nie.

Onder dié diere tel die takin (oftewel wildebeesbok), die goue stompneusaap, witliphert, rivierdolfyn en Chinese alligator.

Die bekendste van China se nasionale skatte is vir seker die reusepanda.

Hulle hou in gematigde woude hoog teen die berghange in die suidweste van die land waar hulle amper uitsluitlik van bamboes lewe.

Soms sal hulle ’n voël of knaagdier verorber, maar hulle verkies eintlik bamboes. Jy sal die panda gewoonlik in ’n sittende posisie aantref met hul agterpote voor hulle uitgestrek.

Hulle eet sowat 12 uur per dag en gebruik vergrote polsbene soos duime om die bamboes behendig te hanteer.

Pandas is enkellopers. Hulle het ’n goed ontwikkelde reuksintuig wat die mannetjies gebruik om mekaar te vermy.

In die lente snuffel hulle die wyfies uit om te paar. Wyfies is vyf maande dragtig voor die piepklein welpie gebore word.

Wanneer ’n babapanda gebore word, het hulle byna g
Wanneer ’n babapanda gebore word, het hulle byna geen hare nie en weeg minder as 100 g.

Die kleintjies is aanvanklik wit, maar ontwikkel mettertyd die geliefde swart-wit-skakering.

Australië: Eendbekdier

Dié land spog met unieke wilde diere soos die dingo, ’n soort wilde hond, en meer as 140 soorte buideldiere, waaronder kangaroes, koalas, wallabies, Tasmaanse duiwels en buidelmuise.

Die eienaardigste een is egter die eendbekdier of platipus (Ornithorynchus anatinus). Sy bek en gewebde pote herinner aan ’n eend, terwyl sy stert soos dié van ’n bewer lyk.

Eendbekdiere grawe met hul pote gate vir lêplek aa
Eendbekdiere grawe met hul pote gate vir lêplek aan die wateroewer. Foto: Getty Images/Gallo Images

Boonop is sy liggaamsvorm en pels amper soos dié van ’n otter. En pasop!

Die mannetjies is giftig. Hulle het ’n toonnael aan hul agterpote waarmee hulle hul vyand ’n giftige steek kan toedien.

Die eendbekdier kan onderwater soek na kossies soos goggalarwes, wurms en skulpdiertjies. Velletjies bedek hul oë en ore, en die neusgate sluit waterdig wanneer hulle duik. Hulle hou die kos saam met ’n bietjie gruis in hul kieste. Omdat hulle nie tande het nie, help die gruis hulle om hul kos te kou. Eendbekdiere grawe met hul pote gate vir lêplek aan die wateroewer. En hulle is een van net twee soogdierspesies (die echidna, oftewel mierystervark, is die ander een) wat eiers lê.

Italië: Wolf

Vir die mense van Italië is die wolf ’n simbool van hul land en hul lang geskiedenis.

Die Italiaanse wolf (Canis lupus italicus) is ’n subspesie van die gryswolf en is ook bekend as die Apennynse wolf na aanleiding van die bergreeks waar hy vroeër algemeen voorgekom het.

Naas die Appenynse bruinbeer is dit die grootste roofdier in die land.

Die Apennynse wolf behoort tot dieselfde dierefamilie as die hond, jakkals en dingo. By geboorte is hulle blind en doof, maar ná agt maande is die wolfies groot genoeg om te begin jag.

Die Apennynse wolf behoort tot dieselfde dierefam
Die Apennynse wolf behoort tot dieselfde dierefamilie as die hond, jakkals en dingo. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die wolwe leef saam in groepe wat deur ’n ou wolf gelei word. Daar was in die 1970’s net sowat 100 van hulle oor, maar danksy bewaringswetgewing is daar vandag na raming 2 500 van dié wolwe in Italië en randgebiede van Frankryk en Switserland.

Italianers verbind dié dier met die legende van Romulus en Remus, wat volgens oorlewering die stigters van die stad Rome was.

Die volksverhaal lui dat ’n wolvin hulle verlate by ’n rivier gevind en soos haar eie welpies grootgemaak het.

Italianers verbind dié dier met die legende van Ro
Italianers verbind dié dier met die legende van Romulus en Remus, wat volgens oorlewering die stigters van die stad Rome was. Foto: Getty Images/Gallo Images

Later het sy hulle aan ’n skaapwagter en sy vrou gegee om verder groot te maak. Romulus en Remus het later besluit om ’n stad te bou, en Romulus het toe die eerste koning van Rome geword. 

Het jy geweet?

Al het die dodo (Raphus cucullatus) van Mauritius al in die 17de eeu uitgesterf, word dit steeds as dié eilandstaat se nasionale voël beskou. Dodo’s was in dieselfde familie as duiwe, maar hulle kon nie vlieg nie. 

Die dodo word steeds as die nasionale voël van Mau
Die dodo word steeds as die nasionale voël van Mauritius beskou. Foto: Getty Images/Gallo Images