Riviere mond gewoonlik in die see of in ’n meer of ander rivier uit. Hul water beweeg gewoonlik stadiger wanneer hulle hul monding nader. Dit veroorsaak dat sediment – soliede materiaal soos sand en klippe – wat saam met die rivierstrome gesleur is op die bodem van die rivier gaan lê.

Dié opbou van sediment lei daartoe dat die rivier in verskeie strome vertak wat rondom die sediment vloei. Die sediment vorm mettertyd landmassas waar graslande en vleilande kan ontwikkel. Dit word ’n rivierdelta genoem. In min gevalle mond deltas op ’n grondvlakte uit en nie in ’n ander waterliggaam nie.

Die Okavangodelta in die noordweste van Botswana is so ’n ongewone delta wat nooit ’n ander waterliggaam bereik nie, maar net sy water en sediment oor ’n vlakte in die Kalahariwoestyn uitstort en dan opdroog. Die Okavangorivier voorsien die landoppervlak van water.

Die plat, uitgestrekte gebied vang die Okavangorivier se water op, wat graslande, vleilande en moerasse laat ontstaan. Dit is ’n gebied wat ryk is aan plant- en dierspesies.

Omvang

Die Okavangorivier, wat van Angola deur Namibië se Caprivistrook oor die grens na Botswana vloei, vorm ’n driehoekige delta waarvan die basis tot 240 km ver kan strek. Die deltastreek, waarvan die helfte dwarsdeur die jaar moerasagtig is, strek oor ’n gebied van 16 800 km².

Dit is amper so groot soos Eswatini (Swaziland). Tydens die reënseisoen is die grootste deel van die delta oorstroom. Die Moremi-wildreservaat beslaan byna 5 000 km² van die oostelike deel van die Okavangodelta. Die grootte en plat oppervlak van die delta is een van die redes waarom daar ’n groot verskeidenheid dierespesies in die gebied is.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Hiermee saam is die delta ’n belangrike waterbron omdat die delta deur die Kalahariwoestyn omring word.

Klimaat

Tussen April en September ervaar die Okavangodelta sy droë seisoen. Dit is die wintermaande wanneer droë en sonnige temperature verwag word. Hoewel dit deur die dag warm is, kan temperature in die aand skerp daal en kan dit koud wees.

Min tot geen reënval kom tydens die winterseisoen voor. Die somer begin in Oktober in die Okavangodelta en eindig in Maart, wanneer die droë winterseisoen begin. Die gebied se reënseisoen begin ook in die somermaande. Reënneerslae is onvoorspelbaar en vind plek-plek plaas. Dit kan ook ietwat koeler temperature in die somer veroorsaak.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Okavangodelta is op die lys van die Sewe Natuurlike Wonders van Afrika wat op 11 Februarie 2013 amptelik bekendgemaak is. Foto: Gallo Images/Getty ImagesFoto: Gallo Images/Getty Images

Die beste tyd om die Okavangodelta te besoek is in die winter, wanneer die temperature matiger is. Dit is dan nou wel die droë seisoen, maar die delta is dan juis oorstroom. Dit gebeur vanweë vloedwater van die Okavangorivier wat die delta tussen Junie en Oktober sy vloedseisoen gee.

Plantegroei

Die Okavangodelta het minstens 1 061 plantspesies. Vanweë die natter en droër streke in die delta is daar ’n groot verskeidenheid plante. In die natter en moerasagtiger dele is daar baie papirusriet en waterplante.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
Vanweë nat en droër streke in die delta is daar ’n groot verskeidenheid plante. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die digte groei van die papirusriet kan selfs die rivier se vloeipatroon verander. In die droër dele van die delta is daar minder riete en meer bosse. ’n Mens sal plantspesies soos struike, bome en varings daar aantref. Daar is 15 verskillende varingspesies in die delta.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Gids neem toeriste op ’n uitstappie in ’n mokoro (plaaslike kano). Foto: Gallo Images/Getty Images

Diere

Die Okavangodelta is die habitat van ’n verskeidenheid dierspesies. Daar is minstens 64 reptiel-, 35 amfibiese en 482 voëlspesies. Die jagluiperd, wit- en swartrenoster, wildehond, buffel en leeu is van die minstens 130 soogdierspesies binne-in die deltagebied.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Wanneer die delta in sy vloedseisoen is, kan ’n mens die grootste konsentrasie van Afrika se olifantbevolking in dié gebied sien. Die Okavangodelta het 85 verskillende visspesies.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
Wanneer dit vloedseisoen in die delta is, kan ’n mens byna 50% van Afrika se olifantbevolking in die gebied sien.

Visse in die delta se water speel ’n baie belangrike rol in die voedselnetwerk vir baie diere. Bekende visse in die delta sluit die tiervis en baber in.

Een van die kleinste inwoners van die delta veroorsaak groot probleme vir die mense van die omgewing. Dit is die tsetsevlieg. Dié vlieg lyk amper soos enige ander vlieg, maar hy dra ’n soort parasiet wat by mense slaapsiekte veroorsaak.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
Rooilechwes het lang uitstaan­hoewe wat hulle trekkrag gee om vinnig deur die moerasagtige gebiede te beweeg. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Seer lyf, koors en moegheid is simptome van dié siekte. Hierdie epidemie is gelukkig onder beheer. In 1998 is sowat 40 000 gevalle van slaapsiekte aangemeld, maar teen 2018 het dit verminder tot 997.

Inwoners

’n Klein aantal inheemse mense, plaaslike inwoners, woon in groepies aan die rand rondom die delta. Hulle oorleef deur vis te vang en te jag. Hulle bedreig nie die habitat van die Okavangodelta nie. Daar is vyf etniese groepe (Hambukushu, Dxeriku, Wayeyi, Bugakwe en Xanekwe – of Rivier-San) wat in die delta bly. Elkeen het sy eie taal en identiteit.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
Hambukushu- kinders vang vis met mandjies. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bewaring

Ongeveer 40% van die delta word in die Moremi-wildreservaat beskerm. Die ander 60% word deur 18 wildbestuursgebiede bewaar. As gevolg van die delta se groot oppervlak en moeilike toegang tot sekere dele is baie gebiede in die delta onbewoon.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
Die tiervis bied lekker uit­dagings aan besoekende hengelaars. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Ruk gelede is opgemerk dat die getal olifante drasties vermeerder terwyl die getal kleiner dierspesies verminder. Die stroop van diere is een van die redes vir die afname van sommige dierspesies. Kameelperde word vir hul vleis doodgemaak.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Klein aantal ­inheemse mense woon in groepies op die rand van die delta. Foto: Gallo Images/Getty Images

Mynbouaktiwiteite buite die delta kan ook ’n impak op die water hê. Mynbou kan die watervloei van die riviere verander en ook waterbesoedeling veroorsaak.

Die Okavangodelta is ’n natuurskat van Afrika. Omdat die delta ’n Unesco-wêrelderfenisgebied is, is daar verskeie projekte wat die gebied met sy ryk plante- en dierelewe beskerm. 

’n Unesco- wêrelderfenisgebied

Op 22 Junie 2014 is die Okavangodelta deur Unesco as die 1 000ste Wêrelderfenisgebied gelys. Unesco is die Verenigde Nasies se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie.

’n Wêrelderfenisgebied is ’n spesifieke plek soos ’n woud, bergreeks, meer, woestyn, gebou of stad wat deur die internasionale Wêrelderfenisprogram erken word wat deur Unesco bestuur word.

Sulke plekke word deur Unesco ondersteun en bewaar. Lidlande is verplig om dit te beskerm.

Teks: Cum Laude Media; Bronne: britannica.com, whc.unesco.org, scholar.ufs.ac.za, netwerk24.com, en.wikipedia.org, botswana-info.com, okavangodelta.com, yichuans.github.io, mieliestronk.com, blog.nationalgeographic.org, whc.unesco.org, moremi.com, rjb.csic.esm
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.