Die woord Renaissance is Frans vir wedergeboorte en verwys na ’n tydperk in die Europese geskiedenis wat teen die einde van die Middeleeue omstreeks 1400 begin en omstreeks 1600 geëindig het.

Die tydperk het hierdie naam gekry omdat mense ’n hernude belangstelling in die kunste, wetenskap en argitektuur van die antieke Grieke en Romeine (ook genoem klassieke kultuur) begin toon het ná wat as ’n “donker tydperk” beskou is.

Dit het gelei tot ’n bloeityd in die kunste, vordering in wetenskaplike kennis en nuwe denkwyses oor die wêreld en die mens se plek daarin.

Wat het dit veroorsaak?

Handel

Die Middeleeue (omstreeks 500-1400 n.C.) was ’n chaotiese tyd met gereelde oorloë, hongersnood en die plaag bekend as die Swart Dood, wat meer as ’n derde van die Europese bevolking uitgewis het.

Maar geleidelik het handelsroetes begin vorm en is geld, goedere en idees uitgeruil. Een van die plekke waar handel floreer het, was Italië, wat nie ’n enkele land was nie, maar in onafhanklike stede verdeel was. Stadstate soos Venesië en Genua aan die Middellandse See het skepe gestuur om met die Ooste handel te dryf.

So het Italiaanse handelaars ryk en magtig geword. Om hul rykdom en status te vertoon, het hulle kunstenaars en argitekte opdrag gegee om pragtige kuns en geboue te skep.

Danksy die uitvinding van ’n drukpers met beweegbare letterdrukkuns deur Johannes Gutenberg kon Renaissance-idees vinniger deur Europa versprei.

Omdat Italië tot 476 n.C. die middelpunt van die Romeinse Ryk was, was daar volop ruïnes van antieke geboue en beeldhouwerke om hierdie kunstenaars te inspireer en die belangstelling in antieke kuns te laat herleef.

Handel met die Ooste het Europeërs ook toegang gegee tot klassieke tekste wat Moslemgeleerdes bewaar het, asook Chinese uitvindsels soos papier en drukwerk.

Drukpers

In die Middeleeue was boeke skaars: Dit moes met die hand oorgeskryf word, wat tydrowend en duur was. Maar toe die Duitse goudsmid Johannes Gutenberg in die 1430’s ’n drukpers met beweegbare letterdrukwerk uitvind, het dit vinniger en goedkoper geword om boeke te maak.

’n Replika van die Gutenbergdrukpers.

So kon Renaissance-idees en inligting vinniger versprei en meer mense bereik.

Die Val van Konstantinopel

Toe die Ottomaanse Ryk die Oos-Romeinse oftewel Bisantynse Ryk binneval en sy hoofstad, Konstantinopel (nou Istanbul), in 1453 inneem, het talle Griekse geleerdes wat daar gewoon het na Italië gevlug. Hulle het belangrike klassieke manuskripte met hulle saamgebring wat tydens die Middeleeue vir die Weste verlore was.

Die Middeleeuse kuns is plat met stywe figure, terwyl die Italiaanse Renaissance-kunstenaars tegnieke gebruik het om diepte te skep en anatomie bestudeer het sodat hul ­figure realisties gelyk het. Michel­angelo se plafon­skildery in die Sistynse Kapel is ’n goeie voorbeeld.
Die Middeleeuse kuns is plat met stywe figure, terwyl die Italiaanse Renaissance-kunstenaars tegnieke gebruik het om diepte te skep en anatomie bestudeer het sodat hul ­figure realisties gelyk het. Michel­angelo se plafon­skildery in die Sistynse Kapel is ’n goeie voorbeeld.

’n Nuwe filosofie

Die Katolieke Kerk het tydens die Middeleeue alle aspekte van die lewe in Europa oorheers. Maar namate Klassieke manuskripte aan ál meer mense beskikbaar geraak het, het ’n nuwe denkwyse onder Italiaanse geleerdes posgevat.

Pleks van blindweg aanvaar wat die owerheid hulle vertel, het mense tradisionele oortuigings oor die heelal en samelewing begin bevraagteken en hulle ál meer toegespits op die mens en natuur pleks van God en die hiernamaals.

Dit word humanisme genoem. Hierdie geleerdes het ’n hoë agting vir die waardigheid en potensiaal van die mensdom gehad en geglo alle mense kan hulself verbeter deur in die geesteswetenskappe opgelei te word.

Renaissance-idees het mense gehelp om tradisionele oortuigings te bevraagteken. In Noord-Europa het dit gelei tot die Hervorming, toe godsdienstige denkers soos Martin Luther teen die Katolieke Kerk in opstand gekom het.

Humanisme het ook vrye denke geïnspireer onder wetenskaplikes soos Galileo, wie se waarnemings deur sy teleskoop die teorie bevestig het dat die son die middelpunt van die sonnestelsel is pleks van die aarde, soos vroeër geglo is.

Mense het ál meer krities oor die kerk geword en met behulp van die drukpers het humanisme van Italië na Noord-Europa versprei. Dit het gelei tot die Hervorming, waartydens godsdienstige denkers, onder wie die Duitse priester Martin Luther, in opstand gekom het teen die Katolieke Kerk, wat hulle as korrup beskou het.

Kenmerke van Renaissance-kuns

Realisme en naturalisme

Die kuns van die Middeleeue was gestileer, met plat, stywe figure. Renaissance- kunstenaars het klassieke beeldhoukuns nagedoen en die menslike anatomie bestudeer om hul figure se liggaam realistieser te laat lyk en regte emosie te laat toon.

Soos in klassieke kuns was die klem meer op menslike skoonheid en die naakte liggaam om die menslike vorm te vier. Kunstenaars het die natuur bestudeer om hul landskappe natuurliker te maak en het klassieke mitologie as onderwerpe ingespan, pleks van net Bybelse verhale.

In Noord-Europa het kunstenaars nuwe olieverftegnieke ontwikkel om skilderye nog meer gedetailleerd en lewens­getrou te maak, soos die Portret van ’n Dame (1460) deur die Nederlandse skilder Rogier van der Weyden.

Liniêre perspektief en perspektiefverkorting

Kunstenaars het wetenskaplike metodes ontwikkel om die illusie van diepte op ’n plat oppervlak te skep. Dit het skilderye lewensgetrouer gemaak.

Skadu en lig

Sy 5 m hoë Dawidbeeld is uit ’n soliede marmerblok gebeitel.
’n Selfportret van Michel­angelo.

Kunstenaars het die natuur bestudeer om te sien hoe die lig op voorwerpe inspeel. Hulle het dit in hul skilderye gebruik om drama by te voeg en die kyker se oog na ’n sekere punt te lei.

Olieverf

In Noord-Europa, veral Duitsland en Nederland, het kunstenaars nuwe olieverftegnieke ontwikkel waarmee hulle heelwat meer detail en naturalisme by hul skilderye kon voeg. S

Michelangelo

Een van die grootste kunstenaars van die Italiaanse Renaissance, Michelangelo, is op 6 Maart 1475 in Caprese gebore, waarna sy gesin na Florence verhuis het. Sy ma het gesterf toe hy ses was en sy pa, ’n staatsamptenaar, wou hê sy seun moes in sy voetspore volg. Maar Michel­angelo wou ’n kunstenaar word.

Hy het hom as ’n beeldhouer beskou, maar ook wonderlike skilderye geskep, soos die reuseplafonskildery 
in die Sistynse Kapel, wat 40 m lank en 14 m wyd is.

Michelangelo het ’n gedetailleerde studie van die menslike liggaam gedoen, en al sy beeldhouwerke en skilderye bevat anatomies korrekte menslike figure in natuurlike vorms, soos sy 5 m hoë beeldhouwerk van 
Dawid, wat hy uit ’n soliede marmerblok gekap het.

Michelangelo was selde tevrede met sy werk en was dikwels depressief. Hy is in 1564 op 88 jaar oorlede. 

Hulp met skooltake
Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop.

Kopie: Cum Laude Media

Bronne: Ducksters.com, wiki.kidzsearch.com,Britannica.com, Eyewitness Companions: Art, DK, The Art Book, DK, Eyewitness Companions: Architecture , DK, Eyewitness Companions: Philosophy, DK, The History Book, DK, History: The Definitive Visual Guide, DK, visual-arts-cork.com, methacton.org, history.com, telegraph.co.uk, kids.britannica.com, artofmanliness.com, artble.com, biography.com

Foto's: Gallo Images/Getty Images