Renosters is bekend vir die reusehorings wat uit hul snoet groei – hul naam kom ook van die Griekse woord vir “neushoring”.

Soos leeus en olifante, waarvan ons jou vroeër geleer het, kom renosters in Afrika en Asië voor. Suid-Afrika het die grootste renosterbevolking ter wêreld, maar hul getalle neem af.

Dié pragtige diere word vir hul horings gejag en doodgemaak omdat daar verkeerdelik geglo word die horings het mediese nut. In die laaste dekade het stropers meer as 7 000 renosters doodgemaak.

Waar hulle voorkom

Drie spesies renosters kom in Asië voor – die Indiese, Soematraanse en Javaanse renoster – terwyl Afrika die tuiste van die swart- en witrenoster is. Hulle word op die grasvelde en vloedvlaktes van Oos- en Suider-Afrika aangetref.

In die hitte van die dag slaap die soogdiere in die skaduwee of rol in modderpoele om af te koel. Ongelukkig is meer as 7 000 renosters die afgelope dekade deur stropers doodgemaak.

Renoster
Renosters word op die grasvelde en vloedvlaktes van Oos- en Suider-Afrika aangetref.

Hoe groot word hulle?

Die witrenoster is die grootste renoster. Hy het ’n skouerhoogte van 1,8 m en kan tot 2 400 kg weeg – dis soveel soos 30 mans. Die swartrenoster is effens kleiner, met ’n hoogte van 1,5 m en ’n gewig van tot 1 600 kg.

Die witrenoster het ’n skouerhoogte van 1,8 m. Die swartrenoster jet ’n hoogte van sowat 1,5 m en die gemiddelde mens is 1,7 m.

Feite oor die renoster

Ore

Witrenosters se lyf is heeltemal haarloos buiten hul ooglede en die punt van hul ore en stert – nuttig vir vlieë slaan. Renosters het uitstekende gehoor en kan hul ore onafhanklik van mekaar draai om klanke uit verskillende rigtings te hoor.

Die horing

As gevolg van hul grootte word renosters nie eintlik deur roofdiere geteiken nie (ten minste nie in die natuur nie), maar as hulle bedreig word, sal hulle storm en enige aanvaller met hul horing gaffel.

Vel

Die vel van ’n renoster is dik en gevou, wat dit laat lyk asof hulle swaar gepantser is.

Moddermasker

Renosters hou van vuil raak. Die kors modder ná ’n lekker modderbad beskerm hul vel teen die skerp son en goggatjies.

Renoster
Die horing bestaan uit keratien – dieselfde stof waaruit ons hare en naels gemaak is.

Die renoster se sig is nie juis goed nie. Hul oë sit weerskante van hul kop. Dus kan hulle goed om hulle sien, maar nie reguit voor hulle nie.

Neusgate

Die renoster se groot neusgate en uitstekende reuksin vergoed vir sy swak sig. Die grootste deel van ’n renoster se brein word daaraan gewy om reuke te bespeur.

Dieet

Die witrenoster is die grootste dier wat op ’n dieet van net gras oorleef. Ander renosters vreet eerder aan bome of bosse. ’n Goeie manier om die verskil tussen swart- en witrenosters raak te sien is of hulle gras (wit) of blare vreet (swart).

Voortplanting

Wanneer hulle gereed is om te paar, lok renosterkoeie die bulle met hul urine en mis wat ’n unieke reuk het. Agterna slaan die twee hul eie rigting in. ’n Kalf word 16 (swartrenoster) tot 18 maande (witrenoster) later gebore en bly twee tot vier jaar lank by hul ma.

Renostervoëls ry dikwels op ’n renoster se rug en smul aan al die lastige goggas wat op die renoster se dik vel leef. As die voëls besonder honger is, sal hulle selfs die renoster se oorwas eet.

Supervinnig

Ondanks hul grootte hardloop renosters baie vinnig; hulle kan tot 45 km/h bereik, selfs in digte bosse.

Drietoonsoogdier

Renosters het drie tone aan elke poot. Elke toon het ’n harde omhulsel wat ’n hoef genoem word.

Bewaringstatus

Diere wat bedreig word, word by die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur en Natuurlike Hulpbronne se Rooilys ingesluit.

Dié wat “amper bedreig” is, het ’n laer risiko vir uitsterwing, terwyl “kritiek bedreigde” diere ’n uiters hoë risiko vir uitsterwing het.

Die witrenoster word as amper bedreig geklassifiseer, met sowat 20 000 in die natuur oor. Die swartrenoster word kritiek bedreig met net sowat 5 000 oor.

Verskil tussen die swart- en witrenoster

Ondanks hul naam is daar eintlik geen kleurverskil tussen die twee spesies nie. Die hoofverskil is hul grootte en die vorm van hul bek. Die swartrenoster het ’n haakvormige of gepunte lip wat hulle gebruik om blare van bome en bosse af te trek. Dit witrenoster se lip is plat, wat hulle in staat stel om aan gras te wei.

Het jy geweet?

Witrenosters kry hul naam van ’n misverstand: In Nederlands is hul lip “wijd“ (wyd) genoem. Dit is toe as “white“ vertaal in Engels en deur Afrikaans as “wit“ heropgeneem.

Swartrenosters is daarna “swart“ genoem bloot om hulle van die “wit“ renosters te onderskei.

Die laaste bul

Die witrenoster het twee subspesies – die noordelike en die suidelike witrenoster – maar die noordelike een is so te sê uitgesterf. Die laaste noordelike witrenosterbul, genaamd Sudan, is verlede jaar in ’n dieretuin in Kenia aan ouderdom dood.

Voor sy dood in Maart het wetenskaplikes van sy sperma geneem en gevries. Hulle hoop om dit te gebruik om die laaste twee noordelike witrenosterkoeie te bevrug – Sudan se dogter, Najin, en kleindogter, Fatu.

Bronne: Natgeokids, Quartz, Live Science, Iucn Red List, Animals.mom.me