Hulle is nie karnivore soos leeus en luiperds nie, maar dit maak buffels nie minder gevaarlik nie. Die buffel – ook bekend as die Kaapse buffel – kan baie aggressief raak wanneer hulle bedreig voel en sal hul vyande omsingel voor hulle met hul reusehorings op hulle afstorm.

Die diere is vier keer so sterk as ’n os, en dit is bekend dat hulle al leeus doodgemaak het. Ons leer jou oor die vyfde en laaste lid van die Groot Vyf.

Waar kom hulle voor?

Buffels kom in Suider- en Oos-Afrika in baie verskillende habitatte voor, onder meer bosveld, grasvlaktes, moerasse, reënwoude en grasland. In Suid-Afrika word hulle in die Klein-Karoo, dele van KwaZulu-Natal en die Krugerwildtuin aangetref.

Afrika.

Hoe groot word hulle?

Buffels kan reusagtig groot word, met die bulle wat tot 800 kg weeg en die koeie tot 700 kg. Hul gemiddelde skouerhoogte is sowat 1,7 m.

Feite oor die buffel

Horings

Die horings is groot en skerp, en die diere gebruik dit as ’n wapen om aan te val en hulself teen bedreigings te beskerm. Nes hul hoewe bestaan die horing uit keratien.

Hoewe

Buffels het vier groot gesplete hoewe, baie soos dié van beeste. Hul hoewe bestaan uit keratien – dieselfde stof as ons naels en hare.

Het jy geweet?
Buffels is goeie swemmers. Hulle sal diep water oorsteek op soek na beter weiding.

Vel

Buffelvel is baie taai – hul vel kan op sekere dele van hul lyf tot 5 cm dik word.

Dieet

Die diere is herbivore en wei hoofsaaklik op gras. Hulle vreet ook aan struike en bome as daar geen of min gras beskikbaar is.

Selfverdediging

Buffelbulle én -koeie het geboë horings wat in die middel van hul voorkop bymekaarkom. Bulle het dikker horings as koeie en hul horings vorm ’n bult of verdikking bo-op hul kop, amper soos ’n helm.

Die bul (links) en koei (regs) se horings.

Geen swakkeling

Daar is ’n rede waarom buffels soms “die swart dood” genoem word – die diere het al meer wildjagters doodgemaak as enige ander dier in Afrika. Wanneer ’n trop leeus of ander roofdiere hulle aanval, sal die trop gewoonlik vasstaan en hulself beskerm.

Leeus word ook dikwels beseer of doodgemaak deur buffels, wat baie skade met hul horings kan aanrig en met hul harde hoewe na die leeus skop of op hulle trap.

Habitat

Buffels kan in baie habitatte leef mits daar genoeg skaduwee, plantegroei om op te wei en ’n waterbron naby is. Hulle kan soms in die vlak water van riviere en damme aangetref word waar hulle afkoel.

Kalwers

Buffelkoeie skenk aan een kalf op ’n slag die lewe nadat hulle gewoonlik nege tot 11 maande dragtig was.

Anders as mensbabas, wat eers op ongeveer ’n jaar oud kan begin loop, kan buffelkalwers loop van die oomblik dat hulle gebore is. Maar hul ma steek hulle die eerste paar weke in digte gras of bosse weg voor hulle by die hooftrop aansluit.

Wanneer hulle eers by die trop aangesluit het, omring die volwassenes die kalwers en hou hulle veilig in die middel van die trop.

Bedreigings.

Gevare

Daar is vandag sowat 900 000 buffels. Hulle is in die afdeling “minste kommer“ geklassifiseer, maar word steeds bedreig deur roofdiere soos leeus en wildehonde, wat hulle in groepe jag, asook krokodille, wat hulle aanval wanneer hulle in vlak water afkoel of water drink.

Buite wildreservate word hulle deur mense bedreig. In Oos-Afrika word buffels as gevaarlike peste beskou – hulle is bekend daarvoor dat hulle deur heinings breek en boere se gewasse vreet en kan selfs siektes na mak vee versprei.

Bronne: awf.org, animalplanet.com, britannica.com, sa-venues.com, livescience.com, kololo.co.za, softschools.com, animalfactsencyclopedia.com, hluhluwegamereserve.com, ultimateungulate.com