Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie kom 'n natuurramp voor wanneer ’n katastrofiese gebeurtenis plaasvind wat die daaglikse leefwyse van mense so drasties beïnvloed dat hulle skielik hulpeloos raak en swaarkry.

Die Russiese kunstenaar Karl Brjoellof se voorstel
Die Russiese kunstenaar Karl Brjoellof se voorstelling van die laaste dag van Pompeii.

Daar ontstaan ook 'n nood­behoefte vir klere, kos, beskerming, mediese en ander lewensnoodsaaklike dienste. Natuurrampe is die uitwerking wat vloedgolwe, aardbewings, tornado’s en sneeustortings op die mens en natuur het.

Vulkaniese uitbarstings hoort ook op hierdie lys.   

Vesuvius spoeg vuur

Een van die bekendste – en steeds aktiewe – vulkane is Vesuvius in die suide van Italië naby die stad Napels. Vesuvius is bekend vir ’n reuse-uitbarsting in die jaar 79 n.C. 

Hierdie vulkaniese uitbarsting was vurig en vinnig. Die antieke Romeinse stede Herculaneum, Stabiae en die bekendste, Pompeii, is binne slegs 25 uur heeltemal verwoes en in puin gelê. 

Omdat dit so vinnig gebeur het, het groot gedeeltes van hierdie stede, insluitend geboue, skilderye en gebruiksartikels, goed bewaar gebly. Nadat die verwoestende vulkaan die stede letterlik begrawe het, het die stede vergete geraak vir meer as duisend jaar. 

Pompeii, die vergete stad, is toevallig in die 18de eeu herontdek. Daar is in 1748 met opgrawings begin wat tot vandag nog 'n skatkis vir argeoloë en geskiedkundiges is wat die leefstyl van die Romeinse Ryk bestudeer.

Baie van die kennis wat vandag bestaan van die daaglikse handel en wandel van die Romeine, is te danke aan opgrawings in Pompeii.

Die stad Pompeii

’n Paar antieke kitskosrestaurante is onlangs in die puin van Pompeii ontdek. ’n Argeoloog maak ’n prentjie teen die muur van so ’n restaurant sorgvuldig skoon. Foto: Instagram

Die stad Pompeii was bekend as 'n handelspoort danksy sy gunstige ligging naby die see en ook sy druiwe en olyfbome wat goed gegroei het in die vrugbare vulkaniese grond. Dit was ook ’n baie gewilde vakansiebestemming in die somermaande vir welgestelde Romeinse burgers. 

Pompeii was 'n tipiese Romeinse stad met die Romeinse forum in die middel van die stad. Dit was die plek waar die inwoners bymekaargekom het en groot vergaderings gehou is. 

Dit was ook waar meestal handel gedryf is en ­tempels en openbare geboue was. Omdat Pompeii 'n reusagtige amfiteater met sitplek vir sowat 20 000 mense gehad het, glo kenners dat dit 'n ryk sport- en kultuurgeskiedenis het en daar gereeld na die gevegte tussen die gladiators gekyk is.

Daar word geskat tussen 16 000 en 20 000 mense het in Pompeii gewoon. 

So lyk dié eetplek van binne. Kosbakke het vermoed
So lyk dié eetplek van binne. Kosbakke het vermoedelik in die sirkels gepas. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Pompeii is gereeld deur natuurrampe getref, soos vulkaniese uitbarstings en aardbewings.

Op 5 Februarie in 62 n.C. was daar 'n reuse-­aardbewing wat talle geboue in Pompeii verwoes het. Groot skade is aan die struktuur van die stad aangerig en huise se dakke en mure is beskadig. 

Deur die jare het die inwoners van Pompeii egter van die gevare wat die natuur inhou, begin vergeet. Tot op 24 Augustus in 79 n.C. toe die berg Vesuvius uitgebars en die dorp binne ure uitgewis het.

'n Jong Romeinse regsgeleerde, magistraat en skrywer, Plinius die Jongere, was naby die gebied en het verskeie briewe – wat die datum van die vulkaniese uitbarsting aandui – aan sy vriend Tacitus, 'n geskiedskrywer, gestuur oor sy en ander ooggetuies se ervaring.

Hy was tydens die uitbarsting 18 jaar oud.

Volgens hom was daar in die dae voor 24 Augustus verskeie kleiner aardbewings in die omgewing, maar die inwoners het nie geweet dat aardbewings tot 'n vulkaniese uitbarsting kon lei nie. 

Selfs toe daar swart wolke bo die berg was, was inwoners nuuskierig, maar on­­bewus van die lewensgevaar.

Talle het in hul huise gebly en eers te laat besef hulle verkeer in gevaar toe die dakke weens verskeie trillings begin inval het. Reus­agtige donkergrys wolke het oor die stad gehang en die stad begin ver­swelg. Hierdie wolke het bestaan uit kokende gifgasse.

Wetenskaplikes reken op die dag van die uitbarsting het sowat 1,5 miljoen ton klippe en as per sekonde uit die vulkaan geskiet.

Hierdie dodelike gasse en vuurwarm as was die oorsaak van die dood van die oorgrote meerderheid van die mense wat deur die gasse oorweldig is en versmoor het. Die intense hitte het tot ’n byna onmiddellike dood gelei. 

Toeristebestemming en ontdekkings

 ’n Romeinse muurskildery wat merkwaardig bewaar g
’n Romeinse muurskildery wat merkwaardig bewaar gebly het onder al die valkaniese as. Dit wys die sofistikasie van kuns in die Romeinse Ryk. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Vandag is Pompeii een van die gewildste toeristebestemmings ter wêreld.

Teen die 1990’s was sowat twee derdes van die ou stad reeds opgegrawe. Besoekers kan 'n stad uit die eerste eeu ervaar. Die stad word veral besoek vir die sowat 1 150 geraamtes wat al ontdek is. 

Die inwoners se liggame wat deur as en lawa bedek is, het deur die jare ontbind en holtes in die vulkaniese as gelaat. Daar is in tientalle van hierdie holtes gietsels van menslike liggame gemaak deur die holtes met klei en gips te vul.

In 1997 is die argeologiese terreine van ­Pompeii deur Unesco as 'n wêrelderfenisgebied erken.

Maar is Vesuvius, wat steeds beskou word as een van die gevaarlikste vulkane ter wêreld, nou uitgewoed?

Die laaste uitbarsting was in 1944 waartydens 26 mense gesterf het. 

Met sowat 3 miljoen mense wat vandag in die omgewing van Napels woon, monitor die Italiaanse owerhede enige vulkaniese aktiwiteite en is daar streng ontruimingsprosedures in plek.

Is dit nie wonderlik hoe so 'n vernietigende natuurgebeurtenis die wêreld ’n blik gegee het op die antieke verlede nie? 

Vulkaniese uitbarstings
Vulkaniese uitbarstings
Vulkane
'n Vulkaniese uitbarsting verwys na ’n ontploffing wat plaasvind – gewoonlik in bergagtige strukture – wanneer gesmelte rots en gas diep vanuit die aarde na bo uitgewerp word.
 
Hierdie gesmelte rots staan as magma bekend, is kokend warm en verkeer onder geweldige druk as gevolg van die gas daarin. 

Dit kom soms diep onder die aarde se oppervlak voor. Magma kan ’n temperatuur van tussen 650 en 1 200 °C bereik. 

Wanneer die druk van bo genoeg verminder, soos wanneer daar ’n aardbewing is, ontsnap die gas. Wanneer dit dan deur die aarde se oppervlak breek, staan dit bekend as lawa. 

Daar is verskillende soorte lawa – dié in ’n uitbarsting wat ontplof en dié wat uitvloei. 

By uitbarstings wat nie ontplof nie, vloei die lawa betreklik stadig (lawa is amper 100 000 keer so dik as water), en wanneer dit afkoel en ophou beweeg, vorm dit nuwe plate waaruit ’n nuwe berg kan ontstaan. 

Ontploffende vulkaanuitbarstings gebeur baie vinnig met stukke rots en gevaarlike gasse wat uit die vulkaanopening skiet. 

Die gasse is lewensgevaarlik vir mense en diere. Ná ’n uitbarsting vorm digte rookwolke van die as wat mense, diere en plante kan versmoor.
  • Bronne: af.m.wikipedia.org, eyewitnesstohistory.com, mieliestronk.com, ducksters.com, history.com, livescience.com, aroundrometours.com, list25.com, who.int, geology.com, earthmagazine.org, britannica.com, atlasobscura.com
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.