Waaraan dink jy as jy die woord “woestyn” hoor? Heuwels van sand en versengende hitte? Die wêreld se grootste woestyn bestaan eintlik uit ys! Ja, Antarktika word as ’n woestyn geklassifiseer, hoofsaaklik omdat dit minder as 250 mm reën per jaar kry asook baie min plantegroei en diere het.

Die plante en diere wat daar voorkom, is spesiaal aangepas om in die uiters koue omstandighede te oorleef.

Antartika
Die berg Erebus, die aarde se suidelikste aktiewe vulkaan. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Ysige vasteland

Die ysvasteland, omring deur die Suidelike Oseaan, is skouspelagtig maar ongenaakbaar. Antarktika is feitlik onbewoonbaar weens die koue en wind – op sekere plekke bereik die wind snelhede van tot 320 km/h!

Antarktika word deur die Transantarktiese berge in twee verdeel: Wes-Antarktika (wat suid van die Amerikas lê), en Oos-Antarktika (wat suid van Afrika, Asië en Australië lê).

Die laagste temperatuur ter wêreld is op Antarktika aangeteken: -94,7 °C. Op die ysvasteland, wat uit dik ysplate op ’n rotsbodem bestaan, kom ook massiewe gletsers voor. Antarktika is die vasteland met die laagste gemiddelde lugvogtigheid en die winderigste plek op aarde.

Van al die ys op aarde kom 90% op Antarktika voor. Dié vasteland se ys bevat boonop 70% van al die planeet se vars water.

Dis die aarde se vyfde grootste vasteland, naas Asië, Afrika, Noord-Amerika en Suid-Amerika, en die grootste woestyn ter wêreld. Antarktika is groter as Australië en Europa.

Seevaarders het Antarktika waarskynlik sowat 200 jaar gelede die eerste keer bespied. In die 1800’s het die jag op robbe en walvisse mense na die yskontinent gelok, en later het ontdekkingsreisigers en wetenskaplikes gevolg. Die gebied is toe die eerste keer werklik verken.

Die Noorweegse ontdekkingsreisiger Roald Amundsen het die Suidpool op 14 Desember 1911 bereik.

Antartika
Antartika.
Antartika
Gedurende die wintermaande word die vasteland bykans twee keer so groot as gedurende die somer, aangesien die water wat dit omring, vries van die koue.

Beskermde gebied

Die Antarktiese grondgebied behoort aan niemand. In 1959 is besluit dit moet beskerm word deur ’n verdrag wat verseker dat geen van Antarktika se ryk minerale neerslae ontgin mag word nie. Dit verbied militêre aktiwiteite en beskerm die ekologie. Die verdrag bevorder ook wetenskaplike navorsing.

Baie lande, insluitend Suid-Afrika, het wetenskaplike navorsingstasies op Antarktika. Gedurende die somermaande werk tot 4 400 wetenskaplikes van sowat 28 lande daar.

Antartika
Die SA Agulhas II, wat sedert 2012 vir ekspedisies na onder meer Antarktika gebruik word. Dié ysbreker het ook ’n landingsplek vir helikopters. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Antartika
Meer as die helfte van Antarktika se kuslyn bestaan uit ysbanke wat oor die see uitsteek. Groot brokke ys kan van die rand van die ysbanke afbreek om ysberge te vorm. ’n Ysbank kan tot 2 km dik wees, met kranse wat tot 100 m bo die see uittroon. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Middernagson en poolnag

Gedurende die somer gaan die son omtrent 186 dae lank nooit volkome onder nie. Dit is as gevolg van die manier hoe die aarde na die son gekantel is. Daarteenoor is die wintermaande weer donker aangesien die son nie opkom nie en dit dan dikwels heeldag skemer is.

Antartika
Sanae IV is die Suid-Afrikaanse basis waar wetenskaplikes tuisgaan om navorsing te doen. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Antartika
Die grootste deel van ’n ysberg is onder die water. Stukke ys breek af om ysberge te vorm wat in die see dryf. Dié gletser is in Neko Harbour op die Antarktiese Skier­eiland. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Plantlewe

Baie min plante oorleef hier. Daar kom wel ligene (korsmosse), briofiete (mosplante), swamme en alge voor, wat so aangepas is dat dit in die koue, donker winters kan oorleef. Op die Antarktiese Skiereiland kom wel twee blomdraende plante voor.

Antartika
Albatros. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Antartika
Luiperdrob. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Antartika
Keiserpikkewyn. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Dierelewe

Verskeie soorte pikkewyne kom op Antarktika voor. Die keiserpikkewyn is die grootste een. Hulle broei gedurende die wintermaande.

Robbe: ’n Verskeidenheid robbe kom in die vasteland se koue water voor. Die suidelike olifantrob is die wêreld se grootste rob: ’n mannetjie kan tot 3,7 m lank wees en 4 t weeg. Die luiperdrob is die naasgrootste spesie op Antarktika. Die wyfies is groter as die mannetjies en word tot 3,5 m lank en kan meer as 500 kg weeg.

Die Antarktiese pelsrob is die kleinste van die yskontinent se robspesies, maar ’n mannetjie kan tot 200 kg weeg.

Ysberg B-15 was die grootste aangetekende ysberg ter wêreld. Dit het van die Ross-ysbank afgebreek en was ongeveer 295 km lank en 37 km breed!

Swerweralbatros: Dié seevoël het ’n vlerkspan van tot 3,7 m – die grootste in die wêreld – en weeg tot 10 kg. Hulle leef van vis en pylinkvis en word slegs tydens die broeiseisoen op land gesien.

Reusepylinkvis: Dié ongewerweldes (hulle het geen skelet nie) is die swaarste ter wêreld en leef van vis en skaaldiere. Hulle woon diep in die see en ons weet nie veel van hulle nie. Hulle kan blykbaar tot 14 m lank word en 750 kg weeg.

Meer oor gletsers
  • ’n Gletser is ’n yslike rivier ys wat stadig beweeg.
  • Terwyl ’n gletser afdraand beweeg, kerf dit ’n trogdal, oftewel ’n U-vormige vallei met steil wande, uit.
  • Daar is twee hoofsoorte gletsers: valleigletsers is strome vloeiende ys wat in valleie met steil wande voorkom. Kontinentale gletsers lyk na groot plate ys en kan ’n groot deel van ’n vasteland soos Antarktika bedek.
Meer oor ysberge
  • Ysberge vorm (of breek af) wanneer yslike stukke ys van gletsers en yskappe afbreek en in die oseaan val.
  • Sewe agtstes van ’n ysberg se massa is onder die water. Die deel wat jy sien, is bloot die punt van die ysberg.
  • Net soos ysblokkies in jou koeldrank, dryf ysberge omdat ys (vars water) se digtheid minder as seewater s’n is.
  • Die dik laag ys en sneeu waaronder die grootste deel van die vasteland lê, word die Antarktiese ysdek genoem. Gletsers gly stadig oor die ysdek see toe. Groot plate van die ysdek dryf in sekere kusgebiede op die water. Die grootste hiervan is die Ross-ysbank.

Bronne: Wikipedia.org; Mieliestronk.com; Antarctica.gov.au; Britannica.com; Atlas: die wonders van ons planeet (Fantasi Uitgewers); Vra my enigiets (Lapa Uitgewers)