Dit maak Tokio die digs bevolktestad in die wêreld. 

Sedert die 1950’s het die land een van die wêreld se voorste ekonomieë ontwikkel en een van die mees tegnologies gevorderde samelewings ter wêreld geword. 

Japan is 'n baie homogene land. Dit beteken die mense is meestal gelyksoortig, veral wanneer dit by tradisie, kultuur en taal kom.    

Geografie

Die koivis is in Japan ’n simbool van geluk en voo
Die koivis is in Japan ’n simbool van geluk en voorspoed. Party word spesiaal vir hul kleur en patrone geteel. Hulle kan miljoene rande werd wees – die duurste koivis wat al verkoop is, het sy koper meer as R25 miljoen uit die sak gejaag. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Japan word deur die see omring: In die noorde is die See van Ochotsk; in die ooste en suide die Stille Oseaan; in die suidweste die Oos-Chinese See; en in die weste die Seestraat van Korea en die See van Japan. Die land is een van die wêreld se geologies onstabielste gebiede. 

Japan is bekend vir sy berg­agtigheid en ondervind jaarliks sowat 1 500 aardbewings waarvan die meerderheid klein tot matig is.

Daar is 111 aktiewe vulkane in Japan aangeteken. Riviere in dié land is oor die algemeen kort en vinnig vloeiend van aard. 

Klimaat 

 In die lente stroom mense tydens Hanami, die Kers
In die lente stroom mense tydens Hanami, die Kersiebloeiselfees, na parke en die platteland. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Omdat die see Japan omsluit, word die klimaat hoofsaaklik deur die omliggende oseane beïnvloed. Japan het ’n monsoenklimaat – dit wil sê die klimaat word deur nat en droë seisoenwinde beheer.

Tussen laat September en die middel van April kom kouer temperature voor, terwyl warmer temperature van laat April af ervaar word. 

Verwoestende tropiese storms wat tifone genoem word, kom laat in die somer en vroeg in die herfs voor. Temperature in die suide is oor die algemeen warmer as in die noorde.

Die gemiddelde temperatuur in die suide in Januarie is 6 °C en in Augustus 27  °C. In die noorde is die temperatuur in Januarie - 8  °C en in Augustus 21 °C. 

Tradisies

Vroue in tradisionele kimono's tydens 'n teeseremo
Vroue in tradisionele kimono's tydens 'n teeseremonie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hoewel ekonomiese en maatskaplike veranderings van die 19de eeu af selfs die mees afgeleë dele van Japan beïnvloed het, het verskeie tradisies behoue gebly.

Twee tradisies wat deur al die eeue steeds dwarsoor Japan beoefen word, is teeseremonies, bekend as sado of chado, en blommerangskikkings, bekend as ikebana. 

Sado of chado kan direk vertaal word as “die weg van tee”, en die seremonie tydens die drink van tee verteenwoordig harmonie, respek en reinheid. Die ikebana, oftewel “om blomme lewend te maak”, is 'n sterk tradisie wat van die sewende eeu dateer en vandag nog beoefen word. 

Bevolking

Japan het 'n geraamde bevolking van 126 miljoen mense, van wie etniese Japannese die meerderheid (98,1%) uitmaak.

Dit dra natuurlik by tot die land se homogene aard. Die gemiddelde lewensverwagting is 81 jaar vir mans en 87 jaar vir vroue. 

Japannese is etnies nou verwant aan die nasies van Oos-Asië. 

Tydens die Edo-tydperk tussen 1603 en 1867 is die bevolking in vier maatskaplike groepe verdeel, naamlik vegters, boere, vakmanne en handelaars, asook 'n verstote groep, die burakumin, wat met die onaanraakbares van Indië vergelyk kan word. 

Die klassestelsel is in 1871 afgeskaf, maar daar is steeds diskriminasie teen afstammelinge van die verstote groep. Dis egter nie rassediskriminasie nie, want die groepe is almal deel van dieselfde etniese groep. 

Daar is 'n paar etniese minderhede, soos dié van Koreaanse afkoms. Net voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog het duisende Korea­ne na Japan verhuis, waar hulle hoofsaaklik as arbeiders gebruik is.

Maar hulle het nooit Japannese burgerskap gekry nie en daar word steeds teen hul afstammelinge gediskrimineer. 

Ekonomie

Japan is een van die wêreld se voorste vervaardige
Japan is een van die wêreld se voorste vervaardigers van voertuie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Japan toon sedert die 20ste eeu uitsonderlike ekonomiese groei. Vandag is dit een van die wêreld se voorste vervaardigers van voertuie, staal en tegnologie. Die land is ook ’n finansiële leier in die wêreldmarkte. 

Geloof

Byna 80% van die mense beoefen die inheemse geloof Sjinto en 66% Boeddhisme, wat in die sesde eeu aan Japan bekendgestel is. Sjinto word byna as ’n leefstyl gesien; daarom kan een mens tot verskeie Sjinto- geestelike wesens (kami) bid én Boeddhistiese praktyke volg.

Besienswaardighede

Japan het 23 wêrelderfenisterreine, waarvan 19 kulturele en vier natuurterreine is. Dit sluit in die Himeji-kasteel en historiese monumente in die antieke stede Kioto en Nara.

Gewilde toeristebestemmings is die nasionale hoofstad, Tokio, Hirosjima, die berg Foedji en die skioord Niseko. Die land is ook bekend vir sy reeks warmwaterbronne.  

Rugby se Wêreld­bekertoernooi

Japan is vanjaar die eerste Asiese land wat gasheer is vir die Wêreldbekerrugby­toernooi. Wêreldrugby (voorheen bekend as die ­Internasionale Rugbyraad) het in Julie 2009 aangekondig Japan bied in 2019 die toernooi aan. 

Die internasionale toernooi het op 20 September in die Ajinomoto-stadion in Tokio afgeskop en duur tot 2 November. Die eindstryd sal in die Nissan-stadion in Jokohama beslis word. Altesaam 20 spanne van oor die wêreld neem aan die toernooi deel.

Kosse

Japannese soesji, eens goedkoop kits­kos, is oral
Japannese soesji, eens goedkoop kits­kos, is oral gewild. Foto: Gallo Images/ Getty Images

As 'n eilandnasie wat deur water omring word, geniet die Japannese veral die groot verskeidenheid kos wat die see oplewer.

Die hoofbestanddele wanneer daar gekook word, is seekos, groente en rys. Die Boeddhisme het ook ’n invloed gehad op die keuse van seekos pleks van ander diereprodukte. 

Daar word meestal vars bestanddele gebruik, en ’n sterk klem word op seisoenskos (kossoorte wat slegs tydens sekere seisoene beskikbaar is) geplaas.

Groentee is verreweg die gunstelingdrankie in Japan en word warm of koud gedrink. Die tee, bekend as ocha, word veral ná etes aan gaste voorgesit. 

Bronne: people.howstuffworks.com, uk.emb-japan.go.jp, whc.unesco.org, jma.go.jp, britannica.com, kaiho.mlit.go.jp, japan.go.jp, vam.ac.uk, wikipedia.org, gdrc.org, nippon.com
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.