Suid-Afrika het noue ekonomiese en kulturele bande met sy ses buurlande. Vier van dié lande, Namibië, Botswana, Lesotho en Eswatini, vorm saam met Suid-Afrika die Suider-Afrikaanse Doeane-unie.

Die ander twee is Zimbabwe en Mosambiek. Baie mense uit ons buurlande kom woon, werk of studeer in Suid-Afrika, terwyl Suid-Afrikaners ook in die buurlande sake doen en as toeriste daarheen reis.

Namibië

Die groot, ylbevolkte woestynland in die suidweste van Afrika geniet sedert sy onafhanklikwording in 1990 ekonomiese en politieke stabiliteit.

Duitsland het dié gebied in die laat 1800’s gekoloniseer. Toe diamante in 1908 ontdek is, het baie Europeërs die land ingestroom. In die Eerste Wêreldoorlog het Suid-Afrika die gebied verower en tot onafhanklikwording as mandaatgebied geadministreer.

Namibië
Namibië se vlag.

Ekonomie

Die Namibiese ekonomie is afhanklik van die ontginning en uitvoer van edelstene en minerale soos diamante, uraan, lood, sink, tin, silwer en tungsten. Sowat die helfte van die bevolking, veral in die noorde, maak ’n lewe as bestaansboere op die platteland.

Die land voer sowat die helfte van sy graangewasse in, en in droogtejare kan voedseltekorte in landelike gebiede voorkom. Vissery en toerisme bied ook aan Namibiërs werk. Die ekonomie is met dié van Suid-Afrika verweef, en die Namibiese dollar is gelykstaande aan die Suid-Afrikaanse rand.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
Lüderitz se Duitse karakter blyk uit kolo­niale geboue soos die Felsenkirche (Rotskerk). ONDER: Die diamantmynbedryf is een van Namibië se topbedrywe. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Toerisme

Namibië is ’n fassinerende land en ’n gewilde toeristebestemming in Afrika. Die meeste van die sowat 1,5 miljoen toeriste wat die land in ’n goeie jaar besoek, kom uit Suid-Afrika, Duitsland en Brittanje. Die Duitse karakter van kusdorpe soos Swakopmund en Lüderitz, met die nabygeleë spookdorp Kolmanskop in die Namibwoestyn, lok talle besoekers.

Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) het die Namib tot Wêrelderfenisgebied verklaar. Die duisende jare oue rotstekeninge van die San by Twyfelfontein is Namibië se ander Wêrelderfenisgebied. Die hoë duine by Sossusvlei is ook iets om te aanskou.

Verder is die enorme Visriviercanyon in die suide asemrowend. Die Visrivier het dié 160 km lange, 27 km wye en byna 550 m diepe erosiedal uit die aarde gekalwe.

Wildtuine soos die Etosha Nasionale Park lok ook toeriste wat na die wilde diere soos troppe sebras, wildebeeste, olifante, renosters en bokke gaan kyk.

Republiek van Namibië
  • Hoofstad: Windhoek
  • Bevolking: 2,5 miljoen
  • Grondgebied: 824 292 km²
  • Hooftale: Engels (amptelik), Afrikaans, Oshiwambo, Herero, Duits, Nama
  • Godsdiens: Tot 90% Christelik
  • Lewensverwagting: 61 jaar (mans), 67 jaar (vroue)
  • Geldeenheid: Namibiese dollar

Botswana

Botswana is een van Afrika se stabielste lande met ’n goeie, werkende veelpartydemokrasie sedert die land in 1966 van Brittanje onafhanklik geword het. Die land is betreklik vry van korrupsie en het ’n goeie rekord wat menseregte betref.

botswana
Botswana se vlag.

Natuurlewe

Botswana word deur ander lande omsluit. Die Kalahariwoestyn bedek ’n groot deel van die gebied. Soos Namibië is Botswana taamlik yl bevolk. Die land het ’n ryk natuurlewe, veral in die noordelike streek, wat baie toeriste lok. Sowat 42% van die landoppervlak is vir natuurbewaring opsygesit.

Aerial view of the Zambezi river. Border between Z
Botswana is bekend vir sy groot olifantbevolking.

Twee van Unesco se Wêrelderfenisgebiede is in Botswana, naamlik die Okavangodelta en die Tsodiloheuwels.

Mynbou

Die ekonomie van Botswana draai veral om diamante. Die mynbou lewer die grootste bydrae tot Botswana se ekonomie (sowat ’n kwart van die bruto binnelandse produk). Ander minerale wat ontgin word, is nikkel-koper, steenkool, goud, silwer, halfedelstene en graniet.

Gesondheid

MIV/vigs lei tot probleme in Botswana omdat daar so ’n hoë infeksiekoers voorkom. Dit het die lewensverwagting van die Batswana (die mense van Botswana) drasties gesny. Dinge het verbeter omdat die land een van Afrika se beste behandelingsprogramme vir mense het wat met MIV leef. Medisyne is ook nou beskikbaar.

Republiek van Botswana
  • Hoofstad: Gaborone
  • Bevolking: 2,25 miljoen
  • Grondgebied: 581 730 km²
  • Tale: Engels (amptelik), Tswana
  • Godsdiens: Christelik (77%), geen geloof (20%), inheemse gelowe
  • Lewensverwagting: 54 jaar (mans), 51 jaar (vroue)
  • Geldeenheid: Pula

Zimbabwe

Zimbabwe is ook ’n land wat omring word deur ander lande. Die moderne geskiedenis van Zimbabwe wentel om die onafhanklikheidstryd asook kwessies rondom mag en grond. Oudpres. Robert Mugabe het die politiek ná die land se onafhanklikwording van Brittanje in 1980 byna vier dekades lank (tot 2017) oorheers.

Zimbabwe
Zimbabwe se vlag.

Hongersnood

Zimbabwe se geografie behels hoofsaaklik savanna (tropiese grasveld) met heelwat bome danksy nat somers. Hoewel die land voorheen as die broodmandjie van Suider-Afrika beskou is, sukkel hy sedert 2000 om sy eie mense van genoeg kos te voorsien.

Langdurige droogte kan deels hiervoor die skuld kry, maar so ook die regering se katastrofiese grondonteieningsbeleid. Plase in die hande van kommersiële boere is afgeneem en aan burgers (en politici) herverdeel.

Die produksie van voedsel soos mielies en ander landbouprodukte soos tabak het daarna drasties gedaal. Die ekonomiese krisis en ongunstige politieke omstandighede het duisende Zimbabwiërs laat vlug om in ander lande (veral Suid-Afrika en Botswana) ’n beter heenkome te probeer vind.

Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy
Die indrukwekkende Victoriawaterval is ’n trekpleister vir toeriste. Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Moontlikhede

Ten spyte van die probleme bly Zimbabwe ’n land met potensiaal. As die land probleme soos wanbestuur, politieke inmenging, korrupsie en hiperinflasie kan oorkom, kan sy sektore soos die landbou, mynbou en toerisme weer floreer soos ’n kwarteeu gelede.

Die land het vrugbare landbougrond en is ryk aan minerale soos platinum, steenkool, ystererts, goud en diamante. Dié buurland is ook geseën met ’n betreklik goed ontwikkelde infrastruktuur en ’n bevolking wat ’n goeie opvoedingspeil bereik het.

Toerisme

Die natuurskoon van Zimbabwe sluit trekpleisters soos die Victoriawaterval (plaaslik bekend as Mosi-oa-Tunya, oftewel die “rook wat dreun”) in. Hierdie waterval is 1 708 m wyd, wat dit die grootste watergordyn ter wêreld maak. Dis in 1986 tot Wêrelderfenisgebied verklaar.

Die Karibameer, wat in die Zambezirivier aangelê is, is een van die wêreld se grootste mensgemaakte damme. Groot Zimbabwe, ’n antieke stad wat tussen die 11de en 15de eeu uit klip gebou is, beslaan ’n gebied van 7 km². Daar het eens op ’n tyd tot 18 000 mense in hierdie stad gewoon. Die antieke stad is ook tot Wêrelderfenisgebied verklaar.

Republiek van Zimbabwe
  • Hoofstad: Harare
  • Bevolking: 16,5 miljoen
  • Grondgebied: 390 759 km²
  • Hooftale: Engels (amptelik), Shona, Ndebele
  • Godsdiens: Christelik (84%), geen geloof (10%), tradisionele gelowe (4,5%)
  • Lewensverwagting: 60 jaar (mans), 64 jaar (vroue)
  • Geldeenheid: Verskeie word gebruik, veral die Amerikaanse dollar en Suid-Afrikaanse rand
TEKS: CUM LAUDE MEDIA; BRONNE: INFO-NAMIBIA.COM, BBC.COM, THEODORA.COM, GOV.BW, WIKIPEDIA.ORG, SIYABONA.COM; Foto's: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/ALAMY