Hoewel olifante dalk dieselfde lyk, word hulle in twee hoofgroepe verdeel: Afrika- en Asiatiese olifante. Die Afrika-olifant is groter as die Asiatiese olifant en het groter ore en meer hare aan sy lyf.

Olifante is sagmoedige reuse en baie emosionele wesens. Hulle rou selfs oor hul dooies en trompetter wanneer hulle ontsteld is. Die olifant is een van die Groot Vyf saam met die renoster, luiperd, buffel en leeu, waaroor ons jou vroeër geleer het.

Waar kom hulle voor?

Twee soorte Afrika-olifante word aangetref. Die Afrika-bosolifant kom op die grasvlaktes van Afrika suid van die Sahara voor. Hulle is heelwat groter as die Afrika-woudolifant, wat in die sentrale en westelike dele van Afrika voorkom.

In dié artikel kyk ons na die Afrika-bosolifant.

Olifant
Rooi: Afrika-bosolifant. Blou: Afrika-woudolifant.

Presies hoe groot is hulle?

  • Hulle kan 2,5-4 m hoog word.
  • Hulle weeg sowat 6 ton – dis omtrent vier keer so swaar soos ’n klein motor.
  • Hulle eet sowat 12 uur per dag. Hulle verorber elke dag 90-270 kg plante en drink 190 L water.
Olifant
Grootste olifant aangeteken: 4m. Die gemiddelde mens is: 1,7m.

Feite oor die olifant

Slurp

  • Die slurp bestaan uit senuwees, weefsel en duisende spiere. Dit het twee neusgate aan die punt vir asemhaling en is baie sensitief vir reuke.
  • Dit is met geboorte klein, maar word binne ’n paar dae langer. ’n Volwasse slurp is tot 2 m lank.
  • Die slurp word gebruik om voorwerpe te gryp en kan tot 350 kg oplig.
  • Olifante slurp water daarmee op om dit in hul mond en in warm weer oor hul lyf te spuit.
  • Hulle span ook hul slurp in om onderwater te snorkel en om modder as sonskerm oor hul lyf aan te wend.
  • Trompettergeluide word ook met die slurp gemaak.

Tande

  • ’n Olifant het 26 tande, insluitend sy lang slagtande. Hy verloor sy maaltande ses keer in sy leeftyd om plek vir groter tande te maak.
  • Hy gebruik sy lang slagtande om roofdiere af te weer. Die slagtande is van ivoor; daarom word olifante deur wildstropers gejag.
  • Die slagtande van die Afrika-olifant is sowat 2 m lank en kan omtrent 73 kg weeg. Elke olifant se slagtande lyk anders en ’n mens kan hul ouderdom skat deur die slagtande te bestudeer.
  • ’n Olifant kan óf regs- óf linkstandig wees, net soos ons regs- of linkshandig is. Die dominante slagtand is gewoonlik meer geslyt.
  • Die grootste slagtande wat al gevind is, was 3,5 m lank en het 120 kg elk geweeg.
Olifant
Foto: Gallo Images/Getty Images.

Ou grootvoet!

Die olifant se groot, ronde pote kan ’n omtrek van tot 1,3 m hê. Die pote het vyf tone, maar ’n mens kan dit nie sien nie, want dit is in die poot verberg.

Die voorpote het vier toonnaels en die agterpote drie. Die sponsagtige deel van die olifant se pote help hulle om saggies te beweeg.

Brein

’n Olifant se brein weeg tot 6 kg en is vier keer so swaar soos ons s’n. Olifante is intelligent – hulle kan tussen mense se stemme onderskei en probleme oplos.

’n Olifant het lang wimpers om te keer dat stof en sand sy oë irriteer. By party olifante ontwikkel ’n ring om die irisse (die gekleurde deel van die oog) namate hulle ouer word.

Kalwers

’n Olifantkoei is tot 22 maande dragtig en skenk die lewe aan ’n kalf wat meer as 100 kg weeg.

Olifant
Foto: Gallo Images/Getty Images.

Reuksin

Die diere het ’n goeie reuksin en kan waterbronne sowat 19 km ver bespeur. Hul reuksin is vier keer so sensitief soos dié van ’n bloedhond.

Die slurp het twee neusgate.

Bewaringstatus: kwesbaar.

Uitsonderlike ore

’n Olifant hoor buitengewoon goed – veel beter as mense – en kan baie sagter geluide hoor. Hulle kan ook baie harder klanke verdra. Die Afrika-olifant se ore groei tot dit sowat 1,8 m lank is.

Sosiale gedrag

Afrika-bosolifante leef in troppe van sowat agt tot 10 wat deur ’n sterk olifantkoei, bekend as ’n matriarg, gelei word. Die bulle verlaat die trop wanneer hulle tussen 12 en 15 jaar oud is en leef dan op hul eie of sluit by ander bulle aan.

Het jy geweet?
’n Olifant kan ’n mens aan sy gesig uitken en selfs ’n wrok koester teen iemand wat hulle seergemaak het.

Bronne: wonderopolis.org, elephant.elehost.com, defenders.org, africa-wildlife-detective.com, elephantvoices.org, kidzone.ws, elephantsforafrica.org, nationalelephantcenter.org, realclearscience.com, blog.londolozi.com, eleaid.com, scientificamerican.com, earthsky.org, kololo.co.za, wwf.panda.org, livescience.comseaworld.org, africageographic.com